Stukkende, seer mense

Written by Braam Hanekom on . Posted in Nuusperspektief

Dalk is een van die grootste probleme van ons dag die feit dat die mensdom sukkel om te verstaan dat ons almal deel is van `n baie stukkende wêreld. Hierdie stukkendheid neem baie verskillende vorme aan. Ek besef egter al meer dat die wêreld met die illusie leef dat daar `n kortpad uit hierdie gebrokenheid is. As ons net die regte knoppie druk, sal ons daarvan bevry word. En watter knoppies word daar nie gedruk nie? Seks, geld, drank, dwelms en magsmisbruik staan natuurlik voor in die koor. Jy sien, so klink die mite, jy kan jou pyn versmoor in driftige genietinge. Ander dink dat jy dit met `n voorbeeldige lewe of hiper- godsdienstigheid kan systap. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek glo absoluut dat ons land sug na geloofsverdieping en `n nuwe terugkeer na God. Tog moet ons nie in die illusie verkeer dat dit al die fisiese, emosionele en sosiale gebrokenheid van ons dag in `n oogwink sal omkeer nie. Ons kinders se leed sal in ons lywe bly vassteek, armes en konflik sal daar altyd wees en siekte en dood sal nooit weggaan nie.

Die priester Henri Nouwen, wat `n suksesvolle akademiese loopbaan vaarwel geroep het om gestremde kinders te gaan versorg, het my gehelp om perspektief hierop te kry. Sy raad is kortliks: Moenie dink dat jy van gebrokenheid gaan wegkom deur daarvan weg te hardloop of dit te probeer ontken nie. Nee, leer om te aanvaar dat dit deel van die lewe is en dat gelowiges moeilik daarsonder groei. Ek worstel self daarmee, maar moes telkens in my eie lewe ontdek dat God veel harder en duideliker deur my pyn met my gepraat het as deur my plesier.Terselfdertyd kan jy dié God leer ken wat in jou gebrokenheid altyd by jou is en aan jou die krag gee om te dra wat jy moet dra. Daar sal jy, soms tot jou verbasing, ontdek dat `n diep vreugde kan groei, midde in jou gebrokenheid. Verder moet ons weet dat juis hulle wat bewustelik met hul eie verwondheid saamleef, soveel beter in staat is om die wonde van die stukkende mense om hulle te verbind.

Intussen weet ek dat Christus met sy eie kruisdood en lyding baie naby aan die lyding van hierdie wêreld gekom het. Daarmee het Hy in die woorde van Philip Yancey “aan alle lydendes `n nuwe waardigheid kom gee”.  Toe ek dus nou die middag deur die buurt draf en `n hawelose in `n vuilgoedblik sien krap, moes ek net `n oomblik by hom stop. Geld het ek nie by my gehad nie, maar sy glimlag na `n paar woorde se gesels en luister sal ek lank onthou.

Trackback from your site.

Leave a comment