Tweede Geadgtes: Hand 2:2-21

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Pinksterdag: Sondag 31 Mei 2009

Jannie Richter wat die week se preekstudie geskryf het, het baie moeite gedoen en bied `n oorvloed van goeie perspektiewe en materiaal – ook homiletiese materiaal wat in die preek gebruik sou kon word.  Nadat hy die bydraes van `n verskeidenheid van outeurs (oa De Villiers, Vosloo, Herholdt, van Niekerk en Gaventa) bespreek het, kies hy vir `n benadering wat die klem wil lê op die belangrikheid en gereedheid om reg te luister na wat die Gees vir ons wil sê.  Met gebruikmaking van perspektiewe uit die werk van Marais en Nouwen gee hy dan vir ons `n baie goeie preekbare riglyn vir komende Sondag se preek.

My eie paar aanvullende gedagte hieronder, kom van drie kante af.  Eerstens, ek was die afgelope weke baie besig met Calvyn se siening van die Gees en sy werk (met die oog op `n kursus waarby ek betrokke was);  tweedens het ons verlede week `n uitstekende konferensie gehad (oor die missionêre kerk in Handelinge) met baie goeie sprekers wat baie sterk op die geheelboodskap van Handelinge gefokus het; en derdens het ek nog altyd gedink dat daar meer sit in die drie begeleidende tekens wat ons kry in Hand 2:1-4 nl die geluid van die wind, die tonge van vuur en die taalwonder.

Ek sou vyf opmerkings wou maak wat op een of ander manier lig kan werp op wat hier gebeur.  Dit is nie noodwendig (eintlik glad nie!) vyf agtereenvolgende punte vir `n preek nie – daarvoor is die gedagtes te los.  Dalk kan dit iewers in die preek (wat jy seker reeds klaar gemaak het!) gebruik word.

  1. Ons moet nie so verstrengeld raak in die detail van elke hoofstuk dat ons die groot boodskap van Handelinge naamlik die gawe en uitstorting van die Gees nie deurentyd raaksien en onthou nie.  Handelinge vertel die ongelooflike verhaal dat die geskiedenis van Jesus van Nasaret nie ophou na die Opstanding en die Hemelvaart nie, maar dat dit oorgesit word in `n ander rat en voortgaan – selfs met meer krag en gloed as tevore.  Dit is belangrik dat die konneksie met die eerste verhaal duidelik aangewys word.  Dit kan ten beste gesien word in die toespraak van Petrus in Hand 2.  Hy verklaar die Pinksterwonder met `n verwysing na Jesus: al hierdie dinge wat nou gesien word, het begin by Jesus.  Die Gees kom om Jesus te verkondig en te verheerlik.  In terme van Joh 16:5-11 sou `n mens kon sê dat die Gees die hofsaak teen Jesus van Nasaret kom heropen en van elke mens vra om die getuienis weer aan te hoor en jou eie persoonlike uitspraak daaroor te gee.

    Daar is een verskil in die twee verhale wat ons nouliks kan mis.  In die Handelinge verhaal is daar `n gloed en krag en oortuiging by die dissipels wat meesal nie daar was in die evangelies nie.  So bv eindig die evangelieverhaal met `n handjievol getroue dissipels.  Aan die einde van Handelinge 2 is daar reeds duisende gelowiges.  Dit het te doen met die onstuitbare krag van die Gees.  

    Hy is inderdaad soos `n magtige wind wat waai in die wêreld – waar Hy wil …

  2. Daar is `n tweede interessante verskil tussen die Evangelies en Handelinge – ons sou ook kon sê tussen die manier waarop Jesus sy werk doen en die manier waarop die Gees die werk verder voer.  As Jesus sy werk doen, doen Hy dit sonder ons, vir ons (vgl bv Getsemane) .  As die Gees kom – dit was God se plan – word ons ingeskakel by die werk!  Daarom lees ons dat die tonge van vuur verdeel en op elkeen van die mense gaan sit.  Gewone mense ontvang ook almal die gawe om in een of ander verstaanbare taal te praat.  Later in sy preek verduidelik Petrus die verskil nog verder.  In die OT was dit enkele besondere leiersfigure wat die gawe van die Gees ontvang het.  Nou sal almal in die gemeente profete en priesters kan wees: gewone mense, jongmense, oues, almal.

    Dit is die ongelooflike tweede genade van Pinkster: ons word nie net gered nie; die Gees maak ons deel van die werk van Christus op aarde!

    Wat ons verder in die Handelinge en in die NT lees oor die werk van die Gees, gaan oor die vraag hoe die Gees ons gereed maak, bekwaam maak, heilig maak, diensbaar maak met die oog op  hierdie werk.  

    In hierdie verband kan dalk weer gekyk word na die teken van die vuur.  Daar is kenners wat meen dat die vuur dui op oordeel, skoonmaak, heiliging; ander weer meen dat dit gaan oor entoesiasme en bemagtiging.  Die punt is in elk geval dat insluiting – om die geleentheid te kry om mee te doen – nog nie alles is nie.  Nie almal gebruik hierdie geleenthede ewe goed nie.  `n Fyn luister na die stem van die Gees, `n gereedheid om gehoorsaam te wees aan die Here se wil, is alles faktore wat die uitkoms van sekere gebeure beïnvloed na die een of ander kant.

  3. Daar is heelwat kommentare wat meen dat die tekens by die teofanie van Hand 2:1-4 sterk herinner aan die Sinaigebeure.  Dit word gekoppel aan die feit dat in die latere Joodse geskiedenis die ontvangs van die Wet geassosieer is met die Pinksterfees en mettertyd die fokus van die Pinksterfees geword het. Hoewel nie almal saamstem hiermee nie en sommige dit sien as `n latere ontwikkeling in die Judaïsme, is daar tog veel te sê vir die koppeling.

    Vir NT gelowiges word Pinkster dan die vervulling van die belangrike beloftes in die OT (bv Jer 31:31-34) waar gepraat word van die nuwe hart en gees in ons binneste waarop die wet van God op `n nuwe manier geskryf sal wees.  Dit is die Gees wat die wet van God op ons harte skryf en ons bring tot gehoorsaamheid (vgl hiervoor Rom 8:1-4).  

    Dit pas ook baie goed by Calvyn se sterk klem op die vernuwende, wederbarende en heiligende werk van die Gees in ons lewens.  Deel van die nuwe wat die Gees bring, is dat Hy ons kom omvorm en nuut maak – al hoe meer gelykvormig aan die Beeld van Jesus! – sodat ons waardige en getroue getuies van die Evangelie in die Wêreld kan wees deur wat ons sê, maar veral ook deur wat ons doen.

  4. Daar is ook `n sterk gedagtelyn by baie kommentatore dat die Pinksterverhaal gelees moet word as `n omkering of herstel van die geskiedenis van Babel.  By die bou van die toring van Babel het die Here ingegryp sodat mense van dieselfde taal en volk mekaar later nie meer kon verstaan nie.  As die Gees op Pinksterdag kom, gebeur die teenoorgestelde.  Mense wat van verskillende wêrelddele kom en verskillende tale praat, begin skielik deur die Gees se ingrype om mekaar te verstaan.  
    Die eerste betekenis gaan hier sekerlik oor die feit dat die evangelie na die ganse wêreld gedra moet word, en die blye boodskap en groot dade van God, in elke taal verkondig moet word.  Maar hier sit ook `n tweede betekenis opgesluit nl dat die evangelie in sy diepste wortels en intensies inklusief is en alle mense, groepe en tale insluit. 

    En dan is daar, so lyk dit vir my, ook nog `n derde betekenisnuanse!  Die Here sluit nie almal in sodat elkeen iewers in `n eie hoekie hul eie ding in hul eie taal kan doen nie.  Pinkster gaan ook oor die herstel van verhoudings en dat mense wat vreemdelinge en vyande was deur die krag van Christus se versoeningswerk, naby aan mekaar kan kom, mekaar kan verstaan en selfs broers en susters in een kerk kan word.  Dit is in elk geval wat ons hoor in die res van die verhaal in Handelinge…

  5. Calvyn sê dat die eerste en vernaamste werk van die Heilige Gees is om ons aan Jesus te verbind.  Jesus is die Here en Messias – die een na wie ons harte smag en wat ons kan help en red.  Ons moenie so besig raak met ander dinge wat die Gees doen dat ons vergeet dat dit – ook vir die Gees – uiteindelik oor Jesus gaan en oor die band met Jesus nie.  Die Gees wat die dissipels hier ontvang, is die Gees van Christus, die Gees wat deur Hom beloof is en waarop Hy gesê het hulle moet wag.

    In ons gedeelte hoor ons dit dalk die duidelikste in vs 21.  Redding begin nie met wind of vuur of tale, of wat ook al nie.  Dit begin as mense die Naam van die Here Jesus Christus aanroep, na sy woorde luister en buig voor Hom as Here en Christus (vs 36). 

       Sonder Hom kan ons niks doen nie …

Coenie Burger

LET WEL: Die Powerpoint is nie vir ide fokusteks van Sondag 31 Mei nie, maar wel vir een van die ander RCL-fokustekste van die week.

Seisoen van Luister Powerpoint

Sien verdere  2 preekriglyne oor Hand 2:2-21 in Preekriglyne-argief

EN Hand 2:2-21

Trackback from your site.

Leave a comment