Verder geluister: Mat 28:1-10 – Opstanding – een van die grootste dekonstruksies ooit

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Hulle beywer hulle daarvoor dat mense mekaar veel eerder moet probeer vind rondom die vraag hóé ‘n mens moet lééf, as rondom die vraag wat die korrekte leerstelling of selfs belydenis is.

Ek weet daar is kerkmense wat sulke opmerkings ontstellend vind. Wat voel dat ou gevestigde waardes en geloofsoortuigings hierdeur ondergrawe word. Dat die kerk onder druk geplaas word. Ens. Ek het begrip hiervoor.

‘n Mens moet egter erken dat, teenoor hierdie ingesteldheid om mensgemaakte strukture wat sekuriteit gee, te omhels, daar ‘n toenemende skeptisisme is.

Maar toon dít nie juis raakpunte met die opstandingsgeloof nie? Vertel die evangelie nie juis vir ons dat die opstanding ‘n omverwerping is van sekere mensgemaakte godsdienstige strukture of sisteme nie?

Die verhaal van Jesus, soos oorvertel deur die evangelieskrywers, gaan nie net oor Jesus wat oor tyd bewus geword het van sy messiasskap nie, maar dit gaan ook oor sy volgelinge wat worstel om sin uit sy boodskap te maak. Aan die een kant is hulle deur Hom gefassineer, andersyds probeer hulle beheer oor Hom kry en Hom kaap vir húlle politiek-godsdienstige agenda. En dis nie Jesus se vyande nie, maar sy familie, vriende en dissipels.

Sy gesin wou van Hom ‘n familieman maak – dan verras Hy deur te verwys na die mense rondom Hom as sy familie!

Sy dissipels wil van Hom ‘n politieke messias maak, maar dan begin Hy oor sy lyding praat. Petrus keer en sê dat dit nie met Hom sal gebeur nie, want so iets pas mos nie by ‘n sterk politieke messias nie!

Jesus se intog in Jerusalem en die tempelreiniging het waarskynlik die indruk by die dissipels gewek dat hier iets groot aan die kom was. Want dís wat hulle wou sien. En toe volg sy kruisiging – maar selfs dít kon hulle moontlik verklaar as ‘n groot martelaarsaksie. Alles het hulle binne húl verwysingsraamwerk probeer inpas en verklaar.

En toe die opstanding … menslike skemas is eintlik hierdeur omver gegooi. Dit was iets totaal onvoorspelbaar. Onbeheersd. Jesus verskyn op die vreemdste plekke. Op die vreemdste maniere. Hy is dáár, maar Hy ontglip ook. Sy lewe neem verrassende wendings. Dis onvoltooid! Hy is Een wat nie tussen grense vasgepen kan word nie. Ook nie inpas in die magsgrepe van mense nie. Jy kry Hom op die mees onwaarskynlike plekke en tye onder die mees onwaarskynlike mense. God is nie ‘n God van die status quo nie. Is dit nie dekonstruksie nie?

In die lig hiervan het ek begrip vir andersdenkende mense. Mense op reis. Op pad. Wie hou van die onbekende. Vir wie die onbekende juis die belofte inhou dat dit met geloof en hoop gevul sal word. Vir wie nuwe horisonne wink. Hierdie pad bly vir die andersdenkendes ‘n uittog, eerder as ‘n aankoms.

Hierdie pad gaan oor mense wat soek. Dikwels brawe mense. Dapper. Hulle probeer heeltyd “van buite” die tekens van die tyd lees en interpreteer, soos Jesus.

Dis normaalweg persone wat diep nadink oor wié die mens is, waaroor die lewe gaan en waartoe ons geroep word. Hulle loop hierdie pad met hulle héle menswees.

Drome en stories is deel van hierdie pad. Hierdie weg word nie net uitmekaar gehaal en oordink nie, maar word ook omhels en liefgehê – want dít is die beste plek waarbinne lewens kan groei. Dit gaan nie soseer oor die mens wat ken nie, maar eerder om deur Iemand geken te word.

Sulke mense strewe om die wonder van die verrassende van die Gees te beleef – fluisterende winde wat kom van en gaan na plekke wat niemand ken nie. In vryheid word die ritmes van oor en oor doen en weer en weer dink, omhels.

Hulle loop dikwels stroom-op na die lewe …

Sulke mense waak daarteen om nie dít te word waarteen hulle ander waarsku nie. Om mense nie in vaste patrone te giet nie. Hulle wil ruimtes skep waar bevrydes nie weer slawe word nie. Waar mense nie in die naam van God mág en voorspoed aanbid en net vra wat vir húlle daarin is nie.

Hulle is feitlik sonder uitsondering mense wat die pad van liefde, vrede en geregtigheid loop. Liefde en vrede raak vir hulle leeg en nikswerd as dit nie saam met regverdigheid, eerlikheid en opregte nederigheid gaan nie. Hulle is ongemaklik met mense wat af-praat op ander!

Dis persone wat versigtig is om “mensgemaakte waarhede” te verhef tot Goddelike status. Want hulle weet: die volgende stap is gewoonlik om ander dan volgens hierdie formules, námens God, te beoordeel en selfs te veroordeel. En hulle weet dat die eie geloof altyd die toets slaag, terwyl die andersdenkende s’n dikwels nie aan hierdie vereistes voldoen nie!  

Dis mense wat ontdek het: jy kan eintlik nie vir God ontsluier nie, maar die mens met sy oortuigings kán jy ontmasker. Natuurlik teen ‘n prys!

Historiese verandering gaan vir hulle gepaard met kontinuïteit sowel as diskontinuïteit. Dit gaan oor nuwe toekomsdrome en -moontlikhede sowel as vertroudheid met en herontdekking van die verlede. Hulle strewe om dit wat kóm, met dit wat wás, te omhels. Dit beteken dat paaie wat al vergeet is, weer geloop kan word. In die gisters lê die môres.

Die verstaan van geloof in ‘n nuwe tyd fokus dus vir diegene op die herontdekking van insigte wat nuwe betekenis kry in die lig van die eise van ons dag.

Hulle onderskei tussen gesonde lering wat in verwondering só verwoord, dat daar ruimte vir geloofsdiversiteit is – en ongesonde dogma wat ten alle koste probeer vasmaak en voorskryf met min of geen ruimte vir eie individuele verstaan en belewenis. Dis mense wat met fyn woordkeuse die betekeniswêreld van ander wil verruim, in plaas daarvan om dit tóé te skryf.

In die Bybel hoor hulle inspirerende woorde oor dié God wat ‘n mens duskant die eindtyd nooit regstreeks kan leer ken nie, maar slegs deur die taal van metafore, poësie, die liefde en geloof.

Kom ons werk hierom sagter en met meer begrip met mekaar. Só kry die voller omvang van Jesus se opstanding, genade en liefde, dalk net groter gestalte in ons lewe!

Chris Jones

 

Bronne: InVia Manifesto; Jones, C. Kerkbode: 20 Augustus 2010; Müller, J. Opstanding; Van Niekerk, A. Geloof sonder sekerhede. Besinning vir eietydse gelowiges

Seisoen van Luister PowerPoint

Geloofsbelydenis

Vorige Preekriglyn

Vorige SVL PowerPoint (2008)

Trackback from your site.

Leave a comment