Waarop moet ons fokus as ons krimp: Instandhouding of Gestuurdheid?

Written by webmeester on . Posted in Gemeentes

Ek verwonder my oor die energie, die toewyding, die goeie organisasie, die deurdagtheid van hulle hele strategie, maar veral oor die openlikheid waarmee hulle oor moeilike sake soos rassisme, sosiale geregtigheid, Swart  Bewussyn  en versoening praat asof dit die ABC van die evangelie is.  Dit is duidelik nie vir hierdie gemeente opsioneel óf daar oor hierdie sake gepraat moet word nie.  Oppad vertel ‘n jong jeugleier van hulle weeklikse betrokkenheid by ‘n skool in die swartwoonbuurt. Hy ry met gemak na die skool, hy ken duidelik die pad en oppad groet hy bekendes langs die pad.

Later die oggend word ‘n skildery onthul in die nuutgeboude kerk wat ‘n klompie kunstenaars uit die twee gemeentes saam geverf het. Die skildery verbeeld die bevryding wat swartmense ervaar  wanneer hulle hulle eie menswees omhels en die maskers afhaal.  

blackDie bekende slagspreuk van die bevrydingstryd: Black en beautiful word gebruik op die skildery. My mond hang met verwondering oop. Om te dink dat lidmate uit ‘n wit woonbuurt lank genoeg na hulle medegelowiges uit die swart gemeenskap kon luister om hierdie eens gehate woorde te omhels. Die krag van die gemeenskap wat gevorm word deur die werk van die Gees  om gapings te oorbrug word hier met oorgawe gevier. In hierdie vennootskap is mense vry om hulleself te kan wees teenoor mekaar. Die twee leraars wat die brug gevorm het, vertel van die pad wat hulle geloop het om mekaar te leer ken en te vertrou. Hulle is reguit en eerlik in hulle verduideliking, draai geen doekies om nie en neem ons almal saam op die alternatiewe roete van die evangelie wat nie buig voor verdeeltheid en skeiding nie.

In baie gemeenteleiers  se agterkop is daar die vrees dat indien hulle die gemeente se kultuur transformeer na gestuurdheid,  gemeentelede gaan wegloop en die gemeente verlaat. Onlangs het ‘n leraar die krimping in hulle  gemeente  toegeskryf aan die pogings om die gemeenskap te dien en die gepaardgaande spanning wat in die gemeente ontstaan het.  Die teendeel is egter in die mees  onglangse Kerkspieel opname opgemerk. GDN het in ‘n analise hiervan opgemerk  dat die sosiale deernis van lidmate in die NG Kerk aan die toeneem is.  In kort, ‘n toenemende getal NG lidmate sal gewillig wees om deel te neem aan ‘n bediening van die gemeente wat op die nood in hulle gemeenskap fokus.  Die GDN verslag stel dit soos volg:

‘n Besondere sosiale deernis word bespeur by lidmate veral deur lidmate se gemeenskapsbetrokkenheid

‘n Groot en steeds groeiende persentasie van erediensbywoners is betrokke by kosvoorsienings- (54.7% – meer as die helfte van alle erediensbywoners)  geldelike- (41%), pastorale- (30.6%), en werksverskaffingshulp (18.7%) aan mense buite hulle familie.  Die betrokkenheid by gemeenskapsdiens groei dus besonders.  Dit is ook vloeibaar en organies. ‘n Groot persentasie verkies om dit self in die gemeenskap te doen eerder as deur aksies van die gemeente, iets wat gemeentes sal moet verreken.  Die impak van ons gemeentes is reeds baie groot op dié terrein, en kan met vrug verder uitgebou word.

Wat ek Saterdagoggend beleef het,  bevestig bogenoemde.  Dit staan in kontras met die oortuiging  dat gestuurdheid lidmaatverliese  tot gevolg het.   

Natuurlik is daar lidmate en gemeentes wat nog vassit in ‘n volkstoelogie en verwag dat die NG gemeente waaraan hulle behoort,  hulle leefstyl as Afrikaanssprekendes instand moet hou en hulle belange moet dien.  Hulle is gewoonlik baie aggresief en maak ook dikwels ‘n groot deel van die leierskap van  gemeentes  uit.  Daar is egter ‘n groeiende ander kant wat  kontra-intuitief is  tot die instandhoudings teologie. Die instandhoudingsteologie en ekklesiologie gaan van die standpunt uit dat ons primêre taak is om ons eie lidmate te versorg en die gemeente instand te hou.  Hierdie strategie klink so: Ons moet eers ons eie lidmate bedien en indien ons daarmee sukses behaal sal ons ook in ons gemeenskap mense bedien wat nie tot ons behoort nie. In al die jare wat ek met gemeentes werk, het ek nog nie een gemeente teëgekom wat langs hierdie weg ‘n inpak op hulle gemeenskap kon maak nie.  Hoe meer gemeentes hulleself sien as die fokus van hulle bediening, hoe minder is hulle vermoë om gemeenskap te bou met mense buite hulle binnekring. Hierdie strategie kan net “sukses” behaal indien daar geen demografiese verandering in hulle gemeenskap kom nie. Die realiteit is egter dat daar byna geen gemeenskap in Suid-Afrika is wat nie geraak word deur groot demografiese veranderinge nie. Gemeentes wat op instandhouding fokus,  is byna sonder uitsondering besig om prosesse van krimping te bestuur. Wat my dikwels hiervan verras is hoedat gemeenteleiers sien dat die strategie krimping tot gevolg het, maar nie beskik oor die verbeelding om ‘n nuwe strategie te bedink nie en eintlik maar net verder en verder sink.

Daar is ‘n ander moontlikheid.  Ek het hierdie tendens  die eerste keer in ‘n middestadsgemeente in Chicago beleef. Anders as gemeentes in hulle omgewing, is daar ‘n groeiende lidmaattal  ten spyte van die feit dat meeste mense ver moet ry om eredienste in die middestad by te woon.(demografiese veranderinge)  By navraag het byna almal my verwys na hulle mentorsprogram. Oor 20jaar het hulle elke aand van die week 100 kinders uit die arm deel van die stad na hulle gemeente gebring en blootgestel aan ‘n mentorsprogram waar hulle geestelik, emosioneel en in hulle skoolwerk gementor is.   Die doel daarvan was nie om dié  kinders deel van hulle gemeente te maak nie, maar om hulle te bedien met beroeps- en lewensvaardighede wat die gemeente in oorvloed gehad het om te deel.  Die effek daarvan op die gemeente was dat hulle ‘n hoopgewende rede-vir-hulle-bestaan buite hulleself kon vind.   Hulle kon op die manier deel word van die MIssio Dei en dit het op allerlei vlakke van die gemeente se lewe ‘n positiewe invloed gehad.

Dit is dieselfde wat ek Saterdagoggend  beleef het. Die gemeentes rondom hierdie gemeente  is byna almal in ‘n oorlewingstryd.  Hoe méér hulle probeer oorleef,  hoe minder slaag hulle daarin.  Soos hierdie gemeente is daar ander voorbeelde in hulle omgewing van gemeentes  wat hulle  roeping verstaan in terme van ’n gerigtheid op hulle omgewing en nie in terme van hulleself nie en óók getuig van die sorg van die Here en onverwagse groei.  

 Dalk moet ons teen ons eie logika begin glo dat indien ons eers die Koninkryk en Sy geregtigheid soek, daar die belofte is dat  die Here sal sorg(Matt 6:33) Wat is die alternatief?

Trackback from your site.

Leave a comment