Vrae rondom die Gereformeerde Siening van die Kerk

Written by Frederick on . Posted in Artikels

DERDE W.D. JONKER GEDENKLESING

NG RING VAN KAAP DIE GOEIE HOOP, TAFELBERG GEMEENTE

HERVORMINGSONDAG 26 OKT 2008

Vrae rondom die Gereformeerde siening van die kerk

Dirkie Smit

Fakulteit Teologie, Stellenbosch


1. “In die verkondiging en uitlewing van die evangelie”?

Relevansie is vir die kerk belangrik – so skryf Willie Jonker – maar die kerk het geen ander weg

tot groter relevansie nie, as om sy taak as verkondiger van die evangelie met woord en daad met

die grootste nougesetheid te behartig. In die verkondiging en uitlewing van die evangelie het die

kerk iets wat per definisie relevant is, en dit is sy roeping om op sodanige wyse sy identiteit as

lewende gemeente van Christus in die wêreld sigbaar te maak dat die wêreld die relevansie van

die boodskap en die lewensgemeenskap van die kerk sal kan sien.

Hoe doen die kerk dit?

Die weg daarheen is geen vreemde weg nie: Dit is die weg van verootmoediging, inkeer tot sy eie

saak en opregte Christelike dissipelskap. Egte dissipelskap is meer as die handhawing van die

goeie leer; dit is ook ‘n navolging van Christus in die oorgawe van die eie lewe aan God en die

mense. Om werklik kerk vir ander en kerk vir die wêreld te wees, moet die kerk in eerste

instansie weet wat dit is om kerk van Christus en van God te wees. En dit moet nie net die

bestaan van die individuele gelowiges stempel nie, maar ook die bestaan, vorm en struktuur van

die kerk as gemeenskap.

Wat is dus nodig?

Die evangelie (is) altyd aktueel vir elke tyd, mits dit reg verstaan en verkondig word. Dit is die

taak van die kerk om goed genoeg na die boodskap van die evangelie te luister om dit in elke tyd

opnuut te verstaan, te verkondig en uit te lewe as die bevrydende woord vir daardie tyd met sy

spesifieke omstandighede. Wat ons land vandag nodig het, is dat die NGK in hierdie uur die

evangelie van die koninkryk so goed sal verstaan en met woord en daad sal vertolk, dat dit in die

krisissituasie waarin ons ons op hierdie oomblik bevind, gehoor en ervaar kan word as die woord

van verlossing, hoop en bevryding.

Wat is daarom die diepste uitdaging?

As die kerk dit alles egter op die regte wyse wil doen, is sy grootste behoefte geestelike

vernuwing en verdieping, ‘n terugkeer tot die elementêre werklikheid van Christen-dissipelskap

en onvoorwaardelike oorgawe aan God. Dit is vandag die grootste enkele behoefte van die kerk

as hy werklik relevant moet wees.

Hierdie woorde kom uit die laaste hoofstuk van sy studie oor die relevansie van die kerk, wat tans

vir die eerste keer uitgegee word en vandag hier bekend gestel word, maar wat hy reeds 25 jaar

gelede geskryf het, in ‘n tyd wat hy ook elders as oomblikke “op die breuklyn” beskryf het,

krisistye vir die kerk in die wêreld, maar ook in Suid-Afrika. Hy dink na oor geesteshistoriese

ontwikkelinge sedert die Verligting en oor maniere waarop die kerk daarop reageer, toegespits in

die uitdagende vraag of die kerk nog enigsins relevant kan wees in ‘n tydsgees as talle mense

“verstikkend ongeïnteresseerd” is in die kerk. In dié aanhalings klop die hart van sy eie reaksie.

Enigeen wat sy werk ken sal egter ook oombliklik besef hoeveel van die sentrale motiewe van

sy kerklike en teologiese werk oor al die dekades heen in hierdie woorde klop. Dis asof talle van sy

sleutel oortuigings, talle van sy diepste passies, talle episodes uit sy persoonlike inspanning en stryd

hierin saamgebundel word. Feitlik elke woord en uitdrukking roep herinneringe op aan insidente,

publikasies, voordragte, getuienisse.

2. ‘n Tipies Gereformeerde aksent? – Oor Calvyn se “en ook gehoor”

Tegelykertyd sal baie egter ook die tipies Gereformeerde motiewe in hierdie woorde herken. Dis

gepas dat die Ring van Kaap die Goeie Hoop die Gedenklesing op Hervormingsondag reël, want

Jonker was met hart en siel Gereformeerd en sy lewelange werk in kerk en teologie deurdrenk van

Gereformeerde oortuigings – soos ook hier. In hierdie woorde hoor ‘n mens ook vir Calvyn, die

Hervormer uit Geneve wie se 500-jarige herdenkings volgende jaar wêreldwyd sal plaasvind.

Die Reformatoriese ekklesiologie – die siening van die kerk in die geledere van die

Hervorming – was om begryplike redes van die begin af gestempel deur die uitdaging hoe hulle

hulleself “kerk” kon noem in die aangesig van die groot en magtige heilsinstituut van die Rooms-

Katolieke Kerk? Is hierdie sigbare instelling dan nie die een, heilige, katolieke en apostoliese kerk

wat hulle in die Credo bely nie? Hoe kan hulleself dan óók kerk wees? Wat is die kerk dan? Waar is

die kerk? Hoe herken ‘n mens die kerk? Watter kenmerke, watter kentekens onderskei die kerk dan,

sodat mense kan weet hier het ons met die ware kerk te make?

In die Lutherse leer van die kerk is dié tergende vraag beantwoord in die bekende Artikel VII

van die Augsburgse Konfessie, vandag nog die gesaghebbende en dus verbindende belydenisskif vir

alle Lutherse kerke en gelowiges reg oor die wêreld heen. Die kerk is waar die evangelie reg

gepreek en die sakramente reg bedien word, dít is genoegsaam, satis est in teologiese vaktaal, tot

vandag. Waar dit gebeur, is die kerk. Niks meer is nodig nie, alles anders is van minder belang,

toevallig, wisselend.

Die Gereformeerde tradisie stem hiermee saam – en sien ook die suiwere prediking en die

bediening van die sakramente volgens die instelling van Jesus Christus as die merktekens van die

kerk – maar as Calvyn sy uitvoerige bespreking van die leer van die kerk in Boek III van sy

Institusie juis met hierdie vraag begin, dan voeg hy tog merkwaardigerwys die woordjies atque

audiri daarby, “en ook gehoor.” Die kerk is dáár herkenbaar waar die evangelie reg gepreek “en

ook gehoor” word, en die sakramente reg bedien word.

Dis moeilik om te weet hoe berekend dié byvoeging was en tot watter mate die formulering

by hom net vanself gekom het, maar vir seker is dit kenmerkend van ‘n tipiese aksent wat

dwarsdeur Calvyn se eie lewe en werk herkenbaar sou wees,wat die Gereformeerde tradisie sou bly

kenmerk en wat ook in Jonker se denke van fundamentele belang sou wees. Dis asof Calvyn wil

seker maak dat ons onthou dat die evangelie nie net gepreek wil wees nie, maar ook gehóór wil

word, wat beteken gehoorsaam word, geleef word. Die kerk is daar herkenbaar waar die evangelie

nie net gepreek nie, maar ook gehoor word.

Dis daarom – byvoorbeeld – dat Calvyn so karakteristies sou praat van ‘n “dubbele genade”,

naamlik regverdiging én heiliging; waarom hy so indringend oor die Christelike lewe sou nadink;

waarom die vereniging met Christus vir hom so belangrik was, die afsterwe en die opstaan in ‘n

nuwe lewe; waarom hy so veel sou maak van roeping; waarom hy so passievol betrokke was by die

openbare lewe, by geregtigheid, by diakonaat en welsyn, by versorging van armes en siekes, by

onderwys en onderrig.

Hierdie tipiese motief word goed geïllustreer deur sy bekende herinnering op sy sterfbed, dat

toe hy die eerste maal in Geneve aangekom het “daar net prediking was, maar geen hervorming

nie”! Dié strewe, dat die evangelie gepreek én gehoor sal word, was die rede waarom hy dadelik

belydenisskrifte vir die stad opgestel het, en ‘n kerkorde om te help dat die oortuigings wat bely

word ook beliggaam kan word. Atque audiri.

Dat die kerk herkenbaar is waar die evangelie nie net reg gepreek nie maar ook gehoor word,

maak die vraag uiteraard net nog ingewikkelder – want hoe word dít bepaal? Waaraan sal ons dít

kan sien, hoe sal ons weet wanneer dít gebeur? Met dié vraag is ‘n mens in die hart van die

Gereformeerde worsteling om die leer van die kerk – en ook in die hart van Willie Jonker se denke.

3. Waaruit blyk die “en gehoor”? – Oor die Gereformeerde leer van die kerk

Oor die afgelope dekades probeer Lutherane en Gereformeerdes in talle dele van die wêreld om hul

eenheid met mekaar beter sigbaar te maak. Die Lutherse Wêreld Federasie en die Wêreldbond van

Gereformeerde Kerke het ‘n gesamentlike kommissie wat tans voorstelle voorberei vir vorme van

groter sigbare gemeenskap, communio.

Maar wat beteken groter sigbare eenheid? Wat beteken communio? Is dit genoegsaam, satis

est, dat almal oor en weer mekaar se prediking en sakramente erken, of verg sigbare eenheid en

gemeenskap iets méér, atque audiri, dat dit ook sigbaar word dat ons saam die evangelie hóór en

gehoor géé? In Europa is daar reeds ‘n verreikende ooreenkoms bereik in die bekende Leuenberg

proses. Hulle gesamentlike reformatoriese siening van die kerk word verwoord in ‘n dokument

getitel “The Church of Jesus Christ” wat tans ook dien as vertrekpunt vir die wêreldwye gesprekke.

Dis merkwaardig hoe die logika van “The Church of Jesus Christ” ooreenstem met die

oortuigings en motiewe waarvoor Willie Jonker oor jare heen in ons eie geskiedenis gestaan en

gestry het. Dit handel oor die identiteit van die kerk, oor die gestalte van die kerk en oor die roeping

van die kerk – presies dié drie temas waarmee hy van die begin van sy loopbaan tot aan die einde

ook besig was.

In 1965 begin publiseer hy saam met ‘n paar kollegas ‘n reeks klein geskrifte onder die titel

“Die stryd om die kerk”. Dis bedoel as teologie vir gemeentes, gerig aan “elke ouderling en

meelewende lidmaat wat in die kerk belangstel” – maar die reekstitel maak duidelik dat veel op die

spel staan. Die heel eerste een is van Jonker self, Aandag vir die kerk. “Elke ernstige poging om na

die getuienis van die Skrif oor die kerk te luister,” skryf hy, “bring ‘n mens haas vanself in die

omgewing van die insig van die Kerkhervormers in die wese van die kerk,” maar presies daarin

word duidelik voor watter verleidinge die NGK te staan gekom het, hoofsaaklik vanweë die invloed

van 19e eeuse strominge. Hy illustreer hierdie spanning tussen Skrif en Hervorming aan die een

kant en die 19e eeuse ontwikkelinge aan die ander kant aan die hand van drie temas, te wete die

verhouding tussen Christus en sy kerk, die gestalte van die kerk in die wêreld en die roeping van die

kerk – kortom, presies dieselfde logika as in “The Church of Jesus Christ.”

Die belydenis van die kerk

Die diepste aard van die kerk is geleë in die onverbreeklike eenheid tussen Christus en sy kerk,

skryf Jonker. Dit is wat die Skrif leer en dis wat die Hervorming begryp en bely het. Die kerk

behoort aan God, die kerk behoort aan Jesus Christus. Wie oor die kerk wil dink en praat moet

vanuit Christus dink, uit die verkiesende genade van die Drie-enige God wat uit die ganse menslike

geslag ‘n volk roep en red.

Dit is egter nie hoe tans – dis 1965 – allerweë oor die kerk gedink word nie. Onder die

invloed van geestesstrominge sedert die Verligting, waar onder ook die Piëtisme, en vanaf die 19e

eeu veral die liberalisme, sien talle mense in Protestantse kringe die kerk vandag bloot “as die

produk van die vrywillige saamkom van ‘n aantal indiwiduele Christene. Die kerk het ‘n

vereniging, ‘n genootskap geword soos enige ander menslike genootskap. Die indiwiduele gelowige

gaan aan die kerk vooraf. Die geloof is die persoonlike saak van mense afsonderlik.” Die kerk is die

gevolg van mense se vrywillige keuse of hulle met ander saam wil aanbid, of nie.

Deur die jare sou hierdie fundamentele verskil in opvatting van wat die kerk is, Jonker besig

hou. Ook in die Leuenberg ekklesiologie is dit die diepste punt van gemeenskap tussen gelowiges,

dat hulle sáám hoor wat die Skrifte leer oor die kerk, dat hulle daarom sáám bely, met die

belydenisskrifte van die tyd van die Hervorming, wat die grondslag, die fondament, die diepste aard

van die kerk is, naamlik dat dit nié maar bloot die resultaat van menslike besluit en vrye keuse is

nie.

Talle van die kerklike en teologiese debatte wat Jonker in die openbaar sou voer, sou wentel

rondom hierdie mees basiese uitgangspunt van die Reformatoriese leer van die kerk.

As die Belydenis van Belhar se openingsinne doelbewus hierdie grondslag van die

Gereformeerde belydenisskrifte en die vroeg-kerklike belydenisse aanhaal, is dit hoegenaamd nie

onskuldig en vanselfsprekend nie. “Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees,

wat deur sy Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af

tot die einde toe. Ons glo aan die een heilige algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die

heiliges, geroepe uit die ganse menslike geslag.”

Reeds in hierdie oënskynlik eenvoudige belydenis aangaande die kerk is “die stryd om die

kerk” ter sprake wat Jonker sy lewe lank gestry het. Die eerste aanduiding dat die kerk ook

“gehoor” het, is as die kerk in reaksie op die gepredikte evangelie bely dat die kerk self aan God

behoort en daarom veel méér is as bloot die produk van ons eie besluite, behoeftes en belange.

Die gestalte van die kerk

Die diepgrypende konsekwensies van hierdie fundamentele meningsverskil oor die aard van die

kerk word dramaties sigbaar as gevra word na die sigbare gestalte van die kerk in die wêreld.

Indien dit waar is dat die sigbare kerk maar van menslike oorsprong is, maak dit nie veel saak in

watter vorm die kerk homself inrig nie. Dit hang dan maar af van die vraag wat vir die meerderheid

van die lede die doeltreffendste voorkom. Inderdaad, die hele uiterlike “verskyningsvorm” van die

kerk is dan ‘n relatiewe saak waaraan nie te veel aandag gewy behoort te word nie. Die kerk mag

homself dan bestuur of inrig soos enige ander menslike vereniging. Geen wonder dat die negentiende

eeu daarom soveel ruimte gebied het vir die verbreiding van kollegialistiese opvattings oor die

kerkregering nie, want die sigbare kerk is verstaan as ‘n collegium of vereniging waarvan die bestuur

uiteindelik berus, nie by Christus nie, maar by die wil van die lede wat demokraties oor hulleself

beskik.

In hierdie woorde weerklink etlike van die sleutel vrae en temas waarmee Jonker hom in die

sestiger-jare telkens weer besig hou: Maak dit saak hoe die kerk homself inrig? Is vrae van die orde

van die kerk, die vorm, die sigbare gestalte, die organisasie, die struktuur, die model teologiese

vrae, of nie? Is enige soort gestalte aanvaarbaar, is dit arbitrêr en relatief, of is daar grense wat nie

oorgesteek durf word nie, wanneer wat “kerk” genoem word nie meer langer “kerk” is nie, omdat

die orde van die kerk die boodskap van die kerk weerspreek en verloën? Word die sigbare gestalte

van die kerk bepaal deur die meerderheid van die lede, deur opnames, en meningspeilings, en

populêre voorkeure? Is doeltreffendheid die kriterium om aan te wend as oor die sigbare gestalte

van die kerk besluit moet word, kriteria soos sukses, aanvaarbaarheid, behoeftes, effektiwiteit,

getalle, groei, tydsgees? Is die kerk ‘n soort vereniging van mense met gemeenskaplike visies en

missies, waarin vrae van effektiewe bestuur en geslaagde leierskap gevolglik die eintlik belangrike

riglyne word? Word die sigbare gestalte van die kerk ten beste gedien as dit volgens die beste

beskikbare politiese prosedures, soos die demokrasie, of volgens die heersende bestuurs-tegnieke en

leierskapstyle ingerig word?

Vir Jonker – soos vir Calvyn en die Gereformeerde belydenistradisie, tot by die Teologiese

Verklaring van Barmen in die Nazi-tyd – is alles op die spel in hierdie vrae. Natuurlik is daar groot

speelruimte in hierdie vrae rondom die sigbare gestalte van die kerk van Jesus Christus. Reeds by

Calvyn is die ruimte wat gelaat word merkwaardig, wanneer hy skryf oor plaaslike gestaltes van die

kerk, oor die ampte, oor die inkleding van die erediens, selfs oor leerstellige meningsverskille. Dis

immers kenmerkend van die Gereformeerde tradisie, vanaf Calvyn self al, dat daar ‘n groot rykdom

van belydenisskrifte ontstaan, oraloor en telkens weer. Daar is geen korpus van belydenisskrifte wat

vir almal geld nie, inteendeel. Die aard van die Gereformeerde belydenisskrifte is immers dat dit

histories is, kontekstueel, ontlok deur spesifieke uitdagings – om dan geleidelik wyer ingang te vind

omdat ander ook daarin die evangelie vir hul oomblik herken en toeëien, of nié.

In die vroeë uitgawes van die Institusie dien Calvyn se invloedryke klein manifes oor

Christelike vryheid juis as inleiding wanneer hy die inrigting van die kerk en die lewe in die

samelewing beskryf. Hy pleit vir besondere groot vryheid in hierdie sake – maar wys dan daarop, in

sy “hoor” van wat die Skrifte leer, dat daar tog wel grense is aan die vryheid. Daar kom telkens

weer oomblikke van waarheid in die kerk, wanneer sake wat onder normale omstandighede om ‘t

ewe is, die sogenaamde adiafora, dalk die evangelie kan begin weerspreek, die getuienis van die

kerk kan skaad, verdelend kan begin werk. Die kerk benodig die onderskeidingsvermoë om sulke

oomblikke te kan herken, ten einde te kan weet dat die waarheid en geloofwaardigheid van die

evangelie nou self op die spel staan, wanneer die adiafora nie langer adiafora is nie, onskuldig nie

langer onskuldig nie, wanneer die gestalte van die kerk ‘n saak van waar of vals word, van trou of

ontrou aan die evangelie.

Ook Jonker dink na oor dié grense aan die vryheid wat beoefen kan word en die vraag

wanneer die sigbare gestalte van die kerk begin blyke gee dat ons die evangelie dalk wel nog preek

maar nie langer meer “hoor” nie. Van sy invloedrykste werk word in dié vroeë jare van sy

bediening en later tydens sy rol as aktuarius geskryf, oor vrae rondom die gestalte van die kerk.

“En as jou broeder sondig …” (1957) dink oor die noodsaak van tug om die heiligheid van die kerk

te probeer beskerm in die geledere van ‘n volkskerk. Die Sendingbepalinge van die Ned. Geref.

Kerk van Transvaal (1962), ten spyte van die oninspirerende titel is ‘n dramatiese klein strydskrif

wat die historiese gestalte van die kerk toets aan die teologiese oortuigings van die Skrif en

Belydenisskrifte. Sy intreerede by UNISA as professor in kerkgeskiedenis en kerkreg, Om die

regering van Christus in sy kerk (1965) werk hierdie oortuigings op ongeëwenaarde wyse uit, en

beïnvoed oor dekades daarna nog die denke in plaaslike kerklike kringe, tot wanneer die VGKSA se

nuwe kerkorde in die 90er jare opgestel word. Die titel vat presies saam waarom dit vir hom gaan.

Hy sluit onder andere ook aan by Barmen. Presies dit was immers destyds die aanspraak van

die Barmen Verklaring. Deur gelowiges van Joodse afstamming uit die ampte van die kerk uit te

sluit, is die grense van wat moontlik was in die kerk van Jesus Christus oorskry. Daarteen moes

bely word – dat Jesus Christus die Heer is van die kerk, en dat sy Woord alleen bepaal wie aan die

kerk behoort, en wie nie. Hier skuil die grootste versoeking vir die Protestantisme van sy dag,

volgens Jonker, as Christus nie in sy kerk regeer nie, maar die wil en behoeftes van mense. ‘n

Groter misverstand aan die kant van die kerk is moeilik denkbaar. Dit kan alleen gebeur “vanuit ‘n

teologiese insinking waarin die wese van die kerk totaal misken word,” soos wanneer “die leer van

die volksoewereiniteit op die kerk oorgedra word” en die kerk “as vrye assosiasie van

eendersgesinde individue misverstaan word, waar die wil van die meerderheid eenvoudig geld.”

So ‘n versoeking, so ‘n misverstand, so ‘n teologiese insinking kan alleen teengestaan word

deur “’n teologiese terugkeer tot die Skrif,” waarin die evangelie opnuut weer ook gehóór word,

soos in die Duitse Kerkstryd, wat hy beskryf as “’n kragtige Bybelse reaksie teen hierdie soort

kerkreg.” Die orde van die kerk moet vloei uit die kerk se belydenis, nie vanuit die wil van lidmate

of die belange van enige kulturele of volksgroep nie.

Hierdie versoeking en hierdie misverstand is sedert die 19e eeu egter binne die Protestantisme

so wyd verbrei dat ons so gewoond geraak het aan wat nie in die kerk durf bestaan nie, dat ons dit

as die normale aanvaar, eenvoudig daarvan uitgaan dat dit nie eintlik anders kan nie, en selfs teoloë

dit regverdig en rasionaliseer. Reeds in Aandag vir die kerk beskryf Jonker dié toestand in die kerk,

soos dikwels daarna weer, deur die jare. Dit word naamlik moontlik om “kerklike verskeurdheid”

maklik goed te praat.

Indien dit waar is dat die sigbare kerk ‘n menslike maaksel is wat ingerig word na die smaak en wil

van die lede, dan is dit onontwykbaar dat die sigbare kerk uiteen sal val in talle afsonderlike

kerkgenootskappe. Wat maak die uitwendige vorm nou ook eintlik verskil aan die inwendige,

onsigbare eenheid? Die gevolg van hierdie standpunt was die aanvaarding van die gedagte van die

legitieme pluraliteit van kerke, dikwels genoem die pluriformiteit van die kerk. Daarmee is dan bedoel

dat daar natuurlik net één onsigbare kerk is, maar dat dié een kerk homself openbaar in ‘n veelheid

van genootskappe wat verskillend is in die verskillende tye, lande, volkere en by verskillende mense

… Dat die verskeurdheid van die kerk sonde is, word dan nie meer gevoel nie en die wesenlike

verskille tussen die verskillende konfessionele groepe word vervlak tot verskille in vorm

(pluriformiteit). In grootse ruimhartigheid dink niemand daaraan om ander mense die goeie reg te

ontsê om op hulle eie wyse en plek hulle eie genootskap in die lewe te roep as ‘n volkome legitieme

moontlikheid van kerk-wees, naas die kerk waaraan ‘n mens self behoort nie.

Kortom, die sigbare gestalte en orde van die kerk word bepaal deur ‘n houding van ons-gun-aandie-

ander-wat-ons-ook-het-maar-op-hulle-eie-plek-en-hulle-eie-manier. Dis geen wonder, sê

Jonker, dat die 19e eeu ook die eeu sou word van “die vermenigvuldiging van die kerk” nie. Dat die

kerke wat uit die Hervorming voortgekom het “op allerlei manier onderling verdeeld geraak het en

hulleself in nasionale landskerke gaan konsolideer het, was nie (Calvyn) se bedoeling nie en ook nie

sy skuld nie.” Oor Calvyn se passie vir die sigbare eenheid van die kerk bestaan daar geen twyfel

hoegenaamd nie. Wat in die praktyk anders ontwikkel het, “moet aanvaar word as ‘n verskeurdheid

van die één ware kerk wat nie moet wees nie, en nie as ‘n legitieme veelheid van kerke nie.”

Natuurlik vra sigbare eenheid nie eenvormigheid nie. Die wonderbare verskeidenheid

waarvan die Skrif getuig dien juis die eenheid van die kerk. Die “natuurlike verskille tussen

mense,” ook die “verskeidenheid van volksverband, afkoms of sosiale status” word nie in die kerk

opgehef nie, maar “die verskeidenheid mag nie op sodanige wyse waardeer word dat dit die

onderlinge gemeenskap in die kerk bedreig nie.” So bly die belydenis ‘n self-kritiese belydenis.

“Wat hom as kerk aandien, staan op aarde voortdurend onder die vraag na die egtheid daarvan.”

Wat hom in die praktyk openbaar as ‘n verskeurdheid wat saamhang met doodgewone vleeslikheid,

hardkoppigheid, menslike gegriefdheid, vooroordeel en dergelike dinge meer, is ten diepste ‘n bewys

daarvan dat die Woord van God nie ten volle gehoor is en in al sy waarheid aanvaar is nie.

Die sondige verskeurdheid moet bely word as skuld. Dis omdat die kerk nie uit sy eie waarheid

geleef het nie dat die verskeurdheid ingetree het. Terselfdertyd word die belydenis egter ‘n oproep

tot bekering en vernuwing. Gereformeerde kerke word geroep om blywend te reformeer, in hulle

gehoor-gee aan die Woord van God. Gelowiges durf hulle nie by die verskeurdheid van die kerk

neerlê asof dit ‘n normale toestand is nie.

Hulle moet naarstiglik daarna strewe om hulle eenheid wat in Christus gegee is, ook in die sigbare

te bely en te belewe, en so saam te voeg wat tot die ware kerk behoort.

Na Gereformeerde oortuiging geskied dit deur die beoefening van kerkverband, soos wat hulle die

veelvuldige gegewens van die Skrif hieroor gehoor en verstaan het.

Ons gereformeerde voorouers het die Skrif goed begryp toe hulle in hierdie opsig gespreek het van

die kerkverband, want in die gereformeerde kerkverband vind die gemeenskap tussen plaaslike

kerke die kanale vir ‘n ordelike uitdrukking.

Waar die evangelie ook gehóór word, bestaan hieroor geen vrye keuse nie.

In elk geval is dit ontoelaatbaar om sommer te sê dat kerkverband nie nodig is, as die lede van die

kerk dit nie begeer nie. Kerkverband rus nie op die wil van die lede nie – dit sou reine

kollegialisme wees – maar op die eenheid van die kerk in Christus, sy Hoof. Al die lede van die

liggaam het mekaar nodig, of hulle dit wil weet of nie (vgl. 1 Kor. 12:21!). Gewone onwil om

gemeenskap te hê met ál die broeders en susters kan nooit as ‘n teologiese motief geld waarom die

gereformeerde opvatting van die noodsaaklikheid van die kerkverband teëgestaan word nie. Dit is

veral natuurlik onhoudbaar indien die noodsaaklikheid van die kerkverband wél aanvaar word

waar dit plaaslike kerke uit dieselfde volksgroep geld, maar van die hand gewys word waar dit

kerke van ander volks- of kultuurgroepe geld. Dan word dit immers duidelik dat dit nie prinsipiële

besware teen die kerkverband as sodanig is wat geld nie, maar onteologiese oorwegings.

Kortom, in die blywende strewe om die sigbare gestalte van die kerk beter te laat getuig van die

diepste aard van die kerk, lê ‘n tweede antwoord op die vraag hoe dit herkenbaar word dat die

evangelie ook gehóór word. Hierdie strewe sluit onder andere in dat sigbare onderlinge verband

gesoek en beoefen word, sodat die verskeidenheid van natuurlike en kulturele gawes nie in

werklikheid skeiding en sondige verskeurdheid meebring nie.

In die Leuenberg ekklesiologie en in die strewe van die Lutherse en Gereformeerde

wêreldliggame na meer sigbare vorme van gemeenskap vandag, gaan dit om presies dieselfde

uitdagings en vrae, om die oortuiging dat die belydenis dat die kerk aan Jesus Christus behoort

sigbaar sal word ook in ons konkrete historiese gestaltes, en dat ons sigbare en geleefde eenheid die

natuurlike en kulturele verskeidenheid behoort te “transendeer”, maar daarom ook om die

skuldbelydenis dat ons in die Protestantisme toegelaat het dat talle “nie-leerstellige faktore” in

werklikheid swaarder weeg, wat Jonker die “onteologiese oorwegings” noem, totdat dit vir ons die

normale toestand en die vanselfsprekende geword het.

In stede van vra hoe ons die eenheid wat ons reeds in Christus is sigbaar kan gestalte gee

sodat die wêreld kan glo, vra talle verwonderd waarom sigbare eenheid hoegenaamd nodig is? Juis

dié vraag verraai dat die evangelie dalk wel verkondig, maar nie gehoor word nie.

Die lewe, getuienis en diens van die kerk

Sowel Calvyn, die Gereformeerde tradisie, die Leuenberg proses, asook Jonker, gee egter ook nog

‘n derde antwoord op die vraag waaruit die “en ook gehoor” sal blyk. Leuenberg praat van die lewe,

die getuienis en die diens van die kerk, waaruit ook sigbaar word dat die evangelie gehoor word.

Jonker praat in Aandag vir die kerk van die “roeping” van die kerk.

Dwardeur sy hele bediening en werk het hy egter oor dieselfde saak op talle maniere

nagedink en gepraat. In Op weg met die teologie beskryf hy Calvyn se omvattende visie van die eer

van God, die verlossing van die ganse skepping en die heiliging van die lewe. In Christus, die

Middelaar eindig hy met ‘n hoofstuk oor die verwerkliking van die versoening in die geskiedenis.

In Die Gees van Christus bespreek hy die Heilige Gees en die nuwe lewe as heiliging indringend en

eindig hy met ‘n hoofstuk oor die reikwydte van die werk van die Gees.

In sy huldiging aan Berkouwer, “Dogmatiek en Heilige Skrif,” herinner hy daaraan dat

Berkouwer meermale vir Bavinck instemmend aangehaal het dat in tye van dooie ortodoksie,

ondanks alle erkenning van die Skrifgesag, die teenstand teen die Woord tog net so sterk aanwesig

kan wees as in ander tye. Dit beteken vir Berkouwer dat ware erkenning van die Skrifgesag nog iets

anders is as bloot ‘n saak van korrekte belydenis, as vroom en ernstig bely dát die Skrif

gesaghebbend is. “Ware erkenning van die Skrifgesag … is ‘n dáád van gehoorsame onderwerping,

prakties en eenvoudig.” Nie hulle wat met groot erns beroepe op die Skrif en Skrifgedeeltes doen, is

altyd ook dié wat die Skrif “hoor” nie.

In sy huldiging aan Durand, “’n Nuwe Weg,” beskryf hy hom as “’n bybelse teoloog,” en wel

in die sin wat Durand die hoor van die Woord uitwerk in sy proefskrif Heilsgeskiedenis en die

dialektiek van syn en denke. Vir hom maak Durand se omgang met die Skrif hom tot klassieke

voorbeeld van ‘n Gereformeerde teoloog. “Wat anders maak ‘n mens Gereformeerd, as die passie

vir die luister na die Skrif as die betroubare Woord van God wat in alle dinge gesag oor ons het en

elke gedagte gevange wil neem tot gehoorsaamheid aan Christus? Juis as ‘n Gereformeerde teoloog

wil Durand dus besig wees met die aktuele vrae van ons tyd. Wat is meer Gereformeerd as die

hartstog vir die heerskappy van Christus oor elke ‘duimbreed van ons werklikheid’?”

Vir ons studente verduidelik Jonker die hoor van die Woord in die volheid van die lewe in sy

Die Bybel en Gods wil vir ons lewe. Vir die kerk skryf hy ‘n studiestuk wat lank en wyd nog gelees

sou word en in die ekumene vrug sou dra, oor Die Reformatoriese sola scriptura en die Skrifberoep

in etiese vrae. In sy talle preke, waarvan slegs weinige gepubliseer word, weerklink die bybelse

roeping dat die evangelie só gehoor sal word dat dit hande en voete sal kry, soos in Die liefde van

Christus dring ons. In sy jarelange meditasies Saterdae in die openbare pers help oriënteer hy

landswyd tallose lesers rondom alledaagse lewensvrae vanuit die Woord.

Hy skryf uitstekende akademiese bydraes oor etiese temas waarin die hóór van die evangelie

uitgedaag word deur ander lojaliteite, soos oor selfliefde en selfhandhawing; oor Calvyn se etiek;

oor die Heilige Skrif en sosiale etiek by Calvyn; oor die vraag of daar ‘n soort kritiese verwantskap

bestaan tussen Calvyn se pneumatologie en dié van die Anabaptiste, wat te make het met die

“brandende vuur van ‘n visioen” vir ‘n samelewing waarin geregtigheid woon; oor die belang van

die Ou Testament vir die dogmatiek, omdat dit die kerk se oë open vir die belangrikheid van die

aarde en die lewe. In ‘n opstel van baanbrekersbelang verduidelik hy die redes vir die aktualiteit van

die sosiale etiek vandag, juis ook vir die kerk wat in die tradisie van Calvyn wil leef en die Woord

wil hóór.

Talle male lewer hy bydraes oor die sendingtaak van die kerk, oor evangelisasie, oor

getuienis, oor die aktualiteit van die sending vandag. Hy dink telkens na oor die moderne tyd met sy

veranderende uitdagings en hoe kerke en bekende teologiese figure op hierdie uitdagings reageer –

op maniere wat ewegoed in Leuenberg se “The Church of Jesus Christ” kon verskyn het, waar ook

indringende besprekings gewy word aan die uitdagings wat pluralistiese, sekulêre, demokratiese

samelewings aan die kerk se getuienis rig.

Hierdie derde reaksie op die vraag waarin sigbaar word dat die evangelie nie net gepreek nie,

maar ook daadwerklik gehoor word, word goed verwoord in die titel wat Flip Theron en Johann

Kinghorn gee aan sy huldigingsbundel met sy 60ste verjaardag, Koninkryk, kerk en kosmos. In hulle

woorde, “As instrument van die koninkryk staan die kerk ook in diens van die kosmos. Op watter

wyse hierdie diens kan geskied sonder dat kerk en teologie maar net dienstig word aan die wêreld,

is ‘n saak waarmee hy voortdurend worstel.” Die wyse waarna hy soek, is die hoor van en die

gehoor gee aan die Woord.

Op kenmerkende en aangrypende wyse beskryf hy hierdie weg as hy in 1986 die geestelike

onderhoud tydens die NGK se Algemene Sinode waarneem oor “Die taak van die Ned Geref Kerk

vandag in diens van die koninkryk.” Waaruit word die kerk sigbaar, herkenbaar? As die kerk deur

die Gees van Christus bevry word om in diens van die koninkryk konkreet in die wêreld te kan

lewe, te kan getuig, te kan dien, te kan navolg, te kan liefhê – sodat die wêreld kan glo.

4. Gereformeerd? – Oor die geloofwaardigheid van die kerk

Kortom, die Reformatoriese siening van die kerk kan saamgevat word in dieselfde drie motiewe wat

ons by Calvyn aantref, in die Gereformeerde tradisie, in die Leuenberg ekklesiologie – en ook in die

denke en lewe van Willie Jonker. Die kerk hoor die evangelie as hy bely dat hy nie aan homself

behoort nie, maar aan Jesus Christus, as hy daarna strewe om hierdie belydenis ook in sy eie

konkrete gestalte en orde sigbaar en herkenbaar te maak, en as hy hierdie belydenis prakties uitleef

deur woord en daad in diens van die koninkryk.

Dit roep egter oombliklik ‘n laaste motief na vore, eweneens van sleutelbelang van Calvyn tot

by Jonker, te wete die geloofwaardigheid van die kerk. Dis naamlik moontlik dat die kerk in die

maniere waarop homself sien, homself orden en homself uitleef die waarheid aangaande die kerk

kan verloën, kan misverstaan, prysgee, kan verruil.

Dalk die eerste voordrag wat Jonker op Stellenbosch vir studente gehou het – in September

1971, by die CSV op Bainskloof – was oor “waaragtigheid.” Daarna sou hy baie hieroor bly praat

en skryf – by die Suid Afrikaanse Missiologiese Vereniging in 1979 oor die “geloofwaardigheid

van die kerk”; tydens die geestelike onderhoud van die NGK se Algemene Sinode in 1983 oor “die

geestelike toestand van die Ned Geref Kerk”; in die feesbundel ter herdenking van die 125-jarige

bestaan van die Teologiese Seminarium in Stellenbosch in 1984, wat afsluit met die bede: “Mag dit

so wees dat daar oor vyf en twintig jaar gesê sal kan word dat die teologie wat aan die Kweekskool

op Stellenbosch beoefen is getrag het, al was dit dan in swakheid, om aan die Woord van God

getrou te bly en die kerk met die waarheid te dien.”

Dis sy passie sedert sy eerste publikasie, die proefskrif oor die kerk in die nuwere Rooms-

Katolieke denke. Dit loop uit op die insig dat die Katolieke Kerk die “histories-geworde kerk” en

dus die “sigbaarheid” van die kerk “verselfstandig” teenoor Christus en dit daarom “normloos en

selfstandig” maak, eenvoudig wat histories gegroei het “apologeties inbind,” dit aanvaar en

verdedig, sodat dit nie meer moontlik is om”voluit dogmaties” en dus self-krities oor die kerk te

praat nie. Dit eindig daarom met die bede: “Mag Christus self sy Kerk dit op die hart bind dat Hy bo

alle dinge aan die Kerk as Hoof gegee is, en mag die verheerlikte Hoof sy verskeurde Kerk weer lei

na ‘n verstaan van die eenheid van die één liggaam, en ‘n sigbare uitlewing daarvan in

gehoorsaamheid aan Hom!” (sy eie kursivering).

Dis die dryfveer agter sy laaste groot publikasie, die terugblik van Selfs die kerk kan

verander. Dit kan gelees word as sy persoonlike worsteling om die waaragtigheid en

geloofwaardigheid van die kerk. Deur die jare het dieselfde versoeking van verskillende fronte

gedreig, in verskillende gedaantes, maar verborge daar agter tog telkens weer dieselfde verleiding,

om in geloof en belydenis, in sigbare gestalte en strukture, in lewe en openbare strewes nié getrou

en herkenbaar kerk van Christus te wees nie. Tot kort voor publikasie wou hy die boek “Kla jou

moeder aan” noem, na aanleiding van Hos 2:1, maar natuurlik ook in direkte navolging van Calvyn.

As Calvyn hierdie Boek III van die Institusie oor die kerk begin, verduidelik hy hoe die kerk ons

almal se moeder is, sonder wie ons nie kan nie, van wie ons onsself nooit kan afskei of losmaak of

wegskeur nie, omdat daar geen ander kerk as dié een kerk, ons moeder, is nie, maar dat ons juis

daarom gevra word om blywend self-krities na onsself te kyk, en te vra of ons die sakramente

inderdaad bedien soos wat Christus ons beveel het, en of ons die evangelie inderdaad preek én hoor

as die Woord van die lewende Christus self. Dit was eers kort voor publikasie dat tekens van hoop

Jonker op die meer optimistiese titel sou laat besluit.

In dalk sy laaste akademiese artikel oor “Kragvelde binne die kerk” (1998) bied hy vir oulaas

‘n sleutel tot sy eie lewe en denke. Van vroeg af, sê hy, het drie kragvelde binne die NGK gestry om

die hart van dié Kerk, te wete ‘n Gereformeerde karakter, ‘n volksverbondenheid en ‘n

evangelikaliese spiritualiteit. Vir die grootste deel van die vorige eeu was die NGK in die praktyk ‘n

volkskerk, en is predikante wat die Gereformeerde karakter van die kerk wou bevorder volgens “die

oer-gereformeerde beginsels van die Dordtse kerkorde”, sodat “dit noodsaaklik is dat gemeentes

van verskillende volks- en kulturele groepe in één kerkverband saamgesnoer behoort te word” as

dissidente beskou en as polities gediskrediteer. Na die veranderinge op die openbare terreine het die

evangelikaliese spiritualiteit om begryplike redes sterker geword en allerweë gewild en invloedryk.

Hierin word die rype vrug van die 19e eeu en die liberale siening van enkelinge wat self vrye

keuses maak en hulle eie self-vervulling soek, soos en saam met wie hulle wil, nou voluit sigbaar.

Of die volksverbondenheid dalk ook nog weer in die NGK gaan terugkeer as ‘n kragveld kon hy nie

toe al voorspel nie, maar dit kan dalk maklik weer gebeur, oordeel hy. Slegs die tyd sou leer of die

Gereformeerde karakter van die NGK weer ‘n “innerlike dinamiek” sou kon openbaar.

Kortom. ‘n Kerk is nie Gereformeerd omdat hy die woord in sy naam dra en homself so

beskryf nie, maar op grond van sy ekklesiologie: hoe oor die kerk gedink en bely word, hoe die kerk

homself sigbaar orden en gestalte gee, hoe die kerk in die wêreld leef, getuig en dien, sy prioriteite,

strewes, lojaliteite, hoop, gebede.

Teen dié agtergrond verkry elke uitdrukking in die aanvanklike aanhalings hulle diepe

betekenis in Jonker se lewe en werk. Die kerk ken geen ander relevansie as om sy taak as

verkondiger van die evangelie met woord en daad met die grootste nougesetheid te behartig nie. Dis

in sy verkondiging en sy uitlewing van die evangelie dat die kerk uitermate relevant is, vir alle tye,

en dis die blywende roeping van die kerk om sy eie aard as lewende gemeente van Christus so

sigbaar te maak in die samelewing dat mense die relevansie van die boodskap en van die

lewensgemeenskap van die kerk sal kan sien. Die enigste pad daarheen is die weg van opregte

Christelike dissipelskap, en dié is meer as net handhawing van die goeie leer, dis ook navolging en

oorgawe, aan God en die mense. Die belydenis dat die kerk aan Christus en aan God behoort, moet

ook die bestaan, die vorm en die struktuur van die kerk as gemeenskap stempel. Daarom bly die

enigste taak van die kerk om voortdurend goed na die boodskap van die evangelie te luister, dit te

verkondig en dit uit te leef as bevrydende woord ook vir daardie spesifieke omstandighede.

Daarvoor is die kerk se eie grootste behoefte een van geestelike aard, naamlik om terug te keer na

die mees elementêre waarheid aangaande homself.

In die boek oor die relevansie beskryf hy die sekulêre gees van die tyd as een van

“verstikkende ongeïnteresseerdheid” in die kerk en sy boodskap. Mense is nie teen die kerk nie,

hulle gee eenvoudig nie om nie. Die kerk tel nie meer vir hulle nie, hulle verwag niks meer van die

kerk nie. Kan dit wees dat van die wortels vir dié houding geleë mag wees in ‘n “verstikkende

ongeïnteresseerdheid” in die kerk sélf in sy eie aard, in sy eie gestalte en sy eie roeping? Kan dit

wees dat mense nie meer iets van die kerk verwag nie, omdat die kerk self nie meer iets van die

kerk verwag nie, maar die kerk van Jesus Christus verruil het vir sosiale instellinge wat ons wel nog

“kerk” noem, selfs “gereformeerde” kerk, maar wat dit nie meer sigbaar is nie? Kan dit wees dat

ons eie gebrek aan geloofwaardigheid en waaragtigheid daartoe bygedra het dat enige verwagting

van die kerk en sy boodskap in die wêreld begin kwyn het?

As Jonker op hierdie Hervormingsondag hier was, sou hy vir seker met ‘n bede gesluit het,

dat die Gees van die Here ons tog sal vry maak.

Trackback from your site.

Leave a comment