Wat vertel jou gebedstaal oor jou verhouding met God?

Written by Quintus Heine on . Posted in Gebed en Spiritualiteit

In ʼn onlangse artikel van Stefan Joubert praat hy oor die geloofstaal wat ons in die kerk gebruik. Hy maak die geldige punt:

– dat die tipe geloofstaal wat jy as kerkleier gebruik, iets van jou beskouing van kerk en koninkryk kommunikeer. As jou taalgebruik vol tradisionele gelade woorde is, sal jy moontlik ʼn tradisionele siening van gemeentewees hê. Die teenoorgestelde is ook waar. Hy vra daarom dat leiers ʼn koninkrykstaal moet gebruik wat getrou is aan ons daaglikse lewe voor God.

Hierdie opmerkings het my laat dink oor ons geloofstaal tydens gebed. Wat verklap die taal wat in ons gebede gebruik word, van ons siening oor God? Is dit enigsins sinvol om gebede so te ontleed en daaruit afleidings te maak of moet ons anders oor gebed oordeel?

In my soeke op die Internet het ek bitter min artikels oor die taalgebruik in gebed, geloofstaal  of gebedstaal gekry. In die algemeen word die term gebedstaal sinoniem met “spreek in tale” beskou. Op slegs een plek het ek ʼn artikel oor taalgebruik in gebed raakgeloop. Dit was by die Mormone. Hulle maak ʼn groot saak daarvoor uit dat jou gebedstaal aandui hoeveel respek jy vir God het. Jy mag God nie sommer “you” nie, maar moet Hom “Thou” en “Thee”, anders toon jy te min respek. Trouens dis vir hulle so belangrik dat hulle president persoonlik daaroor ʼn riglyn gestel het. Volgens hulle verklap jou gebedstaal of jy vir God respekteer of nie. Dit was egter vir my verblydend dat min ander skrywers enigsins oor die onderwerp geskryf het. Ook in verskeie boeke wat ek geraadpleeg het, kon ek nie die tema raakloop nie. Daar kan dalk wel elders iets daaroor staan dat ek dit mis, maar die gebrek aan die onderwerp vertel vir my dat dit vir die meerderheid Christene nie belangrik is nie.

Myns insiens moet ons in gebedterme nie praat van taalgebruik of geloofstaal nie, maar van hartetaal.

Het Jesus nie in Mat 6:7, 8 gesê: “ Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ʼn stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle, hulle sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader sal weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra”

In die onderig oor gebed in Mat 6 het Jesus dit duidelik gestel dat dit nie jou uiterlike woorde is wat belangrik is nie, maar jou hart! Dit wat jy in jou hart wil sê, is wat tel, nie hoe dit by jou mond uitkom nie. In Mat 15:16 verduidelik Jesus hoe dit wat in jou hart is die belangrike is. In Mat 23 spreek die Here Jesus ook die Fariseërs aan oor hulle skynheiligheid, omdat uiterlike vertoon vir hulle so belangrik is. In Luk 18 skep die Fariseër die indruk dat sy gebed vir mense se ore bedoel is en nie vir God nie. Sy skynheiligheid om iets anders voor God en mense te wees, word aangespreek. Ek dink die antwoord op die vraag: Watter taal ons in gebed moet gebruik, in ons hartsgesindheid opgesluit is. Indien gebed in opregtheid en eenvoud gedoen word, maak dit nie saak watter woorde of watter terme jy gebruik nie. Die Here hoor jou hart! Rom. 8:26 gaan self sover om te sê:” Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie” Indien die taalgebruik of tipe geloofstaal van gebed enigsins vir ons belangrik word, dan gaan dit oor mense en nie oor God nie. Indien gebed oor God gaan en dit wat in jou hart is, dan maak dit nie saak of jy tradisionele taal, charismatiese taal, gereformeerde taal of postmoderne geloofstaal gebruik nie. Dit is jou hartsgesindheid wat tel! Enige reël oor taalgebruik of  teologiese afleiding vanweë jou taalgebruik, is nie so belangrik soos jou eie hartetaal nie.

Verklap ons geloofstaal tydens gebed, ons siening oor God? Dit mag dalk so wees, maar ek is huiwerig om sulke afleidings te maak omdat gebed nie vir my ore bedoel is nie, maar vir God. As ons mekaar se gebedstaal begin ontleed is ons presies daar waar die Fariseërs was- ons oordeel op die uiterlike. Wie se teologiese woorde gaan uiteindelik die norm wees wat gebruik word om so ontleding te evalueer? Ek dink ons moet volstaan dat  jou geloofstaal (tydens gebed) ʼn saak tussen jou en die Here is! Miskien sal ons moet oefen om nie te luister na die geloofstaal wat ander tydens gebed gebruik nie, maar na die opregtheid van hart!

Daarmee gesê, dink ek wel dat ons daarom versigtig moet wees dat daar nie soms onwetend ʼn opgesmuktheid of  verhoogmentaliteit by ons gebedstaal insluip nie. Baie keer sal mense opmerk dat hulle sommige predikante en geestelike leiers deur hulle gebedstaal kan eien. Ek dink predikante en leiers moet daarop let dat hulle nie deur hulle gebedstaal of gebedstyl, vir ander mense ʼn struikelblok in hulle verhouding met die Here is nie. As jy bid moet jou stemtoon en woorde nie skielik hoogdrawend en anders wees as wat jou gebruikstaal is nie. As die Here Jesus daagliks in jou lewe is, en deel van jou lewenstyl is, sal jou gebedstaal nie verskil van jou daaglikse leefstyl nie. Jou gebed moet ʼn verlengstuk van jou lewe voor God wees. Jesus se woorde waarmee Hy tussen sy dissipels geleef het, was ook die woorde wat hy in gebed gebruik het!

Egtheid van gebed word altyd deur eenvoud gekenmerk. Eenvoud beteken gestroop van alle pretensies, opgesmuktheid en mensgemaakte formulerings. ʼn Eenvoudige gebed kom uit jou hart uit en moet daarom hartetaal praat.

 

Tags: , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment