Verder Geluister: Lev 19:1-2, 9-18

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Sondag 20 Februarie 2010 ~ Sewende Sondag na Epifanie ~ Verder Geluister: Lev 19:1-2, 9-18

Wees heilig. Dit klink so … so HEILIG. So verhewe. So groots. Regtig heilig wees? Ek? Op hierdie aarde? Nou en hier? In 2011? Dit klink soos ’n onbereikbare doelwit. ’n Droom. So ver buite my bereik. Veral nou en hier. Dalk eendag. Hierna. Maar selfs dit is maar moeilik. In die Rooms Katolieke Kerk is dit ’n baie lang proses. Jy moet al lankal dood wees. En jy moes baie wonderlike dinge gedoen het. Jy moes die kerk op ’n besondere manier gedien het. Dan eers kan jy verklaar word as ’n “Saint.” En ek is nie eers Rooms Katoliek nie! Ja, my kanse is nul. ’n Stralekrans op my kop sal ek nooit kry nie.

Nie net omdat ek nie Rooms Katoliek is nie. Veel eerder omdat ek glad nie so vroom is nie. Want ’n heilige behoort mos baie vroom en godsdienstig te wees. Behoort te groei in die uitvoering van die daaglikse geloofspraktyke. Die heilige praktyke. Jy moet elke dag die Bybel lees. Selfs meer as een keer sal beslis in jou guns tel om as heilig te kwalifiseer. Van tyd tot tyd moet jy ook vas. Natuurlik ook baie tyd in gebed deurbring. ’n Ware voorbidder wees. Gereeld in die erediens, biduur, bybelstudiegroep, selgroep kom. Op die kerkraad dien. Natuurlik is dit wonderlike dinge om te doen. Maar ek, ek sukkel so daarmee. Nee wat, vroom genoeg is ek nie om heilig te kan wees nie.

En dit is nie eers al nie. Om heilig te wees behoort jy mos die sonde te vermy. Al minder en minder sonde te doen. Al meer en meer te luister na “jy mag nie/jy moenie dit of dat doen nie”. Want God haat mos sonde. God veroordeel mos sondaars. Want God is heilig. En ek, so onheilig. Want ek sukkel so om nie sonde te doen nie. Trouens, ek word elke dag deur my eie sondigheid gekonfronteer. Nee wat, ek is te sondig om heilig te kan wees.

As ek my net kon afsonder van die sondaars. My kan isoleer. Nie in die kring van die spotters sit nie. Ja, as ek net ’n groter afstand tussen my en die slegte mense, die sondaars van hierdie wêreld, kan plaas. Dan kan hulle my mos nie so maklik verlei nie. Dan kan ek dit dalk maak. Ja, dalk moet ek myself tog aan die wêreld onttrek. ’n Monnik in ’n klooster word. Dan kan ek mos op God konsentreer. Maar ai, dit sal maar moeilik wees. Dit is glad te veel van ’n opoffering. Dink net wat alles gaan ek verloor, wat gaan ek mis. Nee wat, vir my is dit te lekker om in die wêreld van elke dag te leef om heilig te kan wees.

Maar wag, dalk kan ek dit tog maak. Ek kan mos darem dominee voor my naam skryf. Dit gee my mos darem ’n voorsprong bo die “gewone” Christene. Ek doen mos ’n heiliger werk as hulle. Ek is nou wel nie die pous, of ’n aartsbiskop, of ’n moderator of ’n professor in teologie nie, maar darem… En dan onthou ek met ’n skok dat Jesus nie eers wou hê die mense moes hom rabbi noem nie. Nee wat, nie eers my titel en posisie kan my as heilig laat kwalifiseer nie.

En dan tref die wonderlike gedagte my: Ek moet net vir die ANC stem. Dit is mos ’n heilige daad wat my hemel toe sal vat. So het ons President tog gesê. En as politikus en belangrike leier behoort hy mos te weet… En net om dubbel seker te maak dat ek heilig genoeg by die hemel aankom sal ek geen ander kaart as ’n ANC kaart saam met my vat nie. Die ANC is my redder! Amper soos vroeër. Toe was daar ook staatsmanne en ’n politieke party wat vir ons hemel op aarde beloof het. Dalk nie so prontuit soos onse president van vandag nie. Maar tog…witheid, blankheid is gesien as ’n soort van ’n heiligheid wat jou beter maak as ander. Daarom moes jy jou afsonder, isoleer van hulle wat nie wit is nie. Dit was sonde om met die ander kleure te meng. En baie van ons het dit toe-oë geglo. Ons was heilig. Daarom het ons vir onsself die titels “baas” en “miesies” toegeëien en die anderskleuriges met allerhande neerhalende titels aangespreek. En alhoewel die winde van politieke verandering oor ons land gewaai het, is daar nog baie van ons wat aan hierdie onheilige heiligheid vasklou. Selfs binne in die kerk. Daarom skop so baie van ons teen die aanvaarding van die Belydenis van Belhar. Sukkel ons so met kerkhereniging. En as ons uit die kerk is en ’n taxi druk onverskillig voor ons in dan toet ons en flikker die ligte. Ons is immers mense van die lig wat die onheiligheid duidelik moet uitwys. En so waar, die afgelope tyd was van ons die hardste en opstandigste skreeuers oor President Zuma se onheilige uitspraak. Hy is mos die toonbeeld van onheiligheid. So asof ons ons eie heiligheid bewys en verdien deur so hard te skeeu…

En, dankie tog, die VGK en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke het ook sy stem laat hoor en ’n verklaring uitgereik waarin hulle onse President aanvat oor sy onheilige uitspraak. Hoor ek ’n fluisterstemmetjie hier binnekant uitroep: Ditsem! Dit moes al lankal gebeur het. Mense uit sy eie geledere moet hom ’n slag goed aanspreek. En hoe wonderlik dat die VGK-leiers daarby die kiesers waarsku om hulle gewete voor God te ondersoek, om mooi te dink en hulself af te vra of hulle in die komende verkiesing vir enige party kan stem wat geen respek vir hulle geloof het nie. Dalk kan julle stem meer heilig wees.

Sjoe!, Dit voel of daar met my kop gesmokkel word. Net toe ek dink die ANC gaan verseker dat ek heilig is en hemel toe gaan, toe word enige so ’n gedagte op sy kop omgekeer. Wat nou? Dit is toe dat ’n paragraaf in die VGK-leiers se verklaring weer my oog vang:
“South Africa is no heaven under the ANC. Daily tears flow from the eyes of our citizens, because they are victims of murder and other types of violent crime. Poverty and unemployment increase day by the day. Children must attend classes in the open without anything decent to sit on. Delivery of services by the government is despicable to say the least. This is not heaven, if anything for many South Africans, this is hell.”

Heilig en onheilig. Hemel en hel. Lê die antwoord nie dalk hierin opgesluit nie? My oog dwaal weer oor Levitikus 19. So al lesende tref dit my: die dinge waaroor daar hier gepraat word, is alledaagse praktiese sake. Eerlikheid, omgee, versorging, regverdigheid wat in ons alledaagse handelinge met mense na vore moet kom. Teenoor ons naaste: ons volksgenote, ons werkers, die kwesbares om ons, die dowes en blindes, die armes en selfs die vreemdelinge. Aktief. Met dade. Van liefde. Moet ek die lewe vir hulle makliker maak.

Is dit nie juis wat Jesus kom doen het nie? Was dit nie juis die kern van sy bediening nie? Om iets van die hemel aarde toe te bring? Om dit in te dra in die alledaagse lewe van mense vasgevang in die een of ander vorm van hel? Is dit nie juis God se heiligheid nie? Sy totale andersheid? Wat God anders maak as alle ander gode? Dat God aktief betrokke raak by die nood van mense? Ja, dat God so vir hulle omgee dat God hulle bevry, uit Egipte, uit die sonde, uit die hel van die alledaagse lewe. Dit is mos wat Jesus vir my, ons almal kom doen het. Daar aan die kruis op Golgota. Daar het Jesus ons hel op hom geneem. Daar het Hy ons bevry. Daar het Hy ons heiligheid verdien. Daarmee het Hy reeds vir ons stukkies van die hemel op aarde kom skenk. Om dit te geniet. Om dit na te jaag. Om heilig te wees en te leef.
 
Ook hier in ons eie land. Ook hier smag so baie mense na stukkies hemel in die midde van hulle daaglikse hel. Slagoffers van geweld, van misdaad, mense vasgevang in armoede, werkloos, blootgestel aan swak mediese versorging, swak dienslewering, swak behuising en selfs huisloos, swak onderwys. Is dit nie juis die roeping, die heilige roeping van die kerk om in sulke omstandighede ’n verskil te maak nie? Sou die heilige God nie juis dit van jou en my verwag nie? Van ons gemeente? In ons plaaslike konteks? Om te help om armoede te verlig, om werk te skep, om huise te bou, om swak dienslewering te verbeter, om armer skole te help ophef? Om iets te gee om te eet aan hulle wat honger is, iets om te drink aan hulle wat dors is, om klere te gee aan hulle wat nie klere het nie, om die vreemdeling te huisves, om die siekes te versorg, die wat in die tronk is te besoek (Mat 25:31-46). Ja, nie om te probeer heiliger wees as ander mense nie, maar om ’n heilige verskil te maak in die alledaagse hel van so baie mense om ons. Nie net te kritiseer en die foute en sondes van mense uit te wys nie, maar om mekaar te help om positief te leef en ’n verskil te maak aan ons omgewing en ons land. Om stukkies van die hemel, van God se heilig wees, op aarde, hier om ons gestalte te laat kry.
 
VIR KINDERS
Heilig wees, is ’n abstrakte begrip en moeilik om vir kinders te verduidelik. Sommige mense probeer dit verduidelik deur te beklemtoon dat heilig is om, soos God, anders te wees, om minder sonde te doen en om meer godsdienstige handelinge te verrig. Dikwels word dit ’n negatiewe benadering wat kinders op allerhande stoutighede wys wat hulle moet los. Moet ons nie dalk ’n meer positiewe benadering probeer volg nie? Wat kinders eerder sal help om positief te kan leef. Dalk kan heiligheid verduidelik word deur te beklemtoon dat dit is om te doen wat Jesus sou doen, om te dink soos Jesus sou dink, om te praat soos Jesus sou praat veral teenoor mense wat swaarkry. ’n Storie uit Jesus se bediening kan vertel word om dit te illustreer. Om dit nog meer prakties te maak kan ’n storie vertel word wat getuig van ’n gemeente of ’n  individu(e), dalk van kinders, wat in hulle konteks ’n positiewe verskil gemaak het in die lewens van mense wat swaargekry het.

Jan Grobbelaar

Seisoen van Luister: Powerpoint

Geen verdere preekriglyne in argief

 

Trackback from your site.

Leave a comment