Verder Geluister: Luk 20:27-40

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Sondag 7 November 2010  ~ Drie en twintigste Sondag in Koninkrykstyd: Luk 20:27-40

Heerden van Niekerk se stuk in die Preekstudies bied vir ons `n baie goeie oorsig oor die uitleg van die gedeelte en oor van die wyer verband waarin dit verstaan moet word.  Ek meen ook dat die lyne wat hy voorstel vir die prediking baie bruikbaar en verantwoord is.  Dit wat hieronder gegee word steun sterk op sy insigte en wil gewoon `n tweede perspektief bied.

Hierdie is nie so `n maklike teks om te preek nie.  Daar is `n hele paar elemente in die teks wat vreemd voorkom as `n mens dit die eerste keer lees. Ons is nie gewoond aan die manier van argumentasie wat ons hier in die teks kry nie en die hele redenasie oor bv die leviraatshuwelik is vreemd vir ons – vergesog en amper `n bietjie belaglik.  Soms met die leesrooster het ek die gevoel dat die teks nie met my praat as ek dit die eerste keer lees nie.  Ek het met die teks ook so gevoel.

Met die Bybel is dit gelukkig so dat as jy weer en weer die teks lees, begin daar tog ligte aangaan.  Vir my het daar drie ligte aangegaan met die herlees en rustig bly sit by die teks.

  • Die eerste lig het te doen met die vraag van die Sadduseërs oor die moontlikheid van lewe na die dood.  Dit is natuurlik nie `n totaal vreemde vraag vir ons nie.  Ons almal ken mense wat ook hierdie soort vrae vra. Dit was blykbaar destyds al vir baie mense nie maklik om te glo aan goed wat `n mens nie kan sien en voel en aanraak nie. 
  • Wat meer is: as jy `n wyer prentjie van die Sadduseërs sien, kry jy die gevoel dat jy sulke mense ken.  Ryk, invloedryk, geleerd, eenvoudig net slimmer as ander – of so dink hulle. Sterk gefokus op die hier en nou.  Realiste. Ook polities – daarom dat hulle bereid is om kompromieë met die owerhede aan te gaan.  Soms lees `n mens dinge in die Bybel en jy dink: die lewe het ook nie so veel verander nie!

    `n Mens wonder nog `n entjie meer oor hulle vraag as jy onthou dat daar gewoonlik meer agter ons vrae sit as dit wat ons pertinent sê.  Dikwels is daar agter `n eenvoudige, duidelike vraag ook ander, dieper vrae en versugtinge wat gehoor wil word.   Ons weet reeds dat die Sadduseërs met die vraag oor die lewe na die dood eintlik ook punte probeer wen het in hulle geveg met die Fariseërs, maar sit daar nie dalk selfs nog meer agter die vraag nie?  As `n mens kyk na Jesus se antwoord kan jy wonder of “Hy wat alles van ons weet” nie dalk tog meer in die vraag gehoor het nie … Soos iemand gesê het: ”Jesus sometimes takes our question more seriously than we do”.

  • Die eerste deel van die antwoord wat Jesus gegee het, het ek verstaan maar dit het my nie so diep aangespreek nie.  Dalk is dit omdat ek baie lank al, baie gelukkig met een vrou getroud is en ek my moeilik `n gelukkige lewe kan voorstel sonder dat sy nie my vrou is nie! Ek verstaan wel die redenasie: omdat daar nie dood is nie, hoef daar nie lewe verwek te word nie – en daarom is die huwelik nie nodig nie. En verder ook dat die wonders en gawes van God dikwels onvoorstelbaar groter is as wat ons kan dink.
  • By die lees van die tweede deel van Jesus se antwoord het die tweede lig vir my aangegaan – en die lig skyn net helderder en helderder.  Dié is `n pragtige, slim antwoord – uit die hart van die Pentateug!  Hoe kan God die Vader van Abraham, Isak en Jakob genoem word as hulle al drie dood-dood is?  Dit kan tog nie wees nie.

    Maar wat Jesus sê is nog wonderliker: God is `n God van die Lewendes!  Wat my betref is “lewe” die woord wat ons hier moet hoor.  Dit is waaroor die hele “Projek Aarde” gaan: dat God lewe geskep het en lewe wil; dit is sy gawe aan ons.  En die manier om vir Hom dankie te sê is om tot sy eer te lewe en alle lewe wat Hy geskep het, te respekteer en te dien.  Ons kan dit reeds in die Pentateug hoor, wil Jesus vir die Sadduseërs sê, maar as hulle oë en ore oop is, sal dit hulle dit nog helderder sien in die lewe van Hom wat deur die Vader gestuur is en self die Weg, die Waarheid en die Lewe is.  Hy het gekom dat ons lewe kan hê en dit in oorvloed (Joh 10:10) – en vir ewig!

    Ek sou op dié punt probeer verduidelik dat die teks nie net bevestig dat daar `n lewe na die dood is nie, maar vir ons wil sê dat ons ook hierdie kant van die graf reeds die wonder van lewe moet sien en waardeer.  Die lewe gaan nie oor geld of roem of sukses of oorwinning wat behaal moet word nie.  Dit gaan daaroor dat ons die lewe wat God ons gee, sal ontvang uit sy hand, dit dankbaar geniet en dit probeer dien met al ons kragte.

  • Die derde lig het opgegaan toe ek G B Caird se kort kommentaar op die gedeelte gelees het.  Hy lê klem op die feit dat dit hier nie oor “lewe” in die algemeen gaan nie, maar dat een gestalte daarvan hier voorop staan.  Die laaste deel van die perikoop praat oor verhoudings!  Dit praat nie net oor die lewende God of oor die God wat lewe gee nie, maar oor `n God van die Lewendes!  Wat in hierdie lewe onverganklik en ewig is, is ons verhouding met die lewende God.  Wat is dit wat Jesus hier vir ons probeer sê?  Caird skryf:  “Jesus is saying, in effect: all life, here and hereafter, consists in friendship with God, and nothing less is worthy of the name of life.  Abraham was (a) friend of God and it is incredible that such friendships should be severed by death.  Death may put an end to physical existence, but not a relationship that is by nature eternal.  We may lose our friends by death, but not God.”

Die teks nooi ons almal nie net na geloof in die Bybel of selfs geloof in die Opstanding of geloof in `n Ewige Lewe nie – dit nooi ons na `n lewe in oorvloed, in gemeenskap met die Lewende God.  Dit is waaroor die lewe gaan – en beslis die plek waar alle standhoudende lewensvreugde begin.

Coenie Burger

Seisoen van Luister Powerpoint

Verdere riglyn in Preekargief

 

Trackback from your site.

Leave a comment