Verder Geluister: Johannes 18:33-37

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 22 November 2009: Johannes 18:33-37

Christus die Koning

Hierdie teksgedeelte se fokus op die koninkryk en die aankondiging van Christus se koningskap, sluit aan by die Christus die Koning Sondag – die laaste Sondag van die kerklike jaar voor die begin van Advent – die seisoen waarin die koms van die Koning aangekondig word! Hierdie teks, hierdie spesifieke Sondag in die jaar en die seisoen wat voorlê, vra dat ons sal nadink oor koninkryk en  koningskap, en natuurlik oor die spesifieke aard van die koninkryk van God.
Hierdie is net ‘n klompie los gedagtes wat by my opgekom het met die lees van die teks en rondblaai deur die koerante van die week. Dit poog nie om nog ‘n preekvoorstel te maak nie aangesien Deon van Niekerk se preekstudie en voorstel voldoende is – hierdie is eerder gedagtes wat na vore kom as die teks met ons wêreld konnekteer:

  1. Pilatus se siniese reaksie in sy gesprek met Jesus, “been there, done that”, weerklink ook in hierdie tyd waarin ook ons dikwels onaangeraak reageer wanneer die koninkryk inbreek. Ons kan onsself seker verskoon dat dit veral is wanneer politici aanspraak maak op die waarheid, dat ons sinies reageer. Wie moet hulle na soveel kere se aansprake wat op niks uitgeloop het, glo? ‘n Mens voel ook om te vra – met alle eerlikheid – sou ons nie ook maar ewe maklik soos Pilatus opmerkings gemaak het dat die aanspraak op die koningskap en die waarheid van nog ‘n profeet ons eintlik maar koud laat nie?
  2. Ek is in die teks weer getref deur die onverwagse aard van die koninkryk van God. Teen die verwagting van die Jode, is die koninkryk nie gemik op die bevryding van die Jode nie, maar as getuienis oor die Waarheid van God se ontferming oor die ganse wêreld. Vir ons klink dit algemeen, vir die Jode van die tyd egter eintlik ‘n ommekeer van hulle bestaande wêreld of ten minste soos wat hulle die wêreld verstaan het. Die koninkryk van God breek onverwags in op ons, en keer ons wêreld op sy kop! Wanneer die koninkryk aangekondig word soos in hierdie teks, vra dit niks minder as ‘n bekering om daarop te reageer nie, of die waarheid daarvan te erken nie. Die feit dat die skare in die opvolgende verse eerder vir Barnabas, die misdadiger kies, onderstreep die feit dat dit makliker (lees minder gevaarlik) is om ‘n misdadiger vry te spreek as om ‘n Christus as koning te aanvaar.
  3. Jesus se koningskap het alles te make met die kruis – die teksgedeelte lê gebed binne-in ‘n uitgebreide lydens-narratief. Kyk gerus by https://communitas.co.za/index.php/blogs/315-moraliteit/1623 waar Pieter van Niekerk vertel oor sy ontsteltenis oor die beelde van die kruisdood van Christus in  die film The Passion. Die kruisdood is ‘n ontstellende ding.  Koningskap en kruis is nou nie eintlik begrippe wat in ons normale verstaan bymekaar hoort nie. Dit word ook eintlik nooit vir ons méér gemaklik om só daaroor te dink nie. Dat die koninkryk nie deur mag kom nie, maar deur die onmag van iemand wat alle mag prysgee, lê eenvoudig dwars op ons verstaan van die lewe. Word tog net realisties, hoor ek myself sê –  dit is nou eenmaal nie hoe dinge vandag werk nie – hoe jy mense beïnvloed nie. Dit klink mooi in ‘n lied, maar nie in die werklikheid nie. As ek hierdie koning ook as my koning moet aanvaar, as ek hierdie koninkryk ook as my visie op die lewe moet aanvaar, is die resultaat om die minste te sê, ontstellend.
  4. Meer werklik is die feit dat wêreldleiers in Singapoer by die  Asia-Pacific Economic Cooperation summit (APEC), ooreengekom het om nie die verwagte ooreenkoms oor ekologiese maatreëls te sluit nie – dit sou te onrealisties wees, is hulle konklusie. Kodetaal, volgens ‘n artikel in Time, dui daarop  dat hulle eintlik niks gaan doen nie! Lees meer hieroor by http://www.time.com/time/health/article/0,8599,1939573,00.html So kom die koninkryke van die wêreld ooreen om maatreëls te tref, net solank dit nie hulle sakke te veel raak nie.
  5. Gerrit Brand skryf ontstellend aangrypend oor die adjunkminister van polisie se verdediging van die  polisieman wat ‘n driejarige kind dood geskiet het. Magspolitiek word op ‘n moment ongevoelig, selfs blind. Ek haal hom volledig aan:
    “Skreiende woorde : ‘onvermydelike slagoffers’

Seker die ergste ding wat nog vanjaar deur ’n openbare figuur kwytgeraak is, is die adjunkminister van polisie, Fikile Mbalula, se reaksie op die tragiese gebeure van ’n driejarige kind wat per ongeluk deur ’n polisielid doodgeskiet is. Mbalula sou glo gesê het dat, in gevegte tussen polisie en misdadigers, dit “onvermydelik is dat daar onskuldige slagoffers sal wees”. Hy het dan ook die nuwe mode-uitspraak herhaal: Die polisie moet aanhou “skiet om dood te skiet”.

Die geval van die driejarige is besonder skreiend, maar dis nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Onlangs het polisielede, onder die indruk dat hulle op kapers losbrand, met sukses onskuldige insittendes van ’n motor wat toevallig in die omtrek was, “geskiet om dood te skiet”. Nou weet ek nie of gevalle soos dié regstreeks na die Cowboy-praatjies van ons leiers op die gebied van “sekuriteit” teruggevoer kan word nie, maar ek weet wel dat gebeure soos dié ons behoort te herinner aan wat op die spel is wanneer ons polisiemanne en -vroue tot skietlustigheid aangepor word.

Daar is goeie redes hoekom die polisie nie toegelaat behoort te word om na goeddunke te skiet nie. Die beperkings wat op hierdie gebied geld, bestaan nie in die eerste plek om gevaarlike misdadigers te beskerm (soos dikwels gesuggereer word) nie, maar om ons almal te beskerm – om mense soos daardie driejarige kind te beskerm. Is dit minder erg as ’n kind in kruisvuur tussen polisielede en bendelede sterf as tussen verskillende bendelede onderling?

Mbalula se uitspraak het my herinner aan die antwoord van ’n vakbondleier, ’n tyd gelede, op ’n vraag deur ’n radio-omroeper oor mense wat gedurende chaotiese protesaksie deur die betrokke vakbond dood is. Die vakbondman het gesê alle stakings het “casualties”, en dat mense dus nie verbaas moet wees as dit ook hier die geval is nie. Volgens die vakbondwoordvoerder moet die vergewer, wat nie aan die vakbond se billike eise wou toegee nie, eerder geblameer word. Dat stakings “casualties” het, is natuurlik waar – dit kos werkgewers én werknemers geld, verontrief die publiek, kan ’n land se beeld skaad en so meer – maar om sterftes weens geweld deur vakbondlede op dieselfde vlak te plaas skrei ten hemele.

Onvermydelik moet ek dan dink aan Jimmy Kruger, destyds minister van justisie (ja, justisie …) se reaksie op die dood van Steve Biko in aanhouding: “Dit laat my koud.” En aan die feit dat die laaste tyd heelparty verdagtes weer in aanhouding sterf – in die “nuwe” Suid-Afrika. Dit, en die amptelike skietlus van ons regering, verbind ek dan ook aan die plan om weer die ou militêre range in die polisiediens terug te bring. Dis alles tekens van ’n onheilspellende mentaliteit wat besig is om pos te vat.

Die ergste van alles is dat ’n mens nie juis stemme van protes hoor nie. Inteendeel, dit lyk asof mense hou van wat hulle hoor – ja, selfs dat sulke dinge ter wille van populistiese steun gesê en gedoen word. Hulle sê mos in ’n demokrasie kry die burgers die regering wat hulle verdien. Ek sou eerder sê “die regering waarvoor hulle vra”, want geen mens, hoe sleg ook al, kan so ’n boefagtige owerheid “verdien” nie.”

Frederick Marais

Seisoen van Luister Powerpoint

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment