Woensdag 20 April: Godsdiens Aktueel Die Burger: Paasfees se versoeking

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

“All the significant battles are waged within self” – Sheldon Koop

Hierdie naweek vier Christene Paasfees. Kom ons wees eerlik, vir baie jare en in sommige opsigte steeds, het Paasfees vir baie net `n lekker, baie lang naweek geword. Dit is egter opvallend om te sien dat daar in talle kerke `n sterk beweging aan die gang is om Paasfees te herwin as eintlik die belangrikste datum op die Christelike jaarkalender, ja selfs belangriker as Kersfees. Groot moeite word gedoen met die inkleding van die naweek. `n Verskeidenheid van byeenkomste, wat al ryker word aan simboliek, word gehou om die ware betekenis van Christus se kruisiging en opstanding uit te druk. Een van die redes hoekom Christene dalk oor jare gesukkel het om Paasfees na behore te vier, is omdat Paasfees inderdaad aan almal van ons ongemaklike vrae vra. Jy sien, daar lê in die Paasgebeure vir elkeen van ons vandag nog `n vreemde versoeking opgesluit.

Dalk net eers iets oor versoekings in die algemeen. `n Klompie jare gelede het die Discipleship Journal ` n meningspeiling gedoen oor wat lesers as hul grootste versoekings beskou. Die lysie, in volgorde van belangrikheid, het soos volg gelyk: Geld, trots, selfgesentreedheid, luiheid, woede en bitterheid, seksuele begeerte, jaloersheid, vraatsug (kos) en die versoeking om te jok.

Op die vooraand van sy kruisiging waarsku Christus vir `n selfvoldane Petrus dat Satan mense soos koring wil sif (Luk. 22) en kort daarna pleit hy in Getsemané by sy dissipels dat hulle moet bid dat hulle nie in versoeking kom nie. Maar wat sou die versoeking dan wees? Tog seker nie in hierdie omstandighede, bogenoemde lysie nie. Nee, Christus het geweet wat dit is, omdat Hy dit self ervaar het. Die versoeking was om “nee” te sê vir die kruis.

Konkreet gemaak vir ons almal. In `n wêreld waar selfvervulling die wagwoord is, sê ons moeilik ja vir self-ontlediging (die “kenosis”-begrip van Fil.2). Ons sê moeilik nee vir wêreldse sukses en ja vir pyn, lyding en seer ter wille van die Koninkryk. Ons sê moeilik ja vir die opneem van jou kruis en nee vir welvaart en eer. Ons raak moeilik stil, bid, vas, dink na. Dit is veel makliker om ja te sê vir nimmer eindigende partytjies en jolyt. Daarmee sê ek nie dat hierdie dinge noodwendig verkeerd is nie. Paasfees dwing ons egter om anders oor hierdie dinge te dink.

`n Paar jaar gelede het Martin Scorsese, na aanleiding van Nikos Kazantzakis se 1960 roman, Christus se lyding en versoeking uitgebeeld in die rolprent : The Last Temptation of Christ (1988). In die rolprent help `n “beskermengel” vir Christus om die kruis te verlaat . Hy trou dan met Maria Magdalena, `n Joodse prostituut. Voorstanders van die rolprent se verweer was dat dit bloot Christus se menslikheid uitbeeld. Dié wat aanstoot geneem het, het myns insiens tereg gevoel dat die diepste punt van die Evangelies juis gemis is. Christus worstel in Getsemané en vra God dat die lydensbeker by Hom moet verbygaan, maar anders as in die rolprent, kom Hy nie af van die kruis nie. In sy menslikheid is Hy ook bang, maar dan sê Hy “nee” vir hierdie grootse versoeking.

Is ons gereed om ons “kruis” te dra? Is die Christelike geloof dan een lang masochistiese stryd? Vir seker nie. Want sien, daar is ook `n heerlike opstanding wat ons Paasnaweek gaan vier! ’n Geseënde Paasfees word vir almal toegebid.

Trackback from your site.