Moet haar dan nie verhinder nie…

Written by Besoeker on . Posted in Vorige kommentaar

Frederick, dankie hiervoor, ek wil net beaam. Van Paul se voordrag af dink ek ook heel anders oor die sogenaamde ‘dubbele beweging’. In 1998 het Gerrit Immink die begrip in die boek De weg van de liturgie bekend gemaak met ‘n hoofstuk oor hierdie dinamika wat eie is aan die liturgie wat hierdie sogenaamde dubbele beweging behels. (Soos Paul genoem het praat mense ook dikwels hieroor en noem dit liturgiese inkulturasie of die dinamika van ritueel en kultuur). Hierdie dubbele beweging geld mos eintlik vir veel meer terreine in die kerk as slegs die liturgie. Maar Paul het my opnuut laat besef hoe ongasvry ons teenoor die kultuur is as kerk. Ek wil nou nie negatief wees oor al die goeie goed wat kerke doen nie, maar ek is ook skepties oor ons verskuilde agendas. Ons is soms amper soos daai blomme wat insekte vang. Dis nie oop kaarte nie, nee, ons luister kamma maar eintlik wil ons jou vang en intrek want ons het baie om vir jou te bied. En natuurlik het ons baie om te bied, maar soos Frederick dit hier stel het die wêreld ook baie om ons te bied. En soos Paul dit tereg stel, die beweging is dikwels minder dubbeld as wat ons wil voorgee en eintlik meer enkelvoudig van ons (kerk) gaan vir julle (wêreld) iets leer, want ons het iets om te bied. So ja, hier wil ek net beaam wat Paul gesê het en wat Frederick weer optel. Ek wil krities wees oor dit wat die kerk kan bied en oor die kerk se kritiese posisie oor wat die wêreld aan die kerk kan bied. En eintlik gaan ek nou self in die slagyster trap wat ek wil uitwys.

In die laaste week was ek by ‘n paar sosiale geleenthede a.g.v. al die vakansiedae. Twee wil ek uitsonder: die een was met kerkmense en kerklui by ‘n informele kuier met lekker kos en wyn. Ek wil min hieroor sê en niemand shame nie, want almal is wonderlik en hardwerkende mense wat die Here liefhet. Tog kan ek noem dat my vrou vir my oppad terug gevra het hoekom die mense met wie dit so goed gaan sulke klakouse is? Die ander geleentheid was op stemdag waar vriende in ons buurt vir ons genooi het vir ‘n post-verkiesing partytjie. Elkeen moes net iets te ete saambring van hulle eie Suid-Afrikaanse kultuur. Ons het oorgesuiker soontoe met ons bord boerewors en ja die whities was ver in die minderheid en ons was die enigste Afrikaners (ja, ek is nog hy!). Almal het lekker gekuier en die egte Kaapse gatsby’s (brode gevul met slaptjips en wie weet wat nog alles!) was onverbeterlik. Op ‘n stadium het ons gasvrou gevra dat almal in kort vertel wat die dag vir hulle beteken. Toe almal klaar was en ons terugry huis-toe het my vrou opgemerk, “ek’s bevrees dié mense het op hierdie stadium meer om vir julle (dis nou ek en my kerkmense) te bied as julle vir hulle”.

Ja, ons sien gevaar agter elke klip en is dikwels negatief oor ons omringende kultuur en samelewing, terwyl Paul en Frederick my net laat besef dat ons samelewing dalk net soos die Bybelse vreemdeling ons d.m.v. gasvryheid daarteenoor kan verras (en dit alreeds doen). Hoe ons dit kan laat gebeur is ‘n oop vraag waarop ek min antwoorde het. Een begin binne die veld van die Liturgiek is om soms ook breëer as net ‘liturgie’ of ‘erediens’ te dink, maar miskien te begin by iets heel breed soos ‘ritueel’ (‘n begrip wat tradisioneel met heelwat agterdog bejeen is, maar dalk juis meer moontlike bied om die liturgie wat na ons toe kom raak te sien).

Trackback from your site.

Comments (1)

Leave a comment