It is time the heroes go home

Written by webmeester on . Posted in Gemeentes, Leierskap, Padlangs met gemeentes

De La Rey sal nie die boere meer kan lei nie

Gemeente leierskap vir vandag

De La Rey, De La Rey
sal jy die Boere kom lei?
De La Rey, De La Rey
Generaal, generaal
soos een man, sal ons om jou val.
Generaal De La Rey

Generaal, generaal
sal jy die Boere kom haal?

Die sentimente van Bok van Blerk se lied leef dalk nog sterker in ons as wat ons dink. Hoe baie sê ons nie vir mekaar dat die Afrikaners nie meer leiers het nie. Tog bly daar maar steeds die strewe om iemand te volg, ‘n leier te hê. Gemeentes soek na predikante met sterk leiersvaardighede: om die gemeente te lei, vernuwing te bring en die kerk weer vol te preek (Die ironie is dat dieselfde gemeentes dan weerstand bied teen die verandering).

Die prominente (suksesvolle?) gemeentes in Suid Afrika is meestal gemeentes met ‘n sterk charismatiese leier wat ook as leierleraar optree – ‘n model wat oorgeneem is van Willow Creek, Saddleback en ander groot Amerikaanse gemeentes wat weer beïnvloed is deur die “Church Growth” model. ‘n Model wat goed gewerk het vir ‘n seisoen, ‘n seisoen wat gekenmerk is deur:

-die teenwoordigheid van ʼn besonderse charismatiese (in ʼn positiewe sin) leier,

die meerderheid in die gemeente van die “boomer” generasie was,

– ʼn gemeente  wat binne ‘n Christendom era gefunksioneer het,

– ʼn hiërargiese gemeenskap en ‘n hiërargiese gemeente struktuur,

-verandering wat redelik liniêr was.

Dit word egter duidelik dat die leierleraar paradigma nie meer dieselfde sukses het as vroeër nie.  Gemeentes soos Willow Creek en Mars Hill Bible Church in Grand Rapids sukkel om die transisie van ‘n stigter/leierleraar na ‘n nuwe leierleraar te maak. Dieselfde sien ons in prominente Suid Afrikaanse gemeentes (uit verskillende denominasies) wat ‘n sterk charismatiese leierleraar gehad het.

Moet ons nie dalk kyk na ander paradigmas van leierskap nie, alternatiewe vir die charismatiese leierleraar model. Daar is ‘n aantal indikators in ons konteks wat dit noodsaak:

-Generasie X’sers begin sterker leiding neem in gemeentes,

-ʼn netwerk samelewing,

-jonger generasies is suspisieus oor “sterk leiers”,

-post-Christendom era raak ‘n groter realiteit,

-verandering is kompleks en nie liniêr nie.

Deborah Frieze and Margaret Wheatley (2011) werp lig op hierdie fenomeen in hulle artikel “It’s time for the heroe’s to go home“. Op grond van navorsing wat veral deur Frieze gedoen is, argumenteer hulle dat die era van die leiers as “helde” verby is. Die wêreld het so kompleks geword dat een leier se insig nie genoeg is om die komplekse verandering wat gemeentes ervaar te bestuur nie. Gemeentes is geneig om hierdie feit te mis en een leier wat misluk/aftree/hoër roeping kry/begin skryf/konsultant word/dood gaan, net met die volgende een te vervang, in die hoop dat die nuwe een die redder sal wees (Willow Creek – Bill Hybels word deur Gene Appel opgevolg as leierleraar in 2006, 2008 neem Hybels weer oor as leierleraar; Mars Hill-na Rob Bell word Shane Hipps (2011)  aangestel, na ʼn jaar word hy vervang met Kent Dobson).

Michael Moynagh (2012) argumenteer dat leierskap in ʼn netwerk samelewing ‘n “bottom up” benadering moet hê omdat ‘n netwerk organisasie geen inherente gesagstruktuur het nie, maar georganiseer word deur die diskoerse in die netwerk. Leierskap is ook dit wat tussen die lede van die sisteem gebeur. ‘n Netwerk word die som van die gesprekke tussen die lede van die netwerk. Benyamin Lichtenstein en Donde Plowman (2009) meen leierskap is nie meer geleë in een posisie of persoon nie, maar in ‘n aantal persone wat op verskillende vlakke en tye leiding neem.

Het die kerk dan nie meer leiers nodig nie?
Alles behalwe, ons het juis leiers nodig wat sisteme verstaan, wat met onderskeiding ‘n gasvrou/heer (“host” in die woorde van Frieze en Wheatley) van die sisteem word. ʼn Gasvrou/heer wat die tafel voorberei waarom gesprekke in die sisteem kan plaasvind; wat potensiaal in mense en die sisteem raaksien; wat deur die persone self nie eers raakgesien word nie; wat veilige geleenthede skep waar gesprekke gevoer kan word binne die sisteem en wat die netwerk uitbou en nuwe sisteme skep. Leiers is nodig wat weet dat mense alleen deel word van projekte waarvan hulle medeskeppers is. Hierdie tipe leier weet dat die beste wyse waarop nuwe insigte en moontlikhede gegenereer kan word, is deur te belê in gesprekke tussen persone uit soveel moontlike dele van die sisteem. Hulle glo dat mense in die sisteem wil verbeter en betekenis vind daarin om deel te wees van ‘n suksesvolle sisteem.

As leiers die transisie maak van held na gasvrou/heer begin hulle hulle “invloed” gebruik, nie om mense te kry om saam te werk nie, maar om gesprekke aan die gang te kry. Dit is dan binne hierdie betekenisvolle gesprekke wat probleme opgelos word en nuwe potensiaal ontgin word.

It is time for all the heroes to go home
if they have any, time for all of us common ones
to locate ourselves by the real things
we live by

(Gedig – Allegiances : Willam Stafford)

Christo Benadé

Frieze, Deborah, and Margaret Wheatley. “It’s time for the heroes to go home.” Fall 2011. http://www.hesselbeininstitute.org/knowledgecenter/journal.aspx?ArticleID=887 (accessed July 29, 2013).

Lichtenstein, Benyamin B, and Donde Ashmos Plowman. “The leadership of emergence: A complex systems leadership theory of emergence at successive organizational levels.” Management Department Faculty Publications. 2009. http://digitalcommons.unl.edu/managementfacpub/63 (accessed July 29, 2013).

Moynagh, Michael. Church for every context: An introduction to theology and practice. Kindle. London: SCM Press, 2012.

Trackback from your site.

Leave a comment