Waar en by wie leer gemeentes as hulle vasgeloop is?

Written by Frederick on . Posted in Transformasie

Jy is ‘n kerkraadslid (of gemeentedominee), dit gaan moeilik in die gemeente, oor ‘n tyd al raak julle antwoorde en julle hoop minder. Gemeentelede kyk na julle as kerkraad vir antwoorde.  Julle het al verskeie “bekende“ antwoorde probeer soos: 
• meer kommunikasie met die wyke,
• dominee is onder druk gesit om lidmate meer te besoek,
• ‘n jeugwerker is aangestel,
• na ‘n lang debat is die orrel vervang met ‘n “band”  en
• julle is besig om ‘n kleingroepmodel te implementeer om wyke wat nie meer werk nie, te vervang. 
• O ja julle stuur die dominee gereeld vir VBO-kursusse sodat hy op hoogte kan bly van nuutste ontwikkelinge.

Julle is in sommige gevalle tevrede dat van die veranderinge ‘n verskil gemaak het, maar oor die algemeen het daar nog nie werklik deurbrake gekom nie. Jy woon die Ringsitting by met die hoop om daar antwoorde te kry op jou verslae, maar jy leer baie gou dat die gemeente hier moet verslag doen en liewer van die suksesse praat en nie van die vasgeloothede nie, ons wil darem nou ook nie voorgee asof ons slegter vaar as die res nie.

So waar moet gemeentes leer as hulle vasgeval het?

Laat ek eers die ongemaklike werklikheid gee soos wat ek dit sien. Gemeentes het nie in die sisteem van ons kerke ‘n plek waar hulle eerlik mag wees oor probleme nie ( Ek weet daar is uitsonderings en ek is dankbaar daarvoor maar hulle is die uitsonderings – ek kom later na hulle terug)  In die normale gang van sake is gemeentes eintlik maar aan hulle eie lot oorgelaat om self te sien en kom klaar.  Ek was self in my bediening in gemeentes waar ons raadop was en as ons nie self leergeleenthede geskep het nie, sou ons nie uit ons probleme kon kom nie.  Laat ek eerlik wees- dikwels het ek ervaar dat ringsgemeentes soms heimlik sit en wag dat buurgemeentes swaar kry sodat hulle daaruit voordeel kan kry. Wie gaan die buit verdeel as die volgende gemeente vou! Is meer dikwels die vraag, as hoe kan ons hierdie gemeente wat nou sukkel help om nuwe antwoorde te kry.  Vir die rekord as ek terugdink het ek aan beide kante van die draad gesit en nie noodwendig beter gedoen as ‘n passiewe wag ek kyk houding as gemeentes in die Ring sukkel nie!

As daar waarheid is in wat ek hierbo sê beteken dit dat ons kerklike sisteem nie ‘n sisteem is waar ons by mekaar kan leer nie, maar ‘n sisteem waar ons mekaar beheer en kontroleer.

Hoe gaan ons dit breek, kan ons dit breek?

1. Een van die grootste verassings vir ons in die Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes is hoe baie gemeentes by mekaar kán leer. Nie alleen uit die ander gemeentes se suksesse nie maar veral uit hulle foute. Ek weet dit is wat die teorie sê oor die sg „excelent mistakes“- die ervaring van die groot korporatiewe firma in Minnesota- 3M wat geleer het dat as hulle nadink oor hulle „foute“ hulle meer leer as wat hulle probeer om hulle suksesse te leer.  Ek het keer op keer gesien hoedat kleiner gemeentes met baie krake in hulle sisteem, ruimtes skep waar groot en suksesvolle gemeentes eerlik kan raak oor wat hulle nie regkry nie.  Die punt is eenvoudig gemeentes leer op hulle beste wanneer hulle by mekaar kan leer, maar as gevolg van die kerklike sisteem waarin ons sit- ons noem dit die verband- het ons verleer om by mekaar te leer en sal ons in baie gevalle eerder sterf voordat ons leer by ander gemeentes.

2. Ek is gefassineer deur die IPL- Indiense Permier Liga wat tans in Suid-Afrika met hulle tweede toernooi besig is.  Hulle het dit reggekry dat die beste kolwer in die wêreld Sachin Tendulkar en ‘n jong ster soos JP Duminy vanoggend saam kolf vir die Mumbai Indians(MI). Watter beter leerskool kan ‘n jong Duminy nie voor gevra het nie? Anderom, watter beter geleentheid het Tendulkar nie om sy vaardighede oor te dra aan ‘n jong ster nie?  Die konsep is eenvoudig- 8 spanne met 4 internasionale spelers in elke span, die beste wat krieket kan bied- speel saam met gevestigde en opkomende Indiese spelers.  Hulle word vriende, leer by mekaar deel geheime met mekaar, maak saam nuwe planne. Krieket gaan eenvoudig nie weer dieselfde wees nie. Die wenners?  Die spel krieket word internasionaal hierdeur bevoordeel, omdat iemand die visie gehad het om die kompetisie-lyne vir ‘n paar weke te deurbreek en ‘n ruimte te skep waar daar  by mekaar geleer mag word. Dit terwyl dit die ICC nie ‘n sent kos nie!

3. Ek weet daar is Ringe waar daar hard gewerk word aan die verhoudings onder leraars en gemeenteleiers en dat daar ‘n groter gewilligheid is om by mekaar te leer.  Let op ek praat nie hier van ondersteun alleen nie. Ondersteuning sonder dat ons mekaar uitdaag tot “leer” is nie op die lang duur volhoubaar nie.  Ons kan by hierdie ringe leer.  Ek het persoonlik die meeste geleer by Ringe in die Oos Kaap waar die Sinodale sisteem oor tyd gewerk het daaraan om Ringe weer groei- en leer-punte te maak. Ek weet van ‘n Ring waar hulle oor ‘n kort tyd ‘n hele klomp sukkelende gemeentes deur die inisiatiewe van die Ring gehelp het om weer meer selfstandig te raak. Hulle het redelik radikale dinge gedoen soos oa die wyse waarop hulle projekte in die Sinodale sisteem befonds, ensovoorts.

Gemeentes is ryper as ooit om te leer.  Ons weet almal dat ons op een of ander manier vasgeloop is en dat die antwoorde nie in die studeerkamers van die akademici ontwikkel gaan word nie, maar daar waar gemeentes met waagmoed risiko’s gaan loop, foute gaan maak maar ook nuwe ontdekkings gaan maak waarvan ons almal kan en moet leer.  Die Tendulkar’s en die Duminy’s moet saam kan leer, is hulle dan nie veronderstel om deel van dieselfde liggaam te wees nie?  Dit is nooit bedoel dat hulle met mekaar moet kompeteer nie, eerder dat hulle mekaar moet ondersteun, aanmoedig en bemoedig sodat die koninkryk deur hulle kan kom!

Die uitdaging is dus denominasioneel maar ook ekumenies  Ek het geleer dat ons eenvoudig meer verstaan van die leiding van die Gees as ons ekumeniese leervennote het, want ons kan mekaar se blindekolle help verlig.

Trackback from your site.

Leave a comment