Verder geluister: Psalm 116 – van dood na lewe

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Hier by ons is dit herfs. Die natuur gaan in rus in met ‘n kragtige vertoning van oranja-bruin herfsblare.

Dis juis ‘n tyd waarin mense emosioneel sink. So, met die winter wat voorlê, word mense depressief en angstig.

En daarom is dit juis ‘n tyd waarin ons mekaar aan die boodskap van Paasfees moet herinner: die lewe is sterker as die dood. Daar is redding uit angs. Daar is oorwinning oor depressie.

Dis gepas om Psalm 116 te lees op hierdie tweede Sondag na Paasfees. Want in Psalm 116 lê hierdie boodskap al vir eeue opgesluit: God maak ons sterk teen die angs. God red ons van die dood.

So sterk is hierdie boodskap van Psalm 116, dat die eerste Christene dit feitlik direk met Jesus se dood en opstanding verbind het. Roep Jesus nie volgens Markus 14:36 uit “Abba, Vader, vir U is alles moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg” nie? Herroep Jesus nie hier Psalm 116 en die Psalmis se uitroep na God om hom te red nie? Is daar nie in Psalm 116:13 ook van ‘n beker sprake nie?

Wat ook al die ooreenkomste tussen Jesus se woorde voor sy kruisiging en Psalm 116, dit is inderdaad die moeite werd om Psalm 116 hierdie tyd van die jaar te lees. En die lieflike vertroostende boodskap van God se mag oor angs en dood daarin te verinnerlik en in ons harte en koppe te bêre. Dat ons kan kans sien om elke dag die pad van die lewe te loop met sterk harte.

Psalm 116 het ‘n baie sterk en interessante struktuur, soos die meeste Psalms maar het. Dis in vier netjiese dele ingedeel, en draai om die tema van dood en lewe.

Die eerste deel is verse 1 tot 4. Die Psalmis roep om genade. Hy roep om redding. Die dood is rondom hom. Die kommer omsingel hom.

Die tweede deel is verse 5-9. Die Psalmis vind God. Die man wat in vers 1 om genade geroep het, vind ‘n genadige God in vers 5. Die mens wat aan die einde van die eerste deel van die Psalm in vers 4 uitskree na God, “Red my lewe!”, weet aan die einde van die tweede deel in vers 9 dat hy saam met die Here “in die land van die lewendes sal wandel”, dit is, die pad wat die lewe sal loop.

Die derde deel is verse 10 tot 14. Die Psalmis begin dit deur te sê dat sy geloof hom gered het. Dat hy bly glo het, al het hy gedink dis klaar met hom. God het hom gered, en daarvoor wil hy al sy geloftes aan God nakom. Hy wil dit in die openbaar doen sodat almal dit kan weet.

Die vierde deel is verse 15 tot 19. Mense wat die Bybel uitlê, sê dat ons nie in vers 15 van die “dood” van die gelowiges moet praat nie, maar dat ons in plaas van die Hebreeuse woord vir “dood” in die teks, eerder die Aramese woord vir “geloof” moet lees. Die woorde lyk dieselfde, maar Psalm 116 is eintlik vol Aramese woorde. God wat ‘n behae het in die “dood” van sy troue dienaars maak nie eintlik hier sin nie, aangesien die Psalm juis gaan oor die lewe se oorwinning oor die dood. Dit maak meer sin dat God hom verheug oor die “geloof” van sy trouelinge. En dit beteken dan ook dat die vierde gedeelte met ‘n verwysing na “geloof” begin (vers 15), net soos die derde gedeelte (vers 10) ook begin met ‘n verwysing na die Psalmis wat sê dat hy oorleef het deur in God te bly glo.

Net soos die derde gedeelte, eindig die vierde gedeelte ook met die Psalmis wat sy geloftes aan God wil nakom, en dit in die openbaar wil doen. Hier noem hy die plek by name: Hy wil dit in die huis van die Here in Jerusalem doen.

Dit lyk dan vir my of daar in hierdie tyd na Paasfees ten minste drie temas uit Psalm 116 is wat tot ons kan spreek.

Die eerste is dat God na ons angste luister. God beskou dit as belangrik en los ons nie maar om te sterf van angs nie. Hy wend sy oor na ons. Hy tree op. Hy maak die pad van die lewe weer vir ons oop. En ons kan dit maar glo.

Die tweede tema is dat God ons aan die lewe help deur ons aktief te maak. Die Psalmis is verlam van vrees. Hy voel magteloos. Hy is tipies depressief. Hy sien nie lig nie. Hy sien nie kans vir die lewe nie. Hy het geen rus nie. Sy probleme en angste bly deur sy kop spoel, oor en oor. Maar met God se intervensie word hy aktief. Hy begin wandel. Hy glo. Hy besef. Hy getuig. Hy betuig dank.

Die derde tema is ‘n vraag wat ons onsself gerus in hierdie tyd in ons gemeentes kan afvra. En dit is: Hoe betuig ons ons dank aan God wat ons die lewe bo die dood gegee het? Elkeen van ons glo in God se mag en in Christus se verlossingswerk. Maar hoe kan ons dit hier in die kerk kom betuig?

Christina Landman

Seisoen van Luister PowerPoint

Trackback from your site.

Leave a comment