Mohamed Bouazizi se dood het miljoene gered

Written by Frederick on . Posted in Gemeentes

Die revolusie wat tans plaasvind is ʼn vuur wat aangesteek is deur meer as 40 jaar se onderdrukking – ʼn generasie jongmense wat nie meer aanvaar wat die “grootmense” sê nie. Die vuur is aangeblaas deur drome van ʼn nuwe wêreld, ʼn wêreld waar daar meer opsies is as net die keuse tussen die onderdrukking van radikale Islam en die korruptheid van ʼn sekulêre diktator. Die revolusie is aangeblaas deur die sosiale media (Twitter en Facebook) wat nie beheer kon word deur ʼn outoritêre regering en tradisionele strukture nie.

Wat opval van die revolusie is dat jy nooit hoor van ʼn leier nie. Tot vandag toe is daar nie een prominente leier wie se naam prominent na vore gekom het nie, selfs nie eers na die veranderinge in Tunisië en Egipte nie. Die vorige revolusies is gedryf deur sterk en charismatiese leiers (Gadaffi, Mubarak, ens). Ons hoor slegs die name van Bouazizi en Wael Ghoneim, die Google werknemer wat in Egipte in hegtenis geneem is. Nie een is ʼn leier in die tradisionele sin van die woord soos beskryf deur Maxwell of Covey nie.

Hierdie is ʼn revolusie gedryf deur gewone mense – “a peoples movement”. Die gedruis van die kaal voete van jong mense wat magtige diktators laat bewe en hoë mure laat tuimel. Dit is binne hierdie konteks wat die woorde van Alan Hirsch en Lance Ford ( Right Here, Right now, 2011) in hulle nuwe boek my getref het:

I believe with all my heart that the future of Christianity in the West is somehow bound up with the idea of becoming a people movement again. Somehow and in some way, we need to loosen up and learn how to reactivate the massive potentials that lie rather dormant within Jesus’ people if we are going to make a difference to our world.

In die ’70, ‘80 en ’90 jare was die mega-kerke met die sterk leiers die dominante verskynsel gewees. Vandag lees jy van verskillende bewegings (Emergent, Missionêre, Organiese) en ‘n verskeidenheid van klein “ongedefinieerde” groepe wat die gestalte van kerk aanneem vir baie gelowiges. Die leiers en strukture het ʼn baie laer profiel as die beweging self.

Vir hoofstroom kerke het hierdie tendense radikale implikasies, veral omdat baie van die sekuriteit van hoofstroom kerke in die struktuur en goed opgeleide leiers lê. As fasiliteerders genader word om gemeentes met probleme te begelei, dan word daar gewerk met die leiers. Baie energie en geld word bestee om leiers te ontwikkel en. Tog wil dit by nadere ondersoek lyk asof die potensiaal in die banke sit. Die wyse hoe ons lei, God se wil onderskei en oor die algemeen kerk wees, sal dalk ook moet skuif as die tendense wat ons geïdentifiseer het reg is.

Besluitneming sal weer in die hande van die lidmate geplaas moet word.; Leiers sal dalk nie noodwendig meer voor loop nie maar eerder die beweging dien, saam met die volk trek, tussen hulle, agter die vuurkolom aan. Leiers sal dalk eerder help om die realiteit vir die beweging te definieer, die realiteit te reflekteer en ʼn stem te gee aan die behoeftes en drome van God se mense.

In ons gemeente het ons die afgelope tyd in ʼn slaggat getrap toe ons nie die wysheid van die volk gaan soek het nie. Nie ʼn groot een nie, maar tog ʼn voorbeeld van die krag en die wysheid wat in die banke lê. Ons gemeente bedien Afrikaanssprekendes uit ʼn wye geografiese gebied in Brittanje en daar is slegs een oggenddiens wat gehou word in ʼn skoolsaal. Die kinders verteenwoordig 35% van ons lidmate tydens die erediens. Ons poog om die kinders so lank moontlik deel te hou van die erediens. Daar word begin met lofprysing vir ongeveer 20 minute, gevolg deur ʼn poppekas van 10 minute. Hierdie halfuur bestaan uit ʼn vreugdevolle gedruis wat goed akkodeer met lofprysing maar minder goed met aanbidding. Die kerkraad het ‘n voorstel ontvang dat die kinders na een lied en die poppekas na die kinderkerk gaan en dat daar dan voortgegaan word met die voorsang. Die besluit is geneem, ek het dit so afgekondig en die kinders is vroeër uitgestuur na die kinderkerk.

Direk na kerk het ʼn aantal ouers na vore gekom om hulle ongelukkigheid met die besluit te kom oordra. Met ʼn swaar gemoed is ek die Sondag huis toe, oortuig daarvan dat ons ʼn fout gemaak het. Tog was daar ander lidmate wat die stilte en gewydheid geniet het. Wat nou? Neem ons die besluit terug na die kerkraad; keer ons die besluit net eenvoudig om en wat het geword van al die geldige argumente wat ons in die eerste plek die besluit laat neem het?

Nadat ek die wysheid van ʼn paar leiers opgesoek het, het ons besluit om die kwessie na die gemeente terug te neem. Daar is gepoog om die ongelukkigheid van die ouers, asook die voor- en nadele van elke opsie te verwoord in my weeklikse e-pos. Die gemeente is uitgenooi na ʼn opvolggesprek na die diens. Ek het so iets nog nooit in my bediening probeer nie en was onseker of ek moet vra dat almal agterbly of net dié wat wil gesels. Met benoudheid het ek gevra dat almal deel moet wees van die gesprek net voor die slotsang.

ʼn Wonderwerk gebeur toe tydens die gesprek, ek kan dit net beskryf as ʼn “tweede orde verandering”. Die ouers begin praat oor die pyn en bekommernis wat hulle ervaar oor hulle kinders en hul Christelike opvoeding in ʼn totaal sekulêre wêreld; hoe belangrik dit vir hulle is dat hul kinders die liedere ken, hoe daar ʼn uur gery word na die erediens om vir 20 minute hand om die lyf met hulle kinders te staan en die Here te aanbid. In die gesprek begin ouer persone opstaan en praat met empatie en begrip vir die ouers se bekommernis. Die besluit word eenparig geneem, die kinders bly! en nadat hulle uit is word nog ʼn lied of twee gesing om ʼn rustiger stemming te verkry.

Iets groter as net ʼn gesprek het in ons gemeente gebeur. Soos een van ons leiers na die tyd vir my skryf : “Ek het tydens die gesprek besef, maak nie saak wat ons besluit nie, dit sal reg wees want die Heilige Gees is hier” – meer nog, die “People” het geluister en die “People” het gepraat.

Trackback from your site.

Leave a comment