‘n Ode aan my VG kollegas

Written by Frederick on . Posted in Padlangs met gemeentes, Transformasie

Verlede week was ek by ‘n geleentheid waar ‘n senior joernalis verwys het na die bekende essay van Samuel Scudder  “Take This Fish and Look at It,”  Dit is die verhaal van ‘n jong entomoloog (insektekundige)  wat van sy professor die opdrag kry om na ‘n vis te kyk en sy waarnemings neer te skryf.  Aanvanklik dink hy dit is ‘n maklike opdrag en skryf hy vinnig neer wat hy waarneem. Die professor in nie tevrede nie en hy moet weer na die vis kyk, sonder dat die professor tevrede is. Toe neem die porefessor die vis weg en vra hom om sy waarnemings neer te skryf  noudat hy nie meer fisies na die vis kan kyk nie. Die student begin noodgedwonge op ‘n ander manier “kyk” en nadink oor wat hy gesien het, en maak ontdekkings oor die vis wat hy nooit gedink het moontlik is nie.  Dit is by hierdie dieper kyk, wanneer ‘n joernalis gebore word, het die senior joernalis aan die nuwelinge gese.  Ek dink dit is goeie raad vir hoe ons uit die verskillende kerke na mekaar kyk.

Die afgelope week vertel ‘n VGK kollega van sy ervarings in die gemeente op die Kaapse vlakte. Hy vertel hoe die gemeenskap aan mekaar gesit is, en dikwels uit mekaar val. Die inpak van die bendes en eintlik die konstante situasie van ‘n laegraadse oorlog waarin die gemeenskap haar  bevind. Hy vertel van inisiatiewe wat hulle as kerke loods om bendegeweld in die kiem te smoor. Toe hy klaar is, is ons stil,  hy het vir ons ‘n venster oopgemaak in ‘n wereld wat ons min begrip van het. Later vertel hy oor ete hoe die konstante spanning van die omgewing hom soms inhaal en hy onlangs afgeboek was toe dit net vir hom te veel geraak het.  Ongelukkig was dit ‘n moeilike week om sommer net af te vat, daar was te veel dinge in die gemeentes wat hy noodgedwinge moes bywoon.’n Ou gaan  maar aan.

‘n Paar weke gelede is ek in ‘n vergadering waar ‘n VG kollega vertel van ‘n moeilike insident in die dorp waar ‘n ‘n prominente leier van die NG gemeente opgetree het teenoor ‘n  VG gemeentelid wat moeilik anders as rassisties beskryf  kan word. ‘n GEwonde kooptransaksie het ontaard in ‘n voorval.  Hy moet nou weer gaan regmaak, vertel hy met n moegheid in sy stem. Instinktief weet ek wat ek moet doen, en stop die vergadering om eers verskoning te vra vir elke rassistiese dade en woorde waaraan hy blootgestel is vanuit my kerk. Jammer kollega, se/vra ek, sal jy asseblief probeer vergewe, sodat ons saam verder kan gaan ter wille van die Koninkryk.

Dit gebeur eintlik met my elke Maandag as ons span by Communitas vergader en ons vertel van wat die naweek met ons gebeur het.  As my VG kollegas begin praat oor wat alles in ‘n naweek met hulle gebeur, eise wat aan hulle gestel word, situasie wat hulle moet hanteer, word ek stil en bid ek vir myself en almal van ons wat dink ons het klaar gekyk na mekaar en veral na ons VG kollegas. Laat my tog dieper kyk vra ek in onbeholpenheid.

En toe vertel die kollega van die vlakte van nog ‘n storie. Hierdie keer glimlag hy. Hy en ‘n ander VG kollega eet elke Vrydagoggend saam ontbyt in die Spur. Hier, ontlaai hulle,  inspireer hulle mekaar, lag hulle, ja soms sluk hulle die trane weg. Een oggend terwyl hulle gesels, kom ‘n vreemdeling by hulle staan en vra of hy maar saam kan praat, hy hoor hulle praat oor die kerk, se hy. Ja se hulle. Sedertdien eet hy ook elke Vrydag oggend saam ontbyt, en kuier oor die kerk, want sien die vreemdeling is ‘n NG kollega het hulle later ontdek.

Op Palm Sondag het hulle gemeentes oor die treinspoor na mekaar gekom en die aand was daar uit hulle onderskeie gemeenskappe verkeie kerke saam in die NG gemeente in op die Kaapse vlakte. Na die diens eet almal saam, mense uit  al die kerke in die gemeenskap en vier hulle eenheid en moedig mekaar aan om ‘n getuie te wees van die Paas-evangelie.

Aan my VG kollegas, hierdie is ‘n ode aan julle, vir julle werk ter wille van die Evangelie in omstandighede wat so anders is as die plekke waar ek werk en leef. Ek bwonder julle vir julle deursettingsvermoe om ten spyte van die moeilike omstandighede voort te gaan. Ook wil ek graag jammer se vir soveel kere wat ek nie diep genoeg gekyk het en te vinnig oordeel gevel het sonder om regtig te verstaan.  Julle is vandag op Vryheidsdag my helde.

Mag ons nog op baie plekke ons voete onder mekaar se tafel instoot en ja uiteindelik een tafel he vir die Nagmaal, al moet ons in die Spur begin as vreemdelinge.

Tags: , ,

Trackback from your site.

Leave a comment