Verder geluister:Die waarde van verbeelding ~ Exodus 16:2-15

Written by Admin on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

5 Augustus 2012 ~ Tiende Sondag in Koninkrykstyd
Eerste Sondag seisoen van barmhartigheid

Die waarde van verbeelding ~ Exodus 16:2-15

Saterdag nooi iemand my vir ‘n braai. Kom so elfuur, sê hulle. Dit klink toe goed. Ek dog, dan kan ons lekker kuier en nog drie-uur terug wees vir die wedstryd op televisie. Maar drie-uur het gekom en gegaan, en toe begin hulle eers die kos bedien.

En toe, so wraggies, Sondag word ek weer elders vir ‘n braai genooi. Dis die mooi lekker warm wintersweer hier in die noorde wat dit aan ons doen, dat ons net buite wil wees en braai. Kom so na kerk, so elfuur, sê hulle. En so wraggies, toe drie-uur kom, moes ek loop want ek het ‘n ander afspraak gehad. Maar toe is daar nog geen gaar kos nie.

Terwyl ek toe nou by die twee geleenthede met goeie geselskap in die woestyn sit sonder kos, wonder ek oor manna.

In die Christelike tradisie het ons nog altyd manna gelykgestel aan wysheid. Soos die manna uit die hemel gekom het, so wag ons ook op wysheid van God van bo.

En ek dink ook dis reg dat ons dit so doen, oor manna praat as wysheid, wat ons in hierdie moeilike tye baie nodig het. Want ek dink nie dat die manna-episode in die Bybel net oor kos gaan nie. Ja, die Israeliete was honger. Hulle moes eet. Hulle moes kos hê. En dit het God ook vir hulle gegee. Net soos wat ek honger was, en die kos moes kom.

Maar ek dink in Eksodus 16:2-15 gaan dit nie net oor honger mense wat manna (en kwartels) kry om te eet nie. Ek dink die hele episode met die manna, is ‘n geleentheid wat God gebruik om vir mense waardes te leer.

Die eerste waarde is om nie gulsig te wees nie. Elke dag moes die mense net genoeg vir hulle basiese honger optel. Dis ‘n belangrike waarde wat ons vandag moet aanleer. Want ons is konsumeristies. Ons voel, as ek dit kan bekostig, kan ek dit gebruik en verorber. En as ek dit nie kan bekostig nie, moet ek geld leen om dit te kan koop, want dis my reg om alles te hê wat my oë sien, en alles wat my bure het, wat ook alles wil hê wat hulle oë sien. Maar die aarde kan nie bekostig dat ons alles bekostig nie.  Die aarde het nodig dat ons die minimum gebruik, en dat wat ons gebruik, weer hernubaar is. Dis wat die aarde nodig het. En dit behoort ons waarde te wees. Moenie gulsig wees nie. Gebruik net genoeg, indien nie minder nie.

Die tweede waarde is om te vertrou. Nou, ek wed jou dis iets wat ek en jy lanklaas gedoen het, om God te vertrou. Ons dink dis werklik net te naïef om werklik te wees. Om God te vertrou. Kan jy nou meer. Jy sal mos nie deur te lewe kom so nie? Maar kom ons probeer dit ‘n slag. Kom ons word nie in die oggend wakker en bereken die slegte scenario en wat alles vandag verkeerd kan loop nie. Kom ons word wakker, en beplan dat God met ons ‘n pad deur die dag sal stap. En dat ons nie honger sal gaan slaap nie. Toe, kom ons probeer dit. En ons begin elke dag so. En dan kyk ons wie aan die einde van die week die verloorders is, en wie stap met stywe enkels en hoë kenne deur hulle dae.

Die derde waarde is verbeelding. Oeps, waar kom dit nou vandaan, sal julle vra. God vra eintlik vir die Israeliete in die manna-verhaal om verbeelding te hê. Hy vra van hulle om buite die boksie te dink. Hulle was gewoond aan ‘n pot met kos in Egipte. Maar nou vra God hulle moet hulleself kan indink dat dinge nou anders kan wees. Hulle moet hulle ‘n ander wêreld voorstel. Dat dinge anders kan werk. En daarvoor moet hulle hulle oë oopmaak, en sien dat daar manna is om te eet. Die manna was ‘n produk van insekte wat op die tarmarisk-bome gevoed het. Dit was altyd daar, maar die Israeliete moes dit raaksien. Hulle moes leer om in simbiose met die natuur te lewe, eerder as om slawe te wees wat baasgemaakte kos moes eet.

Ja, ek dink dis die groot waarde wat die manna-verhaal ons wil leer. Die waarde van verbeelding. Die Bybel is ‘n boek vol inheemse wysheid. En hier het ons ‘n verhaal vol daarvan. Moenie gulsig wees nie, vertrou op God – en lewe met verbeelding!  Dink buite die kassie!  Maak oop jou oë en sien die potensiaal van dinge om jou!

Ja, die manna-verhaal leer ons nog ‘n klomp waardes, soos om dankbaar te wees. Maar dan is daar nog ‘n waarde:  die waarde van die rusdag. Op die Sabbat moes die Israeliete nie manna optel nie. Hulle moes rus. Hulle moes mekaar en God se geselskap geniet, en oor ander dinge as kos dink.

Miskien is dit ‘n waarde wat ek gou moet aanleer, dat ek van elf tot drie rustig kan sit en die mense om my kan geniet, en rus van aardse kwellinge!

Christina Landman

 

Eksodus 16:2-4, 9-15 – 10de Sondag in Koninkrykstyd en 1ste Sondag in Seisoen van Barmhartigheid – 5 Augustus 2012

Eksodus16_2-15Eksodus 16 se verhaal leen hom tot ‘n dramatiese vertelling waarin op die detail en verrassings in die verhaal vir Familie-tyd gefokus kan word. Die preekriglyn begin met die interessante kommentaar wat stappers in ‘n wildernisgebied op die ongemak van die staproete gelewer het. Dit verskaf die invalshoek in ons behoefte aan gemak en ‘n veilige ruimte in ons geestelike reis. Eksodus 16 help ons die geestelike waarde van ontwrigting waardeer, waarin die woestyn ‘n plek vol verrassings kan wees. Die woestyn as tyd van toetsing, groei, voorsiening, en gehoorsaamheid help ons om God op nuwe maniere raak te sien. Sy beloftes, teenwoordigheid en genade, ten spyte van ons mislukkings, sal meer as genoeg wees. Ons kan ons woestyntog aanpak met die wete: Die Een wat medelye met ons swakhede het, Jesus, het dieselfde pad geloop!

Eksodus 16:2-15.ppt 1.22 MB Jul 30, 2012 05:56 Download
Eksodus 16:2-15.pptx 1.14 MB Jul 30, 2012 05:55 Download
Eksodus 16:2-15.doc 114.5 KB Jul 30, 2012 05:54 Download

 Preekriglyn in Argief: Eksodus 16_2-15.htm

 

Trackback from your site.

Leave a comment