Verder Geluister: Kol 3:1-4

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

`n Tweede kyk na Kol 3:1-4

Die teks vir komende Sondag is `n ryk en wonderlike een. Die konneksie met die opstanding is voor die handliggend, hoewel die teks ook soms vir hemelvaart gebruik word ogv die verwysing na Christus wat sit aan die regterhand van die Vader.

Johan Botha het `n baie deeglike studie van hierdie gedeelte in die Preekstudie-bundel gedoen en sy gedagtes oor elk van die drie stappe is besonder bruikbaar. Sy preekvoorstel is baie volledig uitgewerk en goed deurdink. Ek kan dit baie sterk aanbeveel en kan eintlik nie juis daarop verbeter nie.

Wat `n mens hoogstens kan doen, is om `n paar perspektiewe uit te lig wat in jou eie nadenke en besig wees met die teks, na vore gekom het.

    1. In my lees van hierdie verse (3:1-4) in hul breër verband, is dit vir my duidelik dat die vier verse `n begronding wil gee vir die oproep tot `n Christelike lewe in die nuutheid van die opstanding wat ons in 3:5v kry. Die intensie van die gedeelte in der breë was dus om die gemeente aan te spoor tot `n Christelike lewenswyse in oorstemming met die evangelie van Christus. Die begronding of rede wat vir die oproep gegee word, is die opstanding van Jesus. 

      Ons kan dus aanvaar dat die probleem wat die gedeelte wil aanspreek, is dat daar mense was, destyds al, wat hulself uitgegee het vir Christene, maar nie altyd soos Christene geleef het nie. Ek dink nie dat dit moeilik is om `n konneksie te maak na ons eie dag nie. `n Mens sou die kerk van ons dag se probleem op baie maniere kon beskryf. Maar hierdie een sou sekerlik aan die kern raak.  Ons sê ons glo in Christus, maar ons lewenswyse weerspieël dit nie altyd nie.

  1. Vir Paulus was dit moeilik om so `n situasie te aanvaar omdat hy geglo het dat veral die opstanding van Jesus die kerk wou en kon inspireer, en bring tot `n nuutheid van lewe. Deur sy kruis het Jesus nee gesê vir sonde – maar met sy opstanding het Hy `n tree verder gegaan en `n duidelike ja vir lewe, geregtigheid en liefde uitgespreek. Dus is dit moeilik om te aanvaar dat mense in Christus en die opstanding kan glo, en dat hul lewens nie verander nie.
  2. Hoekom sou dit wees dat mense so sukkel om in die nuutheid van die evangelie te leef?  Die geheim lê verseker in die konneksie met die opstanding van Christus! In die lees van die vier verse in hul wyer verband was dit egter vir my interessant om te sien dat Paulus tussen ten minste vier maniere van kyk na Christus, sy kruis en opstanding onderskei!

In die eerste plek praat hy hier oor die opstanding van Christus as `n eiesoortige historiese daad van God wat totaal buite ons toedoen om gebeur het. Ons hoor iets daarvan in 2:12 as Paulus praat van “die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het”. Daar kan moeilik iets tereg kom van nuutheid as ons nie glo in  hierdie uniek-historiese daad nie.

In die Kolossense-brief is daar `n baie sterk klem op `n tweede werklikheid rondom die opstanding wat Paulus wil belig. Hierdie heilsdaad van God is vir ons gedoen! Die Vader het ons en ons lot en ons toekoms in gedagte gehad toe Hy sy Seun gestuur het en Hom hierdie pad van die kruis en die opstanding laat loop het. Hy het ons “in Christus” gesien en vir Christus in ons (1:27) gesien. Ook Jesus self het heeltyd aan ons gedink toe Hy hierdie wedervarings deurgemaak het – Hy het dit vir ons gedoen. Hy het ons in sy hart en gedagte gehad toe Hy geleef het, toe Hy gesterf het vir die sonde, en toe Hy opgestaan het uit die dood. Daarom kan Paulus hier skryf: “in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid” (2:10); en “julle het saam met Christus gesterwe” (2:20); maar ook “God het julle egter saam met Christus lewend gemaak” (2:13).

Daar is egter `n derde manier van kyk en praat wat ons nie moet mis nie. Dat God en Jesus ons in gedagte het en genade en heil aan ons wil skenk, is nog nie te sê dat ons dit verstaan en glo en gereed is om dit te omhels, te ontvang en ons lewens daarvanuit te leef nie. Ons hoor alreeds plek-plek in hoofstuk 2 hierdie derde lyn. In vs 6 bv skryf Paulus “aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe” en in vs 7 waarsku hy: “Pasop dat niemand julle van Hom wegvoer nie”. 

Maar dit is veral in 3:1-4 dat ons hierdie oproep om in Jesus te glo en ons gedagtes en hart op Hom te fokus, baie helder en duidelik hoor.  Die twee uitdrukkings wat hier gebruik word is:

  • julle moet strewe na die dinge daarbo waar Christus is
  • en rig julle gedagtes op die dinge daarbo waar Christus is.

Hier word nie net verwys na iets wat God gedoen het nie, maar ook na iets wat ons moet doen. Dit gaan om die saak van geloofsdissiplines wat vandag ongelukkig in baie Christelike kerke nie die aandag kry wat dit moet kry nie.  Geloofsdissiplines is die oop deure waardeur die Gees God se gawes na ons bring, het iemand gesê.  Dit is die leë, maar verwagtende hande waarmee ons die genade wat ons lewens kan verander, ontvang.

Vierdens kry ons dan uiteindelik die verband tussen die opstanding van Jesus en `n nuutheid van optrede en lewe waaroor die gedeelte in 3:5v en veral 3:12 verder gaan.  Dit is `n groot deel van die bedoeling van die opstanding om ons op hierdie punt van lewensgedrag te help.  Maar wat ons moet verstaan, is dat ons nie onmiddellik van die eerste na die vierde punt kan spring nie.  Daar is twee stappe tussen in.

4.  My indruk is dat 3:1-4 die gelowiges veral wil herinner aan die belangrikheid van die derde stap, nl die geloofsdissiplines.  Ons kan dit ook anders formuleer en sê dat die geloofsdissiplines van ons vra dat ons van ons kant af ons verhouding met Christus en ons verbondenheid aan Hom sal eer as `n wesenlike en belangrike deel van ons lewe.  Ons kan nie verwag dat ons sal groei in ons geloof en dat die goeie vrugte daarvan gesien en gepluk sal kan word as ons geen tyd aan die verhouding spandeer nie en dink dat dit maar vir sigself moet sorg nie. 

As ons dan kyk na die twee uitdrukkings wat gebruik word, is daar `n paar opmerkings wat `n mens kan maak:

  • van die kommentatore meen dat hier verwys word na wat in ons hart aangaan (wat ons hart soek en begeer, vs 1b) en waarop ons gedagtes (vs 2a, engels: mind) gerig is.  Hierdie verse herinner ons dat `n mens kwalik kan groei in jou geloof of kan hoop om godvrugtig te leef as jy nie aandag gee aan wat in jou binne-lewe aan die gebeur is nie.  Jy kan nie hoop om `n betekenisvolle verhouding met Christus te hê as jou hart en gedagtes ongedissiplineerd hardloop waar hulle wil en flirteer met enige inhoud of objek wat verby kom nie.  Athanasius het al gesê dat ons mense se grootste probleme te doen het met die feit dat ons sintuie en passies in verkeerde rigtings gedraai is.
  • die oproep dat ons ons hart en gedagte moet rig op die “dinge daarbo” moet nie gesien word as `n wegvlug van die lewe nie.  Dit gaan eintlik om die “Een”  daarbo, Jesus, en dit wat Hy vir ons wil gee en moontlik maak.  Deel van wat ons leer as ons lank genoeg na Hom kyk is dat Hy die geheimenis van God is en dat in Hom alle skatte van wysheid en kennis te vind is (2:2,3), dat Hy die werklikheid is (2:17), dat die volheid van die Godheid in Hom woon (OAV 2:9), dat Hy ons lewe is en dat Hy ons hoop op die heerlikheid is (1:27).  
  • Daar is egter nog `n verdere wins in so `n gerigtheid op Jesus.  `n Gerigtheid op Hom help ons nie net om nuut na Hom te kyk nie, maar ook om deur Hom, nuut na onsself, na ons naaste en  na die lewe te kyk.  Skielik begin liefde, nederigheid en verdraagsaamheid teenoor ander sin maak; ons verstaan hoe belangrik vrede en eenheid onder mense is.  Ons begin verstaan wat verkeerde dinge soos gierigheid, wellus, woede en haat aan onsself en aan ander doen.  Ons begin die verhoudings in ons lewe nuut waardeer en werk daaraan om dit te verbeter (3:18-4:5).

5.  In my boek oor die hemelvaart van Jesus wat pas verskyn het, het ek heelwat met hierdie teks gewerk en die assosiasies is nog sterk in my geheue.  `n Sinsnede in die verse waaroor ek heelwat gedink en gelees het, is Paulus se woorde in vs 3 dat “ons lewe saam met Christus verborge is in God”.  Ek wil ten slotte twee opmerkings oor die geheimnisvolle woorde maak (sonder om daarmee te sê dat ek al die diepte van hierdie wonderlike belofte gepeil het!):

  • een betekenis, volgens uitleggers, is die frustrerende werklikheid dat dit wat ons glo en hoop (en dit sluit al vier die maniere van kyk na die opstanding waaroor ons hierbo gepraat het in!) nie altyd so evident en duidelik sigbaar is nie – sekerlik nie vir alle mense nie , maar soms nie eers vir onsself nie!  Geloof beteken dat ons vashou aan dinge (en veral aan Iemand) wat ons nie kan sien of selfs ervaar soos ons wil nie.  Die Bybel verseker dat wat Hy beloof, waar en betroubaar is, maar waarsku ons dat die werklikheid daarvan tot `n hoë mate verborge is in hierdie bedeling. Dit is so…
  • daar is egter ook `n tweede manier van kyk na hierdie uitdrukking.  Daar sit tog ook `n diepe troos in die vers.  Ons kan Christus en al sy beloftes gerus vertrou en ons kan maar waag om Hom te gehoorsaam – al voel dit soms of ons ons lewens op die spel plaas en dit sou kon verloor!  Dit sal nie gebeur nie, want niemand kan buite God se wil om iets aan sy kinders doen nie. 
    Sekerlik kan ander nie ons lewens, die lewe, van ons wegneem nie. Want ons lewens is saam met Christus verborge in God!

Coenie Burger


 

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment