Verder geluister: Markus 7:1-23

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

‘n Klompie eksegetiese en hermeneutiese opmerkings

In die afbakening van Markus 7 as preekteks, moet dit liefs as geheel gelees en gepreek word -van vers 1-23. Die baie belangrike konsep van korban in vers 11 is onlosmaaklik deel van die hart van hierdie skrifgedeelte en behoort deel uit te maak van die afbakening.

Verder is dit noodsaaklik om die konsep van korban in Markus 7 (vertaal as offergawe vir God) te lees teen die agtergrond van die vyfde gebod. DJ Meyer skrywe in Woord teen die Lig (III/3) “dat Jesus in reaksie op die klag van die Fariseërs die vyfde gebod as voorbeeld gebruik om aan te toon hoe hulle die wet van God oortree ter wille van hulle oorlewering of tradisie.” Jesus val nie die reinigingskode aan nie, maar wel die Fariseërs se oorlewering (tradisie) daarvan.

Die korbanwetgewing het meegebring dat mens iets vir God afsonder wat dan meegebring het dat dit nie meer vir normale daaglikse gebruik aangewend kon word nie. Hierdie korban kon byvoorbeeld geld wees en dit hoef nie noodwendig na die tempel gebring te word nie, maar kon in eie besit bly. Só is die korbanwetgewing vroeg reeds misbruik. Só kon jy byvoorbeeld iemand systap wat op enigiets in jou besit aanspraak maak.

Die Fariseërs het die korbanwetgewing verdraai sodat ‘n persoon dit wat sy ouers toekom (teen die agtergrond van die vyfde gebod) as “korban” verklaar en daarmee homself vrystel van sy verpligting om sy ouers te help of te versorg. Dis belangrik om te onthou dat die Fariseërs die korbanwetgewing verdraai het om die tempel te verryk ten koste van die armes. “Die korbanwetgewing word hiermee verhef bo die eis van die wet van God, naamlik liefde vir die naaste,” skryf DJ Meyer. Die tweede tafel van die Tien Gebooie handel mos oor die liefde vir die naaste. Die tradisie of oorlewering as sodanig is dus nie verkeerd nie, maar dit word verkeerd wanneer dit bo die primêre aanspraak van die wet van God verhef word.

In die Markusevangelie word skrifgeleerdes dikwels aangeval omdat hulle God se wet verkeerd geïnterpreteer het. Hierdie vertolking was nooit (soos vandag nog!) geen onskuldige affêre nie. Bepaalde belange word altyd gedien deur veral die gesaghebbende vertolking van die Here se wet. Die Fariseërs het verder die mondelinge tradisie halaka as gelykgestel aan die wet beskou, en dit dikwels beklemtoon ten koste van die wet. Die reinigingskodes was dikwels vir die gewone Jood ekonomies moeilik om te onderhou, terwyl dit vir die gesaghebbende interpreteerders van die tradisie en die wet bepaalde ekonomiese en ander voordele meegebring het.

Agter die lees, vertolking en verdraaiing van die tradisies, skrifte en wet van God is daar dus ‘n magstryd aan die gang. Jesus verkondig die koms van die koninkryk van God wat naby gekom het (1:15). God se heerskappy daag die maghebbers van die dag uit. DJ Meyer meen in “Markus word die wonders van Jesus sterker op die voorgrond gestel as sy woorde, sodoende word die aandag gevestig op sy Goddelike gesag. Hy (her-) interpreteer die wet van God (in die bergrede), vergewe sondes, spreek Hom uit teen seker wette en oorlewering en stel dit kragteloos.”

Binne die verband van Markus 7 is die verhouding van reinheid tot onreinheid baie belangrik. Lees gerus wat Jerome H. Neyrey hieroor skryf deur op die volgende skakel te klik: http://www.nd.edu/~jneyrey1/symbolic.html

Die Fariseërs het mense in twee groepe verdeel op grond van die reinigingskode: die reines en onreines. Uiteindelik is dit groepsidentifikasie wat agter dit alles sit. Die reines is die godsdienstige elite en hulle is verhef bo die onreines. Jesus skaf hierdie grenslyne tussen rein en onrein radikaal af en verbreek daarmee die sosiale grense wat die Fariseërs en skrifgeleerdes opgestel het. In die plek hiervan dien die persoonlike verhouding met God nou as die sentrum.

Meyer stel dit uitstekend wanneer hy skryf, ” Die mens wat godsdiens as die nakom van reëls, regulasies en verpligtinge beskou, kry hier te doen met Hom vir Wie godsdiens eenvoudig beteken om God en die naaste van harte lief te hê.” Meyer se studie is gepubliseer in ‘n uitgawe van Woord teen die Lig wat fokus op die prediking oor regverdiging en reg. Dit is in 1993 gepubliseer en dit sou uiters interessant wees om te sien hoe predikers in 2009 oor dieselfde teks sou preek teen die agtergrond van regverdiging en reg!

Wat lekker is van dié studie van Meyer, is dat hy sy preekmoontlikheid ontwikkel met die Belharbelydenis in die agtergrond. Op die oomblik is hierdie belydenis vir baie mense in die NG Kerk ‘n steen des aanstoots. Van oral kom die rapporte dat NG lidmate se probleem met die Belharbelydenis simbolies van aard is. Hier is ‘n geleentheid om in ‘n preek vir lidmate te wys dat die Belharbelydenis nie vasgeketting hoef te bly binne ‘n enkelvoudige interpretasie daarvan nie. Ons moet die Belharbelydenis help ontworstel aan die enkelvoudige simboliese waarde wat dit binne die persepsies van lidmate sou hê. Menige dominee het al vir my gesê hulle is “moeg” vir hierdie gesprek en die emosionele reaksies wat dit telkens by lidmate ontlok, met die gevolge daarvan vir die dominee binne die realiteite van die plaaslike gemeente!

Hier is dus ‘n geleentheid vir predikers om die Belharbelydenis in te span buite die tradisionele gesprek van kerkeenheid asook die voortgaande gesprek tussen die VGK en die NGK. Dalk, net dalk, kan ons op dié wyse die Belharbelydenis die simboliese eiendom van beide die VGK en die NGK begin maak!

Meyer se preekvoorstel:

Meyer gebruik die volgende vraag as uitgangspunt vir ‘n moontlike preek n.a.v Markus 7:1-23: “Wat behoort leer en lewe te reguleer? Menslike tradisies (oorlewerings) of die Woord van God?” Dan haal hy aan uit artikel 5 van die Belharbelydenis:

Ons glo dat die kerk geroep word om dit alles te bely en te doen, in gehoorsaamheid aan Jesus Christus, sy enigste Hoof, al sou ook die owerhede en verordeninge van mense daarteen wees en al sou straf en lyding daaraan verbronde wees.”

Hy lig dan die beginsels van die Koninkryk van God uit as beginsels wat staan teenoor dié wat vanuit die oorlewerings of tradisies ontwikkel:

  • Reg en geregtigheid
    • Die noodlydendes moet beskerm word teen onreg, uitbuiting, berowing van menswaardigheid en basiese lewensmiddele
    • Dis interessant om te sien hoedat hierdie prentjie enersyds verander het, maar andersyds dieselfde gebly het sedert 1993 toe Meyer se studie gepubliseer is.
    • Die uitdaging is om konkreet in ons eie konteks te kyk na voorbeelde van onreg en uitbuiting teen noodlydendes.
  • Versoening en vrede
    • Vir Meyer gaan dit hier oor die manier waarop die Fariseërs die reinigingskode of oorgelewerde gebruike aangewend het om skeiding tussen mense te bring.
    • Teenoor die Fariseërs staan Jesus vir wie die skeiding alleen by die harte (geloof) van mense lê en nie by uiterlike faktore (kultiese handelinge, kleur, status, afkoms ens) nie.
    • Dit val op dat al hoe meer mense in Suid-Afrika op grond van gemeenskaplike belange anderkant ras en klas begin saamstaan ten gunste van versoening, vrede en geregtigheid.
    • Dit is die bedoeling van Markus 7:1-23. Dit is ook die bedoeling van die Belharbelydenis.

 

Dit sal ‘n groot wins wees indien ons in die NGK kan begin dink oor die Belharbelydenis as simboliese uitdrukking van ons identiteit in Christus – maar dan binne ‘n raamwerk GROTER as bloot die historiese verlede (alhoewel dit ook ons hartseer, dog hoopvolle verlede insluit)…

André Agenbag

PowerPoint aanbieding

Trackback from your site.

Leave a comment