Tweede Gedagtes: Ps 107:1-3, 17-22

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 22 Maart 2009

“Uit Wanhoop tot Hoop, lewegewende Hoop”

Die outeur maak dit duidelik dat Ps 107 oor restourasie gaan – ek bedoel, die volk kry kans om op te staan, van hul sonde verlos te word en in alle opregtheid, God weer te gehoorsaam, Hom in waarheid en toewyding te dien – en dit, nadat hulle in sonde verval het, hulle rug op die Here gedraai het. Dié sondige situasie word helder en duidelik geskets as een van verdwaaldheid en verlorenheid (v4,9), van ellende (v5,10 – 12, 17), van duisternis en gevangenskap (v10), van verset en opstandigheid (v11,17) – en dat hulle na aan die dood was (v18,20), benadruk eintlik hul situasie van wanhoop, van geen uitkoms of bevryding of van herstel en genesing nie.

Dít was hulle lewenservaring, in elk geval tot op daardie oomblik waar iemand, enkeling of familie, invidu of groep, God begin opsoek het, hulle tot God, hul Redder en bevryder gewend het.  Dis toe dat dit gebeur, dat tekens van wanhoop vervaag, tekens van verweer en verval verdof, en tasbare, sigbare bakens van hoop, lewegewende hoop verrys het uit die doem-agtige verlede.

Die oomblik toe hulle tot God roep (v13a), het Hy hulle bevry, (v13b) het Hy hulle uit die donker, uit die diep duisternis laat uitkom (v14) – hul boeie word stukkend gebreek (v14d), en nog sterker, die koperdeure en ystergrendels word stukkend geslaan (v16). Ja, met een enkele woord, het Hy hulle gesond gemaak (v20a) en hulle dus aan die dood laat ontkom (v20b). Hoe wonderlik die trou van God, hoe ondeurgrondelik die wyse waarop God hoop bewerk, hoe omarmend en alles-oortreffend is die ingrype van God nie!

Die graad van God se trou, verlossing en hoop, oortref die graad van wanhoop. Die vernietigende situasie van eie sonde en walglikheid, word in verre oortref deur die Woord van genesing, redding en hoop wat God spreek. Die wat die dood verdien, word genees, die terminale een, die een wat niks anders sien en verwag as die dood nie, vind hoop en lewe. Ja, selfs vir die skuldbelaaide een, die skuld-draende een, is daar hoop, is daar uitkoms en bevryding. Ja, vir die verkragter (soos die reeksverkragter – Tsediso Letsoenya) en familie-uitwisser (Marius van der Westhuizen), is daar hoop en kan die Lig van verligting, genesing en aanneming, vir hulle opgaan.

Dis daarom te verstane dat die vreugde wat diesulkes wat deur die Here bevry en verlos is, so oorweldigend is, dat dit die hele Psalm deurspek – want waar wanhoop al vorm van lewe was, daar heers lewe en hoop nou, daar waar daar geen ander uitsig as donkerte en duisternis was, daar heers lig en die Lig nou; daar waar gevangenskap, siekte en dood was, daar bestaan hoop, lewegewende hoop – die hoop wat mense transformeer, die hoop wat tot diens beskikbaar stel, die hoop wat God se trou, verlossing en hoop vreugevol besing, juis omdat dit kan getuig van hoe wanhoop in hoop wat lewe gee, oorgegaan het. Van hoe terminale siekte en dood omskep word in lewe en diensbaarheid. Dit is wat God in en deur Jesus Christus kan doen.

Ek het iewers gelees van ‘n skrywer wat meen, ‘n mens kan baie lank sonder kos leef, maar nie een enkele sekonde sonder HOOP nie. K. Gallahan skryf en sê: Hope is stronger than memory …  Die politieke en ekonomiese klimaat, die tienermoorde, skoolgeweld, die groeiende dwelm- en drankmisbruik onder veral jongmense, die cliché van streng kinders en gehoorsame ouers, asook die Malema’s  van ons dag,  laat ons soms sonder hoop -soms is ons meer sonder hoop as wat ons hoop het.  Die morele verval (korrupsie, wangedrag, seksuele misdrywe, noem maar op) waarvan ons daagliks in die koerante lees, laat ons verlang na uitkoms en bevryding –  die groeiende werkloosheidsyfer (wat jou laat wonder of jy nie dalk volgende is nie) wek nie hoop nie, die feit dat mense (onder wie geliefdes) by die honderde hul huise en motors maandeliks verloor, laat die hoop dikwels verdof en vervaag.

Die outeur van Psalm 107 wil ons help besef dat daar in enige situasie van wanhoop, dwaasheid, siekte, verlorenheid, rebelsheid en of dood, hoop is – want Jesus Christus self is ons Hoop, Hy het hoop verpersoonlik en vergestalt en daarom as enigiemand, familie of groep, enkeling of geloofsgemeenskap, hul toevlug tot God neem, hul te midde van hul terminale toestand tot God roep, Hy inderdaad sonder verwyl, tot ons bevryding en redding sal kom. Dat Hy, ongeag die graad van ons wanhoop, dit in liefde en genade sewevoudig sal oortref, want Hy begeer niks anders as lewe, ewige lewe vir ons nie. Daarom die lydenstyd, daarom die krusiging en die opstanding, die hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, en ja die vooruitsig dat Hy terug gaan keer aarde toe.

Kyk ons rond, sal ons te midde van ons wanhopige situasie, tog tekens van hoop en restourasie sien, klanke van hoop hoor, en dade van hoop beleef, soos kinders (wit en swart) wat mekaar omhels, vriendskappe wat tussen volwassenes oor die kleurgrens gesmee word, gemeenskappe wat oor ouderdom en kleur saamwerk om die morele verval aan te spreek, vaders wat rehabilitasie verwelkom en hul samewerking gee, onderwysers wat meer as wat hulle pligstaat voorskryf, doen om uit te reik na kinders in probleemsituasies. Eens afvallige gelowiges wat weer die samesyn van geloofsgemeenskappe opsoek, ens.

Hoop, die ware Christelike hoop wat nie beskaam nie, die hoop wat lewe wek en inspireer, die hoop wat aksie word en ewigdurend bly, kan verrys uit enige doemsalige situasie, want die Een wat Hoop beliggaam, is Jesus Christus self – ons bevryder, redder, hoopwekkende-en-hoop-onderhoudende God. Daarom kan ons juig, kan ons dien, en betrokke raak, kan ons uitsien na die toekoms, en kan ons Sy lof en aanbidding, altyd en voortdurend, onder enige omstandigheid, besing. Roep tot Hom en Hy sal jou oorskadu, red en uitlei.

Donald Katts ( Volkskerk van Afrika)
Seisoen van Luister PowerPoint

Geen verdere preekriglyne oor Ps 107 in Preekriglyne Argief beskikbaar.

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment