Oor vrede en Angola

Written by webmeester on . Posted in Transformasie

  • Toe die Here die engele toelaat om die geboorte van sy Seun aan te kondig, kon hulle twee versies sing. Moeilike keuse, maar die engele besluit toe om te sing: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde in die mense ʼn welbehae.”
  • En toe Jesus, na hy sy dissipels se voete gewas het en met hulle die nagmaal gebruik het, hulle ontsteltenis oor sy weggaan en dood aanspreek, gee Hy vir hulle onder andere die volgende twee beloftes: Hulle sal ʼn Trooster, die Heilige Gees ontvang wat by hulle sal bly. En dan sê Hy: “Vrede laat Ek julle na, my vrede gee ek vir julle. Die vrede wat ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie.”

Vrede was die engele se een woord opsomming van wat Jesus na die wêreld bring en vrede was Jesus se een woord vertroosting aan ontstelde dissipels. Vrede is die een woord opsomming van die evangelie. Die preek het die 12 pilare van vrede, die 12 woorde waarop vrede gebou word, wat dit moontlik maak, verduidelik (Ek het Walter Brueggemann se werk hieroor gebruik).

Hierdie storie is egter oor die tolk en die gemeente. Die tolk was ʼn Angolees wat in die oorlog geveg het en nog worstel om geestelik te herstel. Hy het van Windhoek af saam met ons gery, ʼn baie aangename man. Soms stil, soms spraaksaam. Vroegoggend voor die preek sit ons saam en “beplan” die preek. Ek skets die inhoud en die teologiese lyne van die preek en vra hom om vry te vertaal – hy ken die mense. “Pas dit toe soos die Gees jou lei.”

Hy sit ʼn rukkie stil en sê vir my. “Jy preek die regte preek. Die mense het dit nodig.” Toe vertel hy wat mense die afgelope dae met hom gedeel het. Een man het vir hom raad gevra want sy buurman het pas gehoor dat hy die en is wat in die oorlog sy buurman se vrou verkrag en haar dood veroorsaak het. Hier anderkant is ʼn ou man, vertel hy feitlik toonloos verder, wat in die oorlogstyd bekend was as “Major Resistance” – van Unita. Hy’t hom vertel van die keer toe hy opdrag kry om ammunisie in Huambo te gaan haal. Dis op die kortste, volgens my skatting, 600 km se stap soontoe…. en 600 km terug. Hulle is daar weg met 240 jong meisietjies wat hulle in die omgewing uit hulle huise “gevat” het. Elkeen moes ʼn ammunisiekis op haar kop terugdra. 170 het teruggekeer. Die ander is dood want wie nie verder kon nie, moes dood. Die ou man het gehuil. Hy sê, hy probeer om dit te vergeet.

Eredienste is hier, soos telkens in Afrika, selde korter as drie uur. Eers het die kore gesing. Die vroue sit aan die linkerkant van die kerk, die mans regs, die jongklomp in die middel – in groepe van mans en meisies. Sogende kleintjies is oral in hulle ma’s se arms. Die koster jaag kleintjies wat te veel raas die kerk uit. Ek bly kyk na die ou tannies en omies en bly wonder of daar van hulle is wat ammunisiekiste moes dra. Talle lyk so verweerd en gelate dat dit vir my voel asof dit hulle almal vanoggend in die kerk is – die wat oorleef het. Hoe sou Major Resistance lyk? Is hy dalk vanoggend hier? Talle van die ou gesigte kan in die raampie van die storie pas.

Dit was ʼn besondere preek. Die tolk was soos een wat die brood by my kom haal en dan draai hy om en hy gaan deel dit uit. Hy is op en af in die gangetjie tussen die banke en hy preek – met ongewone oorgawe en erns. En as hy terugdraai om die brood te kom haal, sit die kerk tjoepstil, half ongeduldig, hulle oë op die tolk, tot hy terugkom en die brood oopbreek en uitdeel aan die honger mense. Hulle het asof gehipnotiseerd na hom geluister… met groot oë wat diep in die maer en moeë gesigte van die ou mense na hom staar, uit strak gesigte van die jongmense wat kon aanvoel dat hier ʼn drama afspeel waaroor die ou mense nooit praat nie. Die honger na vrede was voelbaar.

Trackback from your site.

Leave a comment