Verder Geluister: Psalm 8

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 4 Oktober

Mede-menswaardig en medemens-waardig

‘n Psalm is ‘n ding wat vlieg.  ‘n Psalm was eers wyshede en lewensvaardighede wat gevlieg het van mond na mond, van ouer na kind.  Tot dit opgeskryf is as ‘n psalm.  En toe het dit deur die geskiedenis heen van pen tot preek gevlieg, en elke prediker het dit in die harte van sy of haar mense laat land.

In elkeen van ons se lewens het Psalm 8 al iewers geland.  Miskien het ‘n onderwyser dit vir ons as kinders voorgelees om ons aan te spoor om die grootsheid van die natuur te geniet en te bewonder.  Baie keer is Psalm 8 gebruik om ons as mense nederig te hou.  God is groot, die natuur is groots, en ons is klein en nietig.  En niks.  En nouja, dis ook goed dat ons mense nou en dan daaraan herinner word om ons groot koppe ‘n bietjie terug te skaaf.

Maar voor ons kyk waar Psalm 8 vandag in ons lewens kan land, kom ons kyk wat die groot kerkhervormers Martin Luther en Johannes Calvyn daarmee gedoen het.  Dis gepas om ‘n bietjie na hierdie tyd terug te gaan, want Calvyn is hierdie jaar 500 jaar oud.

Luther en Calvyn het Psalm 8 verskillend laat land.  Vir Luther is Psalm 8 ‘n profesie wat voorspel dat Jesus as mens gebore sou word, dat hy twee nature sou hê (dit is ‘n menslike en ‘n goddelike natuur), dat hy uit die dood sou opstaan en na die hemel sou opvaar.  En wanneer ‘n mens na Psalm 8 kyk, dan hoef jy nie verbaas te wees dat Luther die psalm so gelees het nie.  “Die mensekind” waarvan ons in vers 5 lees, kan ‘n mens eintlik vertaal met “die Seun van die Mens” wat baie geleerdes vandag nog beskou as ‘n verwysing na Christus.  En dan lees ons in vers 6 dat God die Seun van die Mens net minder as ‘n hemelse wese gemaak het, wat volgens Luther op Jesus se menswording en sy twee nature dui.  En in vers 6b en 7 lees ons dat God die Seun van die Mens met aansien en eer gekroon het, en hom laat heers het.  Dit is ‘n verwysing na Jesus se opstanding en hemelvaart, sê Luther. 

Hierby moet ‘n mens sê dat die skrywer van die Brief aan die Hebreërs (2:5-9) ook gedink het dat Psalm 8 na Jesus Christus verwys, asook na gelowiges wat oor die aarde in Sy naam sou heers.
Ek hou meer van Calvyn se interpretasie.  Vir Calvyn praat Psalm 8 oor God die Vader se voorsienigheid vir die mensdom.  God dink aan die mens.  God sien om na die mens.  God het die mens amper goddelik gemaak, en laat die mens oor die aarde heers.

Ek hou nog meer van hoe Psalm 8 vandag in die gesprek oor menswaardigheid te lande gekom het.  Vir teoloë wat hulle op menswaardigheid (human dignity) toespits, staan Psalm 8 sentraal:  God het aan die mens waarde gegee. 
In die kerk en in die teologie het ons altyd vir mekaar gesê dat die mens waarde het, omdat hy/sy na God se beeld geskape is.  Dit was altyd die sentrale gedagte in die gesprek oor menswaardigheid.
Maar met Psalm 8 kan ons hierdie gesprek uitbrei.  Ons is almal gelyk menswaardig, omdat ons waardig is in God se oë.  Hy het ons net minder as ‘n hemelse wese gemaak. 

En omdat ons menswaardig is, het ons regte.  Ons het die reg op erkenning, op respek, en op beskerming.  En elke mens het die reg om hom- of haarself te definieer en moreel daarbinne te lewe.

Maar daar is nog iets wonderlikers aan hierdie idee dat ons menswaardig is.  As ons menswaardig is, beteken dit dat ons meer is as net ‘n liggaam.  ‘n Mens is nie net iemand wat vergeld, en ander wil terugkry nie.  ‘n Mens is nie net iemand wat van geld alleen kan leef nie.  ‘n Mens eet en slaap en pronk nie net nie.  ‘n Mens lewe nie net vir hom- of haarself nie.

‘n Menswaardige mens is ‘n medemens.

Maar hoe is ‘n mens nou ‘n medemens?  Waar is ons rolmodel?
Ek sou sê dat Luther en Calvyn se interpretasies van Psalm 8 hier amper bymekaar kom.  Calvyn wys ons daarop dat God vir ons sorg.  Hy gee vir ons waarde.  En Hy voeg waarde aan ons toe, dat ons meer as ‘n mens word.  Dat ons medemense word wat ook vir ander kan sorg.

En Luther vertel ons van Jesus.  Hy lees Jesus raak in Psalm 8.  En of Psalm 8 nou Jesus voorspel het of nie, dit gee ons miskien tog die kans om te kyk hoe Jesus later as medemens hier op aarde geleef het.  Ja, Jesus die Medemens is inderdaad vir ons ‘n goeie rolmodel oor hoe om medemens-waardig te lewe.

Jesus die Medemens het ‘n aanvoeling gehad vir mense se behoeftes, fisies en geestelik.  Hy het hom bemoei met die lot van mense wat honger was, wat magteloos was, en wat wysheid kortgekom het.

Jesus die Medemens het ook respek gehad vir mense en almal as sy gelykes gehandel.  Nikodemus, melaatses, vroue, tollenaars, kinders.  Almal is as medemense behandel.

En Jesus die Medemens het dit ook geniet om by mense te wees.  Kyk maar hoe neem hy deel aan die huwelik by Kana.  En gee hy sy wysheidsuitsprake wanneer hy saam met mense eet.  Vir Jesus is mense werd om mee om te gaan, of hulle ryk of arm, geleerd of ongeletterd, gesond of siek is.

Dit dan, in kort, sou ek sê, is medemenswaardigheid.  Om myself te koester omdat ek waarde in God se oë het.  Om raak te sien die waarde wat ander in God se oë het.  En om na hulle behoeftes uit te reik. 

Want medemenswaardigheid is uiteindelik ‘n werkwoord.  Ons moet ons medemens waardig maak. 

Anders bly die hele idee van menswaardigheid net opgesluit in Psalm 8.  En laat ons die Psalm nie toe om tot hier by ons vandag te vlieg nie.

Christina Landman

Seisoen van Luister Power Point

Geen verdere preekriglyne in preekargief.
 

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment