Verder Geluister: Markus 7:24-37 – God se krummelvreters

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

 

 

 

 

9 Sept 2012 ~ Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd ~ Markus 7:24-37 – God se krummelvreters

Dit is belangrik om in ag te neem dat die twee verhale, wat albei in heidense gebiede afspeel, volg op Jesus se herinterpretasie van wat mense onrein maak in die voorafgaande gedeelte (7:18-23). Jesus se siening dat niks ekstern mense onrein kon maak nie, het naamlik kontak met heidene moontlik gemaak. Vervolgens kon Jesus sy bediening voortsit in die gebiede van Tirus en Dekapolis. Tirus was in Fenisië geleë noord van Galilea aan die Middellandse see. Dit was ‘n heidense gebied wat volgens Josefus die geswore vyand van die Jode was. In Tirus word Jesus – wat incognito wou wees – deur ‘n Griekse vrou, wat in Siro-Fenisië gebore is, genader wat by Hom pleit dat Hy haar dogter moes bevry van ‘n onrein gees (vers 25).

Die Griekse vrou se dogter was nie net onrein omdat sy ‘n heiden was nie, maar ook omdat sy ‘n onrein gees gehad het. Geen Jood sou met haar kontak wou hê nie. Haar ma se versoek om haar bevryding was egter ‘n billike een – wie sou nie ‘n jong meisie wou bevry van ‘n demoon nie? ‘n Mens sou daarom verwag dat Jesus aan haar versoek gehoor sou gee – Hy het immers reeds in 5:1-20 ‘n heidense persoon van ‘n onrein gees in ‘n heidense gebied bevry. Daarom is Jesus se weiering onverwags en skokkend (vers 27). Nog meer skokkend is die wyse waarop Hy dit doen. Anders as die Jode wat “kinders” is, was die besete meisie volgens Jesus ‘n (“kunariois”). In Joodse literatuur is honde in die reël negatief beskou en was “hond” ‘n skelnaam vir heidene.

Die vrou gryp egter dié belediging aan deur te verklaar dat honde van die krummels wat van hulle meesters se tafels afval mag eet. Sy fokus nie op Jesus se uitspraak wat verklaar het dat die kinders eers versadig moet word nie (en die heidene dus later nie), maar op Jesus se tipering van haar en haar dogter as honde. Sy wys Jesus daarop dat honde dikwels van die krummels eet terwyl ‘n fees aan die gang is. Sy vra dus nie om later ‘n deel gelykstaande aan die van die Jode te ontvang nie, maar wel dat Jesus nou reeds ‘n klein stukkie genade aan haar dogtertjie sou betoon.

Op literêre vlak is dit opvallend dat die woord vir brood (6:37, 38, 41, 44, 52; 7:2, 5, 27; 8:4, 5, 6) en om versadig te wees (6:42; 7:27; 8:4, 8) deurlopend sedert die eerste voedingswonder in die Markusnarratief voorkom. Jesus verrig ‘n hele reeks van voedingswonders wat mense versadig laat in die fisiese sin, maar ook in die geestelike. Daar is uitleggers wat daarop wys dat met die eerste voedingswonder is dit die Jode wat versadig word (6:42), waarna diegene teenwoordig by die tweede (moontlik heidene as gevolg van die geografiese ligging van die wonder) op hulle beurt versadig word (8:4, 8). Ander uitleggers sien dié uitleg egter as te subtiel om Markus se bedoeling te gewees het.

In reaksie op die vrou se antwoord gun Jesus haar, haar wens. Hy verdryf die demoon uit haar dogter sonder om haar eens te sien. Jesus verloor dié woordewisseling met die vrou. In alle waarskynlikheid het Markus Jesus se woorde aan haar oor die hondjies as ironies gesien – ‘n uitnodiging tot gesprek – in die lig van sy voorafgaande weergawe van Jesus se verstaan van reinheid en sy bestaande bediening aan heidene.

Ná die insident in die gebied van Tirus het Jesus noordwaarts na Sidon toe gegaan en van daar na die oostekant van die See van Galilea, na die gebied van Dekapolis (vgl. 5:20). In die gebied van Dekapolis, wat ook grootliks ‘n heidense gebied was, is ‘n dowe man na Hom toe gebring (vers 32). Anders as met die Griekse vrou, reageer Jesus hier onmiddellik positief op mense se versoek dat Hy sy hande op die man sou lê. Hy vat die man eenkant toe, kyk op na die hemel (as simbool van die hemelse oorsprong van sy gesag om te kan genees), sug (‘n teken van ernstige gebed) en steek sy vingers in die man se ore en smeer spoeg aan sy tong. Daarna roep Hy in Aramees uit: Effata! wat ”gaan oop” beteken. Onmiddellik gebeur dit ook – die man se ore gaan oop en hy kan reg praat (vers 33-35). Hierop belet Jesus die mense om daarvan te praat, maar hulle ignoreer Hom. Jesus kan oënskynlik stommes laat praat, maar nie pratendes laat swyg nie. Die geneesde man se mense was só aangegryp dat hulle alles wat Jesus gedoen het as ”goed” beskou het (vers 37). Wie sou met hulle verskil oor dat waar heidene – voormalige krummelvreters – bevry en genees word en aan God se tafel verwelkom word dat dit nie alles baie goed is nie?

Marius Nel

Preekriglyn in Argief: https://communitas.co.za/wp-content/uploads/2012/09/Markus%2007_24-37.doc

Markus 7:24-37 – 15de Sondag in Koninkrykstyd (Skepping 2) – 9 September 2012

Markus7_24-37Daar is 4 opsies vir die Familietyd, waarvan veral die verhaal van Nemo in die fliek “Finding Nemo” ’n goeie oorgang na die inleiding van die preekriglyn verskaf. Philip Yancey se verhaal van die visse van sy akwarium wat hom gevrees het, ten spyte van al sy moeite vir en namens hulle, gee ’n uitstekende vertrekpunt om oor Jesus se inkarnasie te gesels. Soos Philip stadig begin besef het dat om hulle vrees vir hom te verander, sou hy ‘n vis moes word en met hulle praat in ‘n taal wat hulle kon verstaan, só het God dit in Jesus gedoen. Dit is waarom beide Jesus se woorde en sy dade, veral dié dade van genesing so belangrik was. Só kon mense God in Hom herken en begryp dat die koninkryk van God inderdaad naby aan hulle in Jesus gekom het. Dit is wat ons woorde en dade ook vir ander moet beteken: dat God in ons woorde en dade naby aan hulle kan kom.

Markus 7:24-37.ppt 1.47 MB Sep 02, 2012 20:12 Download
Markus 7:24-37.pptx 965.87 KB Sep 02, 2012 20:11 Download
Markus 7:24-37.doc 122 KB Sep 02, 2012 20:10 Download

 

 

 

 

 

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment