Verder geluister: Psalm 31

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

In Psalm 31:10-14 hoor ons die Psalmdigter oor sy wanhoop praat in taal wat selfs – en veral – vandag baie bekend klink. Die Psalmdigter beskryf vier gesigte van sy wanhoop: Eerstens vertel hy hoe hy deur die jare siek geword het van die gedurige angs wat hy oor die lewe het. Tweedens vertel hy hoe hy gedryf word deur sy omstandighede en die eise wat dit aan hom stel. Derdens deel hy die treurige nuus van hoe hy opsygestoot word deur sy vriende wat verbyhou as hulle hom per ongeluk raakloop. En vierdens die ding wat hom seker die weerloosste maak: Hy word beskinder, en erger nog, gedreig.

Hierdie klink baie na ons eie verhaal. Dit klink na die dinge wat mense oor hulleself sê wanneer hulle om die kampvuur sit, of saameet, of by ‘n berader is, of miskien skelm in hulle dagboeke skryf.

Waaroor praat mense vandag? Eerstens dan die lewensangs. Ek het nou die dag na iemand se dood op haar dagboek afgekom toe ek ‘n kas uitpak. En daar lees ek toe tot my verstomming van die angs wat sy as mens beleef het. Dag na dag. En dit was iemand wat ek altyd beleef het as baie in beheer van die lewe, asof niks haar kan bangmaak nie. Eintlik, sy het baie mense eerder bang gemaak met haar harde manier van mense hanteer. En tog, daar is dit uitgespel in haar dagboek, dag vir dag, die angs wat sy vir die lewe gehad het.

Tweedens dan die gejag wat die lewe op ons maak, waarvan die Psalmdigter praat – ken ons dit nie maar vandag alte goed nie? As jy nie werk het nie, is dit amper onmoontlik om dit te kry. As jy wel werk het, klou jy daaraan vas terwyl jy heeltyd oor jou skouer loer. Nee, die lewe maak jag op ons, dis verseker.

En derdens die onbetroubaarheid van ons vriende. Ja, watse groot seer is dit nie wanneer jy uitvind mense gebruik jou net wanneer jy vir hulle iets kan doen nie. Wanneer dit met jou sleg gaan, vermy hulle jou. Ja, en dis niks nuuts nie. Duisende jare al doen ons dit aan mekaar.

En vierdens, dan, praat die Psalmdigter – in die ou vertaling – van die geskinder agter sy rug, en – in die nuwe vertaling – van die dreigemente wat daar teen sy lewe gemaak word. Ek dink altwee vorme van doodmaak is hier ter sprake. Mense maak mekaar met woorde dood wanneer hulle oor mekaar skinder. Hulle maak mekaar in oorlog dood met wapens. Hierdie woorde van die Psalmdigter het my weer laat dink aan die situasie waarin die wêreld vandag is. Daar is op hierdie oomblik verskeie oorloë en opstande in die wêreld aan die gang: in Libië, in Sirië, in Afghanistan, in die Ivoorkus.  Miljoene gesonde mense het op hierdie oomblik doodsangs, angs dat hulle môre of oormôre of netnou doodgeskiet gaan word. Ja, wat het tog verander van die tyd van die Psalmdigter en die angs wat hy gehad het om nie die dag van môre te oorleef nie? Miljoene mense vandag vra, net soos die Psalmdigter van ouds, of die lewe nog betekenis het terwyl dit so vlietend en onseker en onbetroubaar is.

En nou, op daardie laagtepunt, gebeur daar skielik iets wonderliks in die psalm. Dis nou in Psalm 31 se vers 15. Die Psalmdigter los homself nie daar in sy depressie nie. Hy staan op uit sy ellende en diepe terneergedruktheid.  Sy lewe verander nie, maar daar is twee dinge wat hom ‘n nuwe uitkyk op die lewe gee.

Die eerste is God se genade. Die feit dat hy God kan vertrou. Vertroue is om te glo, al weet jy nie verseker of jou lewe gaan verander nie. Die Psalmdigter glo in God se genade, want hy het al ‘n pad met God gestap.  Hy vertrou God. Deur die angs en die ontrou van die lewe, stap God nog altyd ‘n pad saam met hom. God is die een met wie hy kan praat in sy donkerste uur. God is die een wat hy kan vertrou met sy lyding en angste.  God is die een na wie toe hy kan gaan wanneer die lewe sonder uitkoms en betekenis lyk.

Maar daar is ook ‘n tweede ding wat die Psalmdigter ‘n nuwe handvatsel op die lewe gee, en dit terwyl sy lewe nog in so ‘n benouenis is. Die Psalmdigter begin anders oor homself te praat. Ja, jy kan sommer die verandering in die Psalmdigter sien aan hoe hy sy taal verander. Hy verander van passiewe taal na aktiewe taal. Hy verander van ‘n slagoffer na iemand wat beheer oor sy lyding neem. In verse 10-14 praat die Psalmdigter oor homself in passiewe taal: Ek is benoud … ek is ‘n voorwerp van smaad … ek is vergete … ek is beskinder en gedreig …  Maar in vers 15  verander sy taal na ‘n aktiewe taal:  Ek vertrou … ek sê. “Ek vertrou op U, o Here, ek sê U is my God.”

En so verbreek die Psalmdigter sy eensaamheid, sy isolasie. En ook sy magteloosheid. Hy is iemand wat in ‘n verhouding met God is. En hy voel sterk in homself. Sy omstandighede is ver van verander af, sy toekoms bly onseker. Maar hy is nie meer alleen nie, en hy is nie meer magteloos nie.

Hy het beheer geneem oor sy lyding.

Psalm 31:10-15 word op Palmsondag wyd in kerke gelees en in die prediking oor nagedink. Dis die dag waarop Jesus in Jerusalem op ‘n donkie ingery het, en mense palmtakke voor Hom uitgegooi het. Dis die dag waarop Hy ook sy lyding tegemoetgegaan het.

Dis gepas vir ons om op hierdie dag weer oor lyding na te dink – en dat ons nie sonder hoop is wanneer ons ly nie. Immers ken God in Jesus ons lyding.  Daar is niks wat ons kan ly wat Hy nie al gely het nie. Ook Hy het doodsangs gehad; ook Hy is gejag deur sy vyande; ook Hy is verraai deur sy vriende en dissipels; ook Hy is beskinder en gedreig.

Ons lyding is nie sonder hoop nie. Omdat ons in God glo, kan ons glo dat ons kan opstaan tot ‘n hoopvoller lewe, dat ons nooit eensaam in ons lyding is nie, en dat ons nie magteloos is nie, maar kan praat, kan juig, kan vertrou en kan bely. Soos die Psalmdigter van ouds al gedoen het.

Christina Landman

Daar is twee vorige riglyne in die Leesrooster argief: 

Die Seisoen van Luister se hulpmiddels kan hier afgelaai word: PP 2003 PP 2007Word

Trackback from your site.

Leave a comment