Vrydag 30 Desember: Brugbouers kan so help in 2012 – Die Burger Godsdiens Aktueel 28-12-11

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Nico Nel vertel my die ander dag die storie van die onderwyser wat vir Jannie die volgende vraag gevra het: “As die Paarl 12 km van Wellington af is, hoe ver is Wellington van die Paarl af?” Jannie het net sy kop geskud. Die onderwyser het die vraag herhaal. Weer het Jannie net kop geskud. Daarop het die onderwyser aan Jannie gevra: “Wat op dees aarde is so moeilik aan die vraag?” Daarop het Jannie geantwoord: “Meneer sien, dit is nie altyd so eenvoudig nie. Kersfees is baie naby aan Nuwejaar, maar Nuwejaar is baie ver van Kersfees af!”

Die plattelanders sal op `n anderse manier die storie kan beaam. Vir hulle is die Kaap dikwels veel nader as wat die platteland vir die Kapenaars is.

Op `n vreemde manier het die storie my diep laat dink oor verhoudinge. Ons verhoudinge met mekaar en ons verhouding met God. Jy sien, ek gee soms meer om vir jou as jy vir my en omgekeerd. Met ons en God is dit ook nie anders nie. Die Woord leer ons dat daar tussen ons en God `n kloof is wat van die mens se kant onoorbrugbaar is. In dieselfde asem is God nader aan ons as die klere aan ons lyf. Die afgelope dae het ons Kersfees, God se naderkom aan ons, gevier: Christus, Immanuel, God met ons! Maar dit het implikasies vir ons in 2012.

Hulle sê my dat een brugbou-tegniek, is om die brug van twee kante te bou, totdat die twee kante presies in die middel bymekaar uitkom. Dit het ingenieurs al laat bloedsweet. ’n Mens wens dit kon so in alle verhoudings werk, maar soos gesê, soms is die afstand tussen jou en my verder as tussen my en jou. Waar laat dit ons?

Die Burger se onlangse jeugleierskonferensie, wat gehandel het oor die polariteite in ons samelewing, het my gehelp om verder hieroor te dink. Op die ou end het jy ware leierskap nodig om ’n besluit te neem dat daar ’n brug gebou moet word. Iemand moet die inisiatief neem. Die klowe in ons samelewing is steeds groot, maar Christus het ons kom wys hoe daar gebou kan word. Brugbouers kry soms baie seer, maar hulle gaan leef onder die mense na wie toe hulle die brug wil bou. Hulle ag hulself nie belangrik nie. Hulle bou nie ego’s en profiele nie, maar brûe. Hulle kan jammer sê én vergewe, tot sewentig maal sewe keer. Hulle verstaan kompleksiteit, kan meer as een ding gelyktydig vashou, fyn luister en tree met groot wysheid en sensitiwiteit op. Hulle praat nie as hulle kwaad is nie en kies hulle woorde fyn. Hulle jaag die waarheid meedoënloos na en vermy die leuen en halwe waarhede. Hulle leef die droom dat die kloof oorbrug kan word.

Daar is veel meer wat ons sou kon sê, maar op die ou end bid hulle en rus hulle in God, wat self die Meesterbouer was en is en kom wys het hoe dit gedoen word.

braam@kaapkerk.co.za

Trackback from your site.