{ARGIEF}

Ons almal ervaar een of ander tyd geestelike droogte in ons lewens, ja selfs dominees! Hiervoor kan daar baie redes aangevoer word. Maar die een saak waaroor ons saamstem is – ons hou nie daarvan nie.
Ons eie oplossing is dikwels om baie goeie voornemens te maak. Ons stel planne op, gaan gym toe, volg ʼn dieet en stel ʼn klomp geestelike doelwitte op soos – om meer gereeld kerk by te woon, meer Bybel te lees, by ʼn groep in te skakel ens. Dit mag dalk ʼn rukkie werk, maar kort voor lank besef ons dat daar weer in ʼn klomp ou gewoontes ingekruip het! Al die besluite en pogings wat ons geneem het, help gewoonlik net ʼn rukkie. Na die eerste paar maande van die jaar is die gym weer leeg en die kerk weer halfvol.

Nou wat moet ons dan doen?

Die antwoord is: Net mooi niks! Paulus leer vir ons in Rom. 3 dat ons van nature so geneig is tot die kwaad dat self ons beste pogings om ons lewens te herstel,  gedoem is. Die skrywer Heinie Arnold het gesê: “Solank as ons dink ons kan onsself red, maak ons ʼn fout. Hoe harder jyself probeer, hoe sterker maak jy die bose in jou”.

Daar is maar een uitweg: Mat 11:29-30
“Kom na my toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee.”

Ware rus en vernuwing is in Christus.

Maar steeds sukkel ons soms. Richard Forster het 3 redes gegee waarom gelowiges sukkel om volhoubaar naby God te leef:
1.    Hulle twyfel of ʼn dieper geestelike lewe en ʼn lewe naby God enigsins moontlik is. Hulle eie onvolmaaktheid wil hulle laat glo dat hulle maar tevrede moet wees met ʼn middelmatige lewe. Uit die Woord weet ons dat dit nie waar is nie. Paulus self bid vir die Efesiërs dat hulle geestelike diepgang sal ontvang.
2.    Die 2de probleem is dat hulle dink geestelike volwassenheid gaan maklik kom. Daarom is mense so lief vir resepte en programme. Ten diepste besef ons dat niks wat regtig ʼn invloed op jou lewe het kom maklik nie, maar glo dit nie altyd nie. Dit is op hierdie punt waar mense leer om oppervlakkig te wees.
3.    Die 3de probleem is dat ons mense net nie weet hoe nie.

Wat moet ons doen vir geestelike vernuwing ?

Moet ons nou weer ʼn wilsbesluit neem soos mense soos bv. ons nuwejaarsvoorneme? Nie heeltemal nie. As ons volhoubare geestelike vernuwing in ons lewe begeer, moet ons God toelaat om self ons lewens te vernuwe op sy eie manier en tyd. Hoe laat ek Hom toe? Deur jou hart en lewe vir Hom oop te maak dat Hy dit kan vernuwe.
Ons doen dit deur geestelike dissiplines of nuwe geloofsgewoontes aan te leer. Deur ʼn nuwe leefwyse maak ons die deur van ons hart vir God oop om ons te verander soos Hy wil.
Geestelike dissiplines is nie maar nuwe wette nie, dit is ʼn lewenstyl in die teenwoordigheid van God.

Richard Forster (Celebration of discipline.)praat van 3 groepe dissiplines:
Dissiplines na binne – soos gebed, meditasie, vas en studie;
Dissiplines na buite – soos eenvoud, diens, oorgawes, en
Gesamentlike dissiplines, soos kerkgang, aanbidding, musiek en feesvier

Adele Calhoun  (Spiritual Disciplines Handbook) verdeel die dissiplines in 6 groeperinge (met ongeveer 60 dissiplines): Aanbidding, oopstel vir God, uitwissing van eie valsheid, jou lewe met ander deel, luister na die Woord, uitleef van Jesus se liefde en gebed.

Dallas Willard (Renovation of the heart) noem 6 veranderinge waardeur jy moet gaan nl. Verander van denke; gevoel, hart, liggaam, sosiale lewe en siel.

Kent Ira Groff (Active Spirituality)praat van die dissipline van die geloofsgemeenskap; dissipline van afsondering; dissipline van hart en verstand; dissipline van diens; en dissipline van roeping .

Trevor Hudson (Signposts to Spirituality) lig  10  bakens uit vir ‘n lewe naby God. Die volgende word o.a. genoem: Christelike geheue; ontvanklik wees vir die koninkryk; liefde vir ons naaste; om God se roeping te ontdek; beoefening van die teenwoordigheid van God ens.

Met hierdie kort samevatting van die boeke, doen ek eintlik ʼn onreg aan die ongelooflike geestelike rykdom van elkeen van die skrywers. Dit is die moeite werd om elkeen (daar is ook heelwat ander) deeglik te bestudeer. Almal het een boodskap in gemeen.  Jy moet Bybelse geloofsgewoontes aanleer wat jou lewe vir God beskikbaar stel- sodat Hy jou al hoe meer kan vernuwe.

Ek dink dis belangrik om nooit uit die oog te verloor dat dit hulle persoonlike geestelike reis is wat hulle met ons deel nie. Jy kan nie maar ʼn ander persoon se geestelike reis net so dupliseer nie. Jy sal ʼn fout maak as jy iemand anders se geestelike reis slaafs probeer navolg. Dan is jy maar weer waar jy was toe jy uit jou eie probeer het.
Die enigste ware dissiplines of geloofsgewoontes wat jy volhoubaar gaan beoefen, is die wat jy self deur die werking van die Heilige Gees en deur gebed – in die Woord van God gaan ontdek.

Begin dus om erns te maak met die Bybel en gebed. Dit is hier waar jy die dissiplines en geloofsgewoontes gaan ontdek wat die Heilige Gees vir jou vernuwing nodig het !!!!