Wanneer gebed die gemeente-kultuur verander

Written by Frederick on . Posted in Konferensies

Wanneer gebed die gemeente-kultuur verander
leiers wat lewe in onmag lewe in afhanklikheid van die Gees:

Gebedskonferensie
Febr 2009 Stellenberg
Frederick Marais

Ek was nie ‘n dag in die eerste gemeente nie, toe ek die oproep kry:  Dominee ek bid nie (ek sou later verstaan dit is kodetaal vir- in die konsistorie) jy bid, jy is die een wat 7 jaar geleer het, ek nie. Die foon het doodgegaan aan die ander kant en ek het my inlywing gehad in hoe dit is in ‘n gemeente waar daar bidure is maar waar gebed nie deel is van die kultuur van die gemeente nie.

‘n Aantal jare later het dieselfde man- terloops hy was ‘n leier in die gemeente- voorsitter van die eiendomskommissie- een aand by ‘n wyksbyeenkoms tydens gebed skielik opgespring sy baadjie toegeknoop en sy eerste sin in die openbaar gebid:

“God vanaand bid Maan Lombaard Amen. Seker die eerlikste gebed wat ek nog ooit gehoor het.”

Ek wil graag saam met julle dink oor die rede waarom ons sulke gemeenteleiers kweek, mense wat oor jare deel is van die gemeente waar daar
• bidure,
• gebedsbewegings,
• gebedsakies
• week van gebed- dit val my op dat die week van gebed al hoe minder met gebed te make het en maar net nóg ‘n week geword het waarin daar gepreek word
• en gebedsinisitatiewe is, maar waar daar nie ‘n kultuur van gebed is nie.

Met ‘n gebeds-kultuur bedoel ek dat daar in die gemeente nie gebedsinisiatiewe hoef te wees naas ander nie, maar waar dit deel van die DNA van die gemeente is om te alle tye in gebeds-afhanklikheid van die Gees te lewe.

Ek wil graag saam met julle dink oor vrae soos: Waarom dit so is dat ons die een gebedsinisiatief na die ander nodig het, en skeinbaar moeilik daarin slaag dat gebed ‘n vanselfsprekende deel van die gemeente se manier van doen raak? Of waarom voel die gebedsaksie in die gemeente dikwels dat hulle nie regtig deel is van die leierskap nie- so ‘n groepie op die rand wat die hele tyd moet kla en vra om “innings” te kry?

Op ‘n manier is dit my taak om te dink oor die vraag hoe kan ons dit wat ons geleer het in die konferensie so gaan deel maak van die gemeente se manier van doen dat daar n kultuur van gebed sal ontstaan?

Om dit konkreet te maak: Wat kan ons doen om die gebedsbedieninge in ons gemeente oorbodig te maak omdat die gemeente in alles wat ons doen- ‘n gemeenskap van bidders is.

Ek gaan dit aanpak deur aan die volgde aandag te gee:
1. Hoe ons dink oor God
2. Hoe ons ons roeping verstaan
3. Watter soort leierskap is nodig om ‘n gebedskultuur te vestig.

1. Hoe dink(ontdek, vier)  ons God se teenwoordigheid?
Gebed as die dissipline van oorgawe en “self-bekering”

Ek dink ons moet begin met Missio Dei. Die belydenis dat God lewende teenwoordig is en besig is om sy koninkryk te vestig en ons uit te nooi om deel te word daarvan. So kan ons in gemeenskap met God ‘n gemeenskap word van mede-skeppers aan die genesing van ‘n wereld van gebrokenheid.

Binne hierdie beweging van God na die wereld, is en kan gebed nie gesien word as ‘n truuk om God teenwoordig te maak of om sy arm te draai om die koms van die koninkryk beter te doen nie, maar as ‘n dissipline waardeur ons Sy lewende teenwoordigheid in die gemeente en gemeenskap ontdek. Gebed as gemeentelike dissipline is daarom in die eerste plek ‘n dissipline van oorgawe en oopstelling en nie van aktivisme nie.

Die Bybel gee ons vollop getuienis dat die Here dikwels in cognito werk- op maniere en deur mense en gebeure wat nie op die oog af duidelik is dat Hy besig is nie. Hoe moeilik was dit nie vir die bannelinge om te ontdek dat hulle nie bannelinge is nie maar gestuurdes- dat dit nie Nebukadneser is wat hulle weggestuur het nie, dat hulle nie slagoffers is van ‘n politieke magspel nie, maar dat dit God is wat hulle gestuur het na Babel. Die hoop van die koninkryk is ‘n skugter hoop- wat ons nie besit en dikwels nie kan “claim” nie.  Dit beteken allermins dat die hoop nie daar is nie, maar dat ons die dissipline van die gebed van ‘n bekering weg van onsself nodig het om dit raak te sien- God is altyd aktief teenwoordig- dit is dikwels eers in die tye van gebed, afsondering en rus in God dat ons dit begin raaksien.

Die gemeente se eerste gebedstaal is daarom nie woorde nie, maar stilte, afwagting en verwagting. Dikwels is ons woorde ‘n verduistering van wat God besig is om te doen en vir ons te se.

Prakties beteken dit dat ons in die gemeente tye van gebed nodig het waar…
• Gebed as luister verstaan word, volg die ontdekking van God se teenwoordiheid in die wêreld. Hierdie ontdekking lei tot ‘n gebed om die self-bekering van die kerk.  Om bekeer te word van ‘n fokus op onsself. Met Peter se tweede roeping in Joh 20 is dit ‘n roeping as self-bekering van ‘n volgeling van Jesus wat moes leer-so soveel dissiples na hom- dat dissipleskap in die eerste plek te make het om van onsself vrygemaak te word. Deur voortdurend te bid vir die heiliging van die “bose” wereld om ons, verskuif ons die fokus gerieflikheidshalwe weg van onsself na die “sondebokke”om ons. Ons eerste gebedsbeweging is een van stilword, selfontdekking en self-bekering.

• Gebed kan ook ‘n geduldige wag op God wees. Rose Mary Dougherty beskryf dit so “We should listen to the prayer that Jesus is praying in us.” Ek sal later in die voorlegging vra dat ons meer Sabats-tye in ons gemeentes sal inbring van rus en wag op die Here.

• Gebed is ook verwondering- As ons begin by die inisiatief wat God neem- Missio Dei- en geduldige wag op wat God besig is om te doen, sal ons nie anders kan as om ons te verwonder oor Wie god is en wat God doen nie!
Wat ruis in die donker flikkerende bome
in die wind, en glans in die driftige vlae
van die reën, roer in die wortel, stoot
in die sap? — besige Christus, Jy.
Hoe kon ek jou ooit misgekyk het
die sin van dié stuwing gemis het
en so afwesig gestaar het na my?
• Hierdie verwondering groei dikwels uit die geuitenisse van die sendelinge en apostels. Gebed om self-bekering, om self-transformasie word aangewakker wanneer hulle wat buite ons gemeente oor die grense van ons eie belange waarneem hoe die Here werk.

2. Gebede om kwesbaarheid van geroepenes

Daar is ‘n groeiende besef dat gemeentes nie bestaan ter wille van hulleself nie, maar God se geskenk is aan die wereld.  Gemeentes word dus geroep nie om mense na hule toe aan te trek nie, maar om in navolging van Christus nuwe gemeenskap – koinonia in die wereld te gaan stig. Nie aantrek alleen nie maar ook uitstuur, nie versamel alleen nie maar ook verstrooi.

Wat sal die rol van gebed hierin wees? In Lois Barret se boek Treasures in Clay Jars, word die gebed om afhanklikheid van die Gees genoem as een van die patrone van gestuurdheid. Dit is ‘n spesifieke soort gebed waarvan sy hier praat, nl gebed as ‘n oefening in die aflegging van die bediening van die gemeente aan die Here. Op ‘n manier is dit tog baie anders as gebede van voorbidding waarin ons die Here vra om die bediening te seen. Hier is dit ‘n gebed van kwesbaarstelling- dit was natuurlik hierdie saak wat dit vir die dissipels so moeilik gemaak het- hulle wou ten alle koste die kruis misloop- die kenosis van Christus sou hulle enduit dwars in die knop steek. Selfontlediging kom skeinbaar maar swaar vir gemeenteleiers.

1Kor 4 lees ons dat ons kleipotte is wat maklik breek. Ek dink ons moet dit nie verstaan as ‘n strategiese stelling van as ons kwesbaar is, dan word die werk van God- die skat in ons makliker sigbaar nie. Ek dink dit is ‘n onderskatting van die teks- dit is nie ‘n strategiese opmekring nie, maar ‘n identiteitsstelling- dit is wie ons is.Kwesbare, gebreekte stukke erde- wat opsigself nutteloos is- ek meen wat kan jy maak met gebreekte erde-
Potters maal dit fyn tot poeier en meng dit dan in nuwe klei wat dit dan sterker maak, maar op hulle eie is gebreekte stukke erde nutteloos.  Dit is wie ons is, skeinbaar nuttelose stukke onmag. Gebed van geroepenes is daarom- Here maak ons klei in u hande- maal ons totdat ons ons identiteit verloor het en opgeneem kan word in die nuwe gemeenskap wat u skep, sodat ons deel kan wees van u Nuwe wêreld.

Lois Barret se hulle het gevind in hulle navorsing, leiers wat vanuit hierdie gebedshouding leef, ontdek iets wonderbaarliks.  Hulle ontdek dat alles, eintlik niks, van hulle afhang nie, maar dat wanneer hulle stil raak, in hulle onmag beweeg hulle ontdek dat daar ‘n krag is wat hulle meeneem, die krag van die Heilige Gees.  Hierdie krag word nie geaktiveer deur fanvare en gedoe nie, maar leiers wat in hulle onmag opmerksaam genoeg raak om waar te neem dat daar wel ‘n ander krag is.

Dit staan in kontras met die gebed om sukses, vir vol kerke, vir groot bedieninge- dit liewe vriende is die werk van die Here laat dit is sy hande en hy sal dit gee op sy tyd. God werk deur ons kwesbaarheid omdat dit deur die kwesbaarheid is wat die nuwe gemeenskap ontstaan. As ek dit reg begryp is dit presies wat met Christus gebeur het, hy het homself ontledig deur mens te word, slaaf te word, deur vir ons te sterf aan die kruis.  En dit is juis toe Hy in sy onmag gegaan het dat hy die geskiedenis onherropelik omgedraai het.

3. Leiers wat leef vanuit die sabats-rus in God!

Watter soort leierskap het ons nodig om bg gebedskultuur te ontwikkel?

Dit is leiers wat hulle leierskap begin met ‘n sabat- vanuit die rus in God

Dit spreek vanaself dat wat ek tot dusver gese het implikasies het vir die soort leiers wat ons is.  Ons kan nie ‘n gebedskultuur in die gemeente kweek as ons leiers nie dissiples word nie.

• Besige leiers wat besig is om die gemeente te projek bestuur- só besig dat die Here eintlik moet bybly om te kom om die projekte wat ons uitgedink het te seen-vestig nie ‘n gebedskultuur nie, maar moet gebedsgroepe kry om dit namens hulle te doen.Daar is te veel angs in ons gebede- dit verklap ons onvermoë om te verstaan dat die Here werklik aan die werk is. Daarteenoor het ons leiers nodig wat hulleself kan afsonder. Wat kan breek met die ideologie van besig wees = aan gehoorsaam wees. Wat in afsondering en gebed hulleself oorgee aan hulle eie onmag en kwesbaar wag op die beweging van die Gees en die gemeente dan lei om binne die kragveld van die Gees te leef.

• Vergaderings waar daar tyd is om stil te word by God- om in sy tyd in te gaan-soos die Seisoen van Luister dit mooi stel- en toe te laat dat die Gees ons lei en ons agenda bepaal.  Dit is vergaderings waar daar veilige ruimtes is waar ons onbevange onsself kan wees en saam kan soek vir die wysheid van God.  Ek het nie tyd om uit te wei hieroor nie, maar wil net opmerk dat ek verbaas is oor wat alles in ‘n gemeente verander indien die leiers in hulle vergaderings tyd maak om Coram Deo te leef.

• Leiers wat in afhanklikheid van die Gees lewe. Bg sal moeilik gebeur indien leiers nie self in ‘n lewe met God bereid is om in kwesbare onmag afhanklik te wees van die Gees nie. Daar kan nie ‘n gebedskultuur wees indien die leiers nie persoonlik in gebedsafhanklikheid leef nie. Dit is leiers wat gevorm word as dissiples deur die Woord sodat die Gees profeties kan inspreek in hulle lewens om hulle gedagtes drome en ambisie so te vorm dat dit afgestem is op die nuwe wereld van God- sy koninkryk.  Dit is opvallend hoedat gemeente en kerkleiers in hierdie tye van ekonomiese krisis dit moeilik vind om met die verbeelding van die Koninkryk na die uitdagings van die krisis te kyk.  Soos ander leiers waarsku ons, wys ons op die omvang daarvan en verhoog ons die angs omdat ons nie vanuit die profetiese perspektief van die Gees kyk na die sake van die dag nie.  Dit is hier waar geestelike gesag gebore word, wanneer leiers vanuit hulle onmag in kwesbaarheid hulle oopstel vir die inspraak van die Gees en die Woord in hulle lewens sodat dit hulle verbeelding, hulle taal en hulle gemoed transformeer.  Ons sal hierdie vorm van geestelike leierskap broodnodig he in die tye wat kom.  Mag die Here ons behoed dat ons verslaaf sal bly aan die ideologie van ‘n self geskepte wêreld wat nie groter of dieper of anders kan wees as wat onsself kan bedink nie.

• Gemeentes met gebed seisoene- Gemeentes leef in seisoene van die kerklike jaar wat wonderlike seisoene van gebed kan wees.  Dink bv aan die potenisaal indien ons Lydenstyd begin ontgin as ‘n tyd van Vas, Gebed en Afsondering.  ‘n Seisoen waarin ons met oorgawe ons daaraan kan wei om niks te doen nie, maar ons oop te stel vir die visie en leiding van die Gees.  Ons weerstand hierteen vanwee die kerklike sisteme wat ons geskep het, verklap ons verknogtheid aan die bediening as ‘n plek van selfvervulling.  Die gemeente is nooit bedoel om ‘n dienslewerraar in geestelike goedere te wees nie, ons sal daarmee moet breek deur te vas van die normale patrone van gemeentewees.

Ek sluit af deur julle aan te moedig om hierdie en ander gebedsdissiplines in te oefen totdat ‘n bree groep in die leierskap dit bemeester het. Inoefening en bemeestering van basiese gebedsvaardighede soos wat in die res van die konferensie aan julle oorgedra is. Hou dit eenvoudig en toeganklik sodat soveel mense as moontlik kan deelneem aan die gebedsaktiwiteite in die gemeente.

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment