Verder geluister: Johannes 11 – Sondag 10 April 2011

Written by webmeester on . Posted in Preekstudies, Verder geluister

Die skrywer hiervan sit tans in ʼn klein plattelandse gemeente en het die vorige ses dae ses klein plattelandse gemeentetjies besoek.  Oor die volgende paar dae is daar afsprake by nog vier. Al die gemeentetjies is in rou want hulle ervaar dat hulle sterf. Elke tien jaar is daar sowat 100 lidmate minder en tans is almal by die punt dat hulle groot probleme ondervind om beide die dominee te betaal en die pragtige ou kerkgeboue in stand te hou. Dit is nie al nie. In groot stede het mense met verskillende temperamente en spiritualiteite ʼn keuse van gemeentes of kerke. Nie hier nie. Daar is ʼn  konserwatiewe, dikwels ouer-mense groep; ʼn  jongmensgroep waarvan baie by Angus Buchan se byeenkomste was en saam met hulle of apart van hulle die “geestelike kampe” groep. As hierdie groepe nie kan insien dat hulle dele van die een liggaam is nie – en dit is ʼn  besonder moeilike insig – val die klein gemeente uitmekaar. En as dit gebeur is dit die laaste strooi voor die hele dorpie feitlik disintegreer, want daar is nie meer ʼn  bank nie, nie meer ʼn  dokter nie, die skole is in ʼn “toestand” en die paaie vol slaggate (die lys is baie langer). Dis omtrent net die drankwinkels en smokkelkroeë wat bly floreer uit die oumens-pensioengeld en die toelaes wat vir kinders bestem was. Daar is baie variasies van hierdie droewige verhaal!

Dit is seker moontlik om vir enige grootte gemeente só ʼn sterwensprentjie te kan skilder. Sommige ruik al. Dis nie lekker om daar te kom nie. Tomas, wat ook Didimus genoem is, is ʼn  prototipe van baie wat dink dat hieraan nie eintlik iets gedoen kan word nie, maar dat ‘n mens maar die sterwensritueel moet enduit gaan en hoop jý oorleef die tragedie as jy saam met Christus soontoe gaan. Hoe dít voel, kan heelwat brugpredikante van getuig!

Dis vir my ʼn  groot versoeking om nie nou self Joh 11 te neem en saam met die teks en Jesus op reis te gaan na ʼn  sterwende gemeente en kerk nie. Hy wat die opstanding en lewe is, kan in enige gemeente lewe gee. Ek glo dit, ek het dit gesien. Preek daaroor!

Dit is egter net Jesus wat dit kan doen, geen superhero dominee of geestelike nie. Daar is opgestaande Lasarusse wat die storie kan vertel saam met baie Maria’s en Martha’s. Daar is gemeentes ook. As ʼn  tesis se lees nie te veel moeite is nie, gaan lees die verhaal van Marken. 60 mense huil nie meer nie, want hulle gemeente is nie dood nie. Kyk. Hy droog al die trane af!

[PEENS, H. Die implikasies van ’n missionale transformasieproses vir die NG Gemeente Marken se voortbestaan. Mrt 2011.  http://etd.sun.ac.za/handle/10019/5798)


Trackback from your site.

Leave a comment