Die Vroeë Christelike kerk in Afrika: `n geskiedenis wat ons nie ken nie.

Written by webmeester on . Posted in Artikels

Coenie BurgerDie Christelike kerk het `n veel langer en
dieper verbintenis met Afrika as wat die meeste mense besef.  Daar wag `n baie goeie verrassing op
Christene, veral Christene in Afrika, as hulle hierdie geskiedenis kan herontdek en begin
ontgin vir hulle kerk-wees vandag. 

 

Dit is die oortuiging waartoe Thomas Oden
kom na baie jare se navorsing oor die vroeë geskiedenis van die Christelike
kerk. 

 

Teoloë en historici weet darem lankal van
die verbintenis tussen die Christendom en Afrika.  Uit die Nuwe Testament weet ons reeds van Simon
van Sirene, van die Ethiopiese hofdienaar, van Apollos wat van Alexandrië gekom
het en van Libiërs en Egiptenare wat op Pinksterdag teenwoordig was. 

 

Ons het ook geweet van die sterk
Christelike kerk in Alexandrië (wat waarskynlik deur Markus gestig is) en van
die Christelike gemeenskappe in Carthago en Hippo.  Ons het geweet dat belangike teoloë soos Augustinus,
Tertullianus en Athanasius van Afrika gekom het – hoewel die suspisie by baie was
dat hulle eintlik kwasi-Grieke of -Romeine was en nie werklik Afrikane nie. 

 

Ons hèt geweet van `n lang verbintenis wat
ver teruggaan.  Maar ons het nie besef dat
die verbintenis so diep en so vormend vir die Christendom was as wat Oden
betoog nie.

 

Oden teken `n indrukwekkende prentjie. Sy
navorsing het hom oortuig dat die kerk in Afrika veel sterker was as wat selfs die
beste historici gedink het.  Die tese van
sy boek gaan selfs verder: die Christelike kerk in Europa het `n groot deel van
sy aanvanklike teologie en kultuur van Afrika gekry!  Voordat daar in die sestiende en sewentiende
eeue `n sendingbeweging van Noord na Suid gekom het, was daar in die eerste
vier eeue `n beweging van Suid na Noord. 

 

Hy skryf: “Decisive intellectual
achievements of Christianity were explored and understood first in Africa
before they were recognized in Europe, and a millennium before they found their
way to North America.”

 

Oden het tot die oortuiging gekom nadat hy
vir jare gewerk het aan `n Bybelkommentaarreeks (Ancient Christian Commentary on Scripture) wat die sienings van
teoloë uit die eerste klompie eeue probeer toeganklik maak vir hedendaagse
lesers. Uit hulle navorsing was dit duidelik dat die impak van die Afrika-teoloë
en kerkvaders op die denke van hulle tyd geweldig was.  “We were not prepared for the breadth and the
power of this evidence”.

 

Die vroeë kerk in Afrika het inderdaad gegroei
rondom Alexandrië in Egipte en Carthago (naby die hedendaagse Tunis), maar het veel wyer en en dieper in
Afrika ingestrek as wat aanvanklik gemeen is. En daar was meer name as net
Augustinus en Athanasius.  Daar was ook
Tertullianus, Origines, Cyprianus, Clemens, Cyrillus, Lactantius, Plotinus,
Valentinus, en vele ander. 

 

Die tweede hoofstuk van die boek bevat Oden
se kernargument oor die uitgebreide invloed wat hierdie teoloë op die Europese
kerk gehad het. Hy verwys na nie minder nie as sewe vlakke waarop die
Afrika-kerk die vroeë Christelike denke beïnvloed het:

·        
die ernstige, verantwoordelike
uitleg van die Bybel het sy beslag in Afrika gekry met die werk van Origines en
later Didimus en Augustinus. Hoewel nie almal met al Origines se standpunte sal
saamstem nie, sal min teoloë ontken dat hy die grondlegger van goeie Bybelinterpretasie
was.

·        
die uiters belangrike vroeë
belydenisse van die Christelike kerk oor die Godheid van Christus en die Drieënheid
is tot `n hoë mate gevorm uit Afrika-bronne. 
Dit was teoloë soos Tertullianus, Athanasius en Cyrillus wat die terminologie
en die teologiese denkraamwerke vir hierdie belydenisse geformuleer het.

·        
Die Afrika-kerk het leiding
geneem met die daarstel van prosesse waardeur Christene wat met mekaar verskil het,
kon saamkom en probeer om hul onderlinge verskille deur te praat.  Die prosesse wat gebruik is by die groot
konsilies van Nicea en Konstantinopel is in wese in Afrika ontwikkel!

·        
Die belangrike tradisie van
geestelike afsondering en woestynspiritualiteit is in Egipte begin deur
Antonius.  Daarvandaan sou dit uitkring
na Ierland en ander Europese lande en uiteindelik lei tot die kloosterordes.

·        
die retoriese en dialektiese
vaardighede wat die Christelike kerk in Europa later sou gebruik vir hulle
kommunikasie en verduideliking van die geloof het vir `n groot deel ook uit
Afrika gekom en is ontwikkel deur mense soos Augustinus, Lactantius en
Cyprianus.

·        
Oden is ook van mening dat die
westerse idee van `n universiteit oorspronklik uit Afrika kom.  Ons weet dat die biblioteek in Alexandrië vir
vyf eeue lank die grootste versameling van geskrifte in die wereld gehuisves
het.  Dit het geleerdes van oor die wêreld
getrek en mettertyd het talle filosowe, wetenskaplikes, kunstenaars, opvoeders
en skrywers hulself in Alexandrië gevestig rondom die biblioteek. 

·        
Christelike neo-platonisme wat
vir eeue`n belangrike rol sou speel in die ontwikkeling van die Christelike
teologie het ook sy beslag in Afrika gekry met die werk van mense soos Plotinus.

 

Oden is van oordeel dat min dinge tans
belangriker is vir die Christendom as dat die kerke in Afrika hierdie stuk
geskiedenis herontdek en eienaarskap daarvan neem.  Dit kan
die mite dat die Christendom eintlik nie in Afrika tuishoort nie finaal die nek
inslaan.  Die waarheid is dat die
Christendom `n langer, deurlopende geskiedenis in Afrika het as Islam en selfs
van die Afrika-godsdienste. Om te dink dat
tradisionele Afrika-godsdienste of Islam meer inheems is aan Afrika as die
Christendom is, is feitelik, histories nie waar nie. 

 

So ernstig is Oden hieroor dat hy reeds `n Sentrum vir die Studie van die Vroeë Christendom
in Afrika
begin het waarby `n hele paar universiteite betrokke is.  Hy hoop veral om jonger Afrika-studente te
kry om van hierdie dokumente te bestudeer, te vertaal en teologies te begin
verwerk.  Hy verwag ook dat daar `n
toeloop van christenpelgrims na Noord-Afrika kan kom om van die ou kerke en basilikas te
besoek en om van die dokumente te besigtig, omdat van die plekke nou meer
toeganklik is as tevore.  

 

Die werk moet gedoen word, sê Oden, nie net
ter wille van die historiese belang daarvan nie, maar ook omdat daar geestelike
en teologiese insigte by hierdie teoloë was wat van groot waarde vir die kerk
van vandag kan wees – die kerk in Afrika, maar ook vir die kerk wêreldwyd. 

 

Die vroeë Afrika-kerk was ortodoks in sy
geloof en belydenis en diep geestelik en moreel in hulle lewensstyl. Dit was `n
kerk wat baie, baie moeite gedoen het met die Bybel (dit blyk duidelik uit die
kommentaarreeks waaraan Oden gewerk het!) en tog `n verdraagsaamheid met
onderlinge verskille tussen gelowiges gehad het. 

 

Maar die aspek waarmee Oden dalk die meeste
beïndruk is, is die lydensbereidheid van die kerk.  Hierdie kerk was feitlik deurentyd onder druk
en vervolging (deur oa die Romeine en die Arabiere) en duisende van hulle het
met hul lewens betaal vir hulle geloof. 
Oden gaan sover om te verklaar dat die bloed van Afrika-martelare die
saad van die Europese Kerk geword het. 

 

Dit is so `n paar proesels uit `n baie
interessante en belangrike boek.  Daar
sal seker mense wees wat van Oden se aansprake bevraagteken, maar die
totaalprentjie is oorweldigend.  Afrika
het `n diep, diep band met die Christendom – soveel so dat gesê kan word “Africa shaped
the Christian mind!”

 

Na die lees van die boek het ek persoonlik
oor drie sake bly dink. 

 

Eerstens het die boek my gevoel van verbondenheid aan Afrika ongelooflik
versterk. Ek het reeds verwys na die stemme wat van tyd tot tyd vra of die
Christendom regtig tuishoort in Afrika. 
Die verhaal van Oden help `n mens om die vrae helder en feitelik te
antwoord.  Selfs meer: dit sterk my
gevoel dat dit nou `n tyd is vir Christene om in die geloof vas te byt en te
doen wat ons kan
en moet – vir Afrika en vir Christus. Christene het `n lang en diep band met
Afrika en baie Christene het met bloed betaal vir ons reg om hier te wees, hier
te werk en hier te dien.

 

As ek in die eerste plek oor myself dink as
`n blanke Afrikaner kan ek dalk soms wonder of ek hier tuishoort, maar as ek in
die eerste plek oor myself as `n Christen dink verander alles.  Nie net hoe ek dink oor myself nie, maar ook
hoe ek dink oor Afrika en oor sy mense, en oor wat ek hier maak.

 

Tweedens het Oden se verwysings na die vroeë kerk se lyding en
lydensgereedheid my diep laat dink oor myself en oor my kerk.  Westerlinge is diep, diep wars vir lyding – Doug
Hall praat van ons “incapacity to suffer”. 
Om nie
te ly nie en om lyding ten alle koste te vermy het `n primêre
gedragsdeterminant van baie Westerlinge geword. 
As ons op die punt gekom het dat `n gemaklike lekker lewe sonder pyn vir
ons `n onverhandelbare lewensreg geword het, is ons geestelik in diep
moeilikheid.  Sonder `n openheid vir
lyding – ons eie en ander mense s’n – kan
ons nie begin om die evangelie te verstaan nie. 
Om nie eers te praat oor die navolging
van Christus nie. 

 

Afrika is `n land vol pyn en lyding en
hartseer. As ons belangrikste lewensmotto is om nie te sukkel of te ly nie, sal
die lewe hier ongelooflik moeilik kan
raak.  Aan die anderkant: as ons in die
Naam van die Evangelie in die lyding kan inbeweeg en probeer help om dit te verlig, kan ons lewens nuwe sin
en betekenis kry.

 

Derdens: Oden pleit op meer plekke in die boek dat die kerk in Afrika ook
goeie en ordentlike intellektuele werk moet doen.  Terwyl `n mens diep dankbaar is vir die laaste
150 jaar se groei van die kerke veral in Wes- en Suider-Afrika, is dit
kommerwekkend dat daar nie oral goeie Bybelwerk en teologiese werk gedoen word
nie. Daar is reeds tekens dat van die kerk moeilikheid kry omdat daar nie
behoorlike teologiese diepte is nie.  

 

Daar is nog `n rede waarom Oden pleit vir
goeie intellektuele werk.  Hy wonder
versigtig of Afrika nie die potensiaal het om die belangrike gesprek tussen die
Christendom en Islam op `n meer konstruktiewe manier aan te pak as wat elders
gebeur nie.  Hy meen dat `n gesamentlike
studie van die vroeë geskiedenis van die twee groepe in Afrika dalk verrassende
uitkomste kan
lewer.  Maar dit gaan nie gebeur as die
Afrika-kerke nie `n sterker intellektuele basis kry nie.  Anders wat baie Christene dink, het Islam `n
sterk intellektuele tradisie en is dalk meer gereed hiervoor.

 

Ek droom al `n jaar of wat van `n sentrum –
amper soos diè in Alexandrië destyds – waar Christene van oor Afrika
bymekaarkom, saamdink en saampraat oor die Bybel en hierdie vroeë geskiedenis
van die Afrika-kerk en saam probeer hoor wat die Here vir ons sê oor hoe ons
saam vir Afrika in hierdie troebel tye tot seën kan wees. 

 

Coenie Burger

 

Thomas C Oden - How Africa shaped the Christian MindHow Africa shaped the Christian Mind: Rediscovering the
African Seedbed of Western Christianity – Thomas C. Oden. 2007.  IVP Books 

 

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment