Woensdag 23 Maart: Die Burger Godsdiens Aaktueel – Japan en die broosheid van die mens

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

My hart gaan regtig uit na die Japannese. Dit is so dat elke nasie die letsels van traumatiese gebeure in die verlede vir baie jare met hulle saamdra. Dit is in `n sekere sin waar van almal van ons. Vra maar vir die mense van Laingsburg. Die trauma van meer as 65 jaar gelede toe Hirosjima en Nagasaki deur twee kernbomme verwoes is, moet nog êrens in die agterkop van sommige Japannese sit. Die dreigende krisis oor kernreaktors wat kan ontplof, moes die Japannese opnuut ontredderd gelaat het. Oor die lewensverlies en verlies aan lewensmiddele wil ek nie eers praat nie. Ek kry myself baie jammer as my motor gestamp word. Die beelde van honderde motors wat deur die tsunami weggevee is, bly by my. Binne `n paar minute is mense se ganse leefwêreld voor hulle oë vernietig. Japan is opnuut, letterlik en figuurlik, geskud.

Maar die gebeure het my weer laat dink oor ons almal se bestaan. Japan is sekerlik een van die bes voorbereide samelewings op aarde as dit kom by aardbewings en tog was dit nie goed genoeg nie. Die mens is inderdaad baie meer broos as wat ons besef. Hieraan is ons opnuut herinner. Die Bybel praat meermale hieroor.

Ek kon in hierdie dae nie anders as om weer oor Jak 4: 13-14 na te dink nie: : “Kom nou julle wat sê, vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan… ons sal sake doen en geld maak. Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar `n damp wat `n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.” Ek dink oor Jesus se gelykenis van die ryk dwaas wat `n leeftyd werk en opgaar. In een nag verander alles. (Luk. 12)

Ek het enorme respek vir die wetenskap. Ek meen dit is `n geskenk uit God se hand, maar die wetenskap kan ons hoogmoedig maak en God verafsku hoogmoed ( Spreuke 6:17). Dit is nogal ironies. Tsunami’s is nie iets nuuts in Japan nie, maar dit was juis die wetenskap, die TV beelde wat oor en oor na ons toe gekom het en die voorspoed wat die wetenskap gebring het, al ons strukture en mensgemaakte goed wat die trauma en geweld van hierdie tsunami verhoog het.

Die vraag is waar dit ons laat? Ek meen dat ons almal opnuut tot groter nederigheid geroep word, veral as dit met jou goed gaan. Voorspoed het `n manier om ons arrogant te maak. Die Duitse digter Hilde Domin, het `n gedig geskryf wat ek vry aanhaal: As die wêreld jou alles bied/ En `n opgesaalde eenhoring (perd) na jou voordeur stuur/ Dan moet jy om nederigheid bid/ Soos `n klein kind by die voetenend van jou bed kniel…

Ek dink dat die finale verwoesting van die wêreld inderdaad kan plaasvind wanneer die kragte in die hemelruim, wat tans help om alles op aarde in balans te hou, versteur word. (Luk 21: 25-26) Diegene wat weet, verstaan byvoorbeeld watter fyn balans die swaartekrag van hemelliggame om ons bewerkstellig om die aarde se delikate posisie teenoor die son in plek te hou. Ek dink nie ons verstaan hoe ongelooflik wonderlik en broos die aarde is nie. Laat dit jou reddeloos? Natuurlik nie! Na alles bly ons selfs na ons dood in God se hande. Niks, nie eers die grootse aardbewing kan dit verander nie. Ek is nie bang nie, maar ek weet: Ek is broos.

Trackback from your site.