Verder geluister: Sagaria 9:9-10 – Vorstelike Nederigheid

Written by Frederick on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Maar toe bedink ek my weer. Is dit regtig wat sy met “grootheid” bedoel? Om “groter” as ander mense te moet wees? Of wat sou sy kon bedoel het met “grootheid”? Want ‘n mens kan ook mos groot wees in liefde, en groot wees in omgee, en groot wees in self-insig. Om maar net ‘n paar te noem.

Na watse “grootheid” behoort ons te strewe? Dis ‘n vraag wat ons onsself as Christene aanhoudend moet afvra. Maar veral nou, in hierdie tyd van die jaar, is dit ‘n belangrike vraag. Ons is nou in die Koninkrykstyd. Ons vier die feit dat ons kinders, oftewel volgelinge, van die Koning is.

Hoe gedra ‘n mens jouself as ‘n Koningskind? Wat is jou waardes?

Dan is dit goed dat ons weer ‘n slag na Sagaria 9 verse 9 en 10 sal kyk. Want daar ontmoet ons ‘n koning, soos wie ons kan en moet wees.

In hierdie gedeelte word die mense aangemoedig om te juig en te jubel. En hoekom? Omdat hulle ‘n koning sal kry. Hy is oppad na hulle toe.

En hoe is daardie koning? Wat is sy kenmerke wat van hom ‘n goeie koning maak? Hy is regverdig. Hy is gered. Hy is nederig. En hy ry op ‘n donkie.

Wie is of was hierdie koning van wie Sagaria praat? Ons sal dit seker nooit weet nie. Ons sal hom seker nooit op sy naam kan noem nie. Toe die mense uit ballingskap teruggekeer het om Jerusalem weer op te bou, het hulle gewag en gebid vir ‘n koning wat hulle sal lei. En Sagaria was hulle profeet. En deur sy mond kom die versugting van die mense oor hoe hierdie koning sal wees.

Maar dis nie sommer iets wat iemand eendag uit sy duim gedroom het dat die koning regverdig, gered en nederig sal wees, en op ‘n donkie sal ry nie. Nee, hierdie idee van wat ‘n ideale koning is, kom al ‘n lang tyd uit die Israeliete se geskiedenis:

·

Oor en oor lees ons in die Bybel dat die ideale koning regverdig sal wees, dat hy ‘n betroubare verhouding met God en die mense sal hê.

·

En ons lees ook dat hy “gered” sal wees, soos die Kneg van die Here in Jesaja, wat baie gely het, veral in ballingskap, maar nou “gered” en deur God herstel is. Die ideale koning is iemand wat lyding ken.

·

En ons lees ook dat hy nederig sal wees, dit is, dat hy met sy voete onder die mense sal staan. Dat hy nie sal heers met sy kop in die wolke en sy swaard op die straathoeke nie. Nee, hy sal “nederig” wees, hier tussen ons.

·

En dan sal die koning ook op ‘n donkie ry. Nou, daardie een tref ons sleg. As ons aan iemand dink wat op ‘n donkie ry, dan dink ons miskien aan ‘n baie arm persoon op die platteland. Is dit nou regtig nodig dat die koning so nederig hoef te wees? Maar eintlik het die koning se nederigheid hier niks met sy ry op die donkie te doen nie. Ons het gesien dat “nederig” eerder beteken dat hy onder ons woon en ons behoeftes ken. Vir die Israeliete van ouds was dit juis uiters eervol om op ‘n donkie te ry.

Om op ‘n donkie te ry, het juis gewys aan watter volk jy behoort, dat jy aan God se volk behoort. Die Israeliete was baie gesteld op hulle donkies. Hulle het nie perde gehad nie. Perde was ‘n simbool van die ander volke, wat nie God se volk was nie. Die Egiptenare het perde gehad, en so ook die ander volke om Israel. Lees maar in die Lied van Debora (Rigters 6) hoe die verslane Kanaäniete wegvlug op hulle perde. Daarom sê Sagaria 9:10 ook vir ons dat God die perde in Jerusalem sal uitroei. God sal uitroei wat nie by sy mense pas nie.

Die Israeliete het van oudsher af gekies vir die donkie, oftewel die esel. Die esel was hardwerkend, kon swaar laste dra, het growwe kos geëet en min water gedrink. So belangrik was die esel vir die Israeliete, dat hulle wette gemaak het om esels te beskerm. Jy mag nie jou naaste se esel begeer nie, net soos jy nie na sy vrou mag smag nie. En as jou esel op die sabbatdag in die put val … nou ja, dan moet jy weet wat om te doen.

Die esel was ook ‘n goeie vervoermiddel. Mans en vroue het daarop gery. En ook konings. Dawid, die ideale koning, het geen perde besit nie, behalwe vir dies wat hy van die vyand afgevat het. Salomo het ‘n bietjie afvallig geraak weens sy baie uitlandse vroue, en wel perde gehad. Moses het op ‘n esel na Farao toe gery, en ‘n esel was ook Bileam se vervoermiddel. ‘n Esel was waarop ‘n koning gery het, in Israel se oë.

Ons weet nie wie die koning van Sagaria 9:9-10 was nie, maar ons weet hoe hy moes wees. En ons weet ook dat hierdie idee van wat ‘n koning behoort te wees, in mense se verwagtinge voortgeleef het. En dat, toe Jesus in Jerusalem op ‘n esel ingery het, dit vir die mense ‘n teken was dat hy die ideale koning was wat uiteindelik gekom het.

Maar nou sal julle vra wat dit nou alles vandag met ons te doen het? Vandat Jesus mens geword het, leef ons hier in God se koninkryk, wat nou gedeeltelik maar eendag volledig tot volheid sal kom. Na watter soort van “grootsheid” sal ons hier strewe, as navolgers van die ideale koning?

Ons grootheid lê daarin dat ons regverdig sal wees. Dat ons sal let op ons verhouding met ander mense en met God.

Ons grootheid lê daarin dat ons gered sal wees. Ons ken swaarkry en lyding, maar ons is nooit sonder die hoop dat God ons nie uit sy hand sal laat val nie.

Ons grootheid lê daarin dat ons nederig is, mense tussen ander mense, wat mekaar dien terwyl ons “hoop doen”.

Ons grootheid lê in ons identiteit as Christene. In dit waarvoor ons staan, en waarmee ons lewe. Geloof, hoop en liefde.

Christina Landman

Trackback from your site.

Leave a comment