Verder Geluister: Psalm 133 ~ Dit is wys om te hoop

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Sondag 15 April 2012 ~ Tweede Sondag van Paastyd ~ Psalm 133

Dit is wys om te hoop

Ek het eenkeer iets gelees wat min of meer so klink:  Wysheid kan in twee woorde opgesom word … skoonheid en hoop.
Sjoe, sal julle sê, hier word nou dinge bymekaar gegooi wat ons nie gewoonlik by mekaar uitbring nie.  Wysheid … skoonheid … en hoop.  Wat het dit met mekaar te doen?

Psalm 133 bring wel hierdie drie dinge met mekaar in verband.  Dis ‘n wysheidspsalm wat die wysheid wat dit verkondig, met pragtige, skone beelde illustreer.  En dan vir ons aandui dat ons hoop in hierdie wysheid lê.  Dat ons kan hoop op God se seën en ‘n lang, lang lewe as ons die skoonheid van hierdie wysheid insien.

Die wysheid waarop Psalm 133 gebaseer is, gaan terug na die familie, die gesin.  Kyk hoe goed is dit, sê die psalmis, dat gesinslede in harmonie met mekaar saamwoon.  Dis beter as goed, dis mooi!

Dit lyk of, toe die psalm geskryf is, die gesinslewe in Israel aan die agteruitgaan was.  Dis dié dat die psalmis hulle aan hierdie goeie ou wysheid wil herinner:  Dít is die wyse ding om te doen.  Dít is wat ons as gemeenskap nog altyd laat oorleef het:  om as broers eensgesind saam te woon.  So 1000 jaar plus voor Christus, in Saul se tyd, was die familiebande nog sterk.  Maar teen die tyd van Deuteronomium, dit is so 700 jaar voor Christus, moes wette vasgelê word om die gesin te beskerm omdat dit begin agteruitgaan het.  Dit is min of meer uit daardie tyd wat ons psalm stam.  Of miskien kom dit uit ‘n latere tyd, toe die Jode uit ballingskap uit Babilon teruggekom het, so iewers 500 plus jaar voor Christus, en Nehemia die Joodse gemeenskap wou herstel, en op vaste familiewaardes grond.

So, die psalm lê vir ons ‘n wysheid vas.  Maar dit fokus ook op skoonheid.  Dit gebruik skoonheid om die wysheid te versterk.  Dat broers eensgesind saamwoon is net so mooi soos die reukolie wat van Aäron se kop in sy baard afloop tot by die soom van sy klere.
 
Vir ons klink dit dalk ‘n bietjie grusaam.  Wat kan erger wees as iemand van wie se kop die olie afdrup, met hare vol brillcream en ‘n olierige baard, en sy klere nog vol oliekolle ook.

Maar ons het hier met Oosterse smaak te doen.  En hierdie beeld van Aäron het vir die Israeliet gesê:  Hier is ‘n mens wat van kop tot tone deur die Here geseën is!  Daar is nie ‘n stukkie van hom, nie ‘n vierkante sentimeter, wat nie geseën word nie!  En wat is mooier as dit!?
 
En daar is nóg ander mooi goed aan hierdie beeld.  ‘n Lang, vloeiende baard was ‘n teken van waardigheid, vir mans natuurlik.  Maar dis ‘n waardigheid wat juis vir almal is, hoog en laag.  Die feit dat die olie afloop van die kop tot by die soom, wys … die seën van die Here is vir almal, vir die hele gemeenskap, vir die leiers en die volgelinge, ryk en arm, hooggebore en voetsools.

Die psalmis gebruik ‘n tweede beeld om vir ons te sê wat skoonheid is.  Dit is soos die dou van die Berg Hermon wat op die berge by Sion val. 

Ons sukkel ook om hierdie beeld heeltemal te waardeer.  Min van ons staan vroeg genoeg op om die dou te sien.  En as ons vroeg opstaan, is dit om die ergste verkeer werk toe te vermy.  Daar is g’n kans om die dou dop te hou nie.  In die motor is daar lugreëling vir die hitte, of verwarming vir die koue.  Wie het nodig om deur die dou verkwik te voel?

Maar vir die psalmis is dit die mooiste mooi.  Na ‘n dag se versengende hitte, skielik deur die nag kom die dou en groet die nuwe dag.  Die dag breek ook ‘n verkwikte landskap.

Dít is hoe die seën van God is.  Dis vir almal.  En dit verkwik. 

Olie en water.  Hierdie twee word dikwels in die Bybel saam gebruik om God se seën uit te druk.  Soos in Genesis 27:28 waar God se seën gegee word in aardse olie en hemelse dou.

Olie en dou bring die skoonheid na vore.  Soos wanneer mense eensgesind met mekaar lewe.

Daar is nog een simbool wat ons moet ontgin, voordat ons klaar is met hierdie psalm en die psalm in sy volle skoonheid kan ervaar.  En dis die olie self.  Hierdie is heilige olie, wat oor Aäron uitgegiet word.  En die heilige olie is ‘n mengsel van vier verskillende speserye – mirre, kaneel, suikerriet en kassia (wildekaneel) – wat in olyfolie ingemeng word.

Wat ‘n simbool vir eensgesindheid!  Nie net vir die gesin nie, maar vir oral.  Vier speserye saamgeroer in die olie, en uitgegiet oor ons van kop tot tone as ‘n teken van God se seën.  Hoe kan ons dit weerstaan.

Vandag word die kerk geteken as ‘n groep faksies wat mekaar nie kan verdra nie.  Binne gemeentes is die mense aan mekaar se kele.

Maak hierdie beeld dan geen indruk op ons nie?  Praat dit nie met ons nie?  Sien ons nie die skoonheid daarvan, van mense wat één is in God se seën nie?  Hoekom weerstaan ons God se seën so?

Hulle sê dat as jy op pad is nêrens heen nie, kan jy enige pad soontoe vat.  Maar kom ons stap vandag ‘n pad met hierdie psalm, en ons gaan op reis na ‘n spesifieke plek toe, naamlik daar waar ons God se seën sal ervaar.  Ons vat nie sommer enige pad nie.  Ons vat die pad van eensgesindheid.  Ons gaan saam op reis.  Ons vat die pad na God se seën.

Christina Landman

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen Preekriglyne in Argief

 

Tags: , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment