Tweede Gedagtes: 1 Joh 5:6-13

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag 24 Mei 2009

Een van die sentrale begrippe wat in hierdie week se teks voorkom (terloops, ek dink dit is beter om 1 Joh 5:6-13  as ‘n eenheid te hanteer) is die begrip getuienis (marturia in Grieks en testimony in Engels). Soos wat in die preekstudie baie duidelik na vore kom, hou dit verband met die sentrale getuienis aangaande Jesus Christus  “deur die water van sy doop en die bloed van sy dood” en deur die Heilige Gees. Volgens Johannes is daar dus drie wat getuig “Die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen” (1 Joh 5:7-8). In die daaropvolgende verse brei Johannes uit oor wat dié getuienis behels en die preekstudie gee ‘n goeie uiteensetting hiervan.

In die aktualisering is die vraag natuurlik: Hoe lyk óns getuienis? Hoe lyk jou en my getuienis oor hierdie Persoon wat ons lewens deur sy lewe (water en bloed) en deur sy Gees aangeraak en verander het? Wat sien en hoor mense oor ons geloof in dié Persoon?

In dié verband het daar verlede jaar ‘n interessante maar skokkende boek verskyn oor hoe veral jongmense, wat nié deel van die binnekring van die geloofsgemeenskap vorm, Christene se getuienis beleef. Die boek is die resultaat van empiriese navorsing wat deur die bekende Barna instituut in die VSA gedoen is. Die skrywers en titel is: David Kinnaman & Gabe Lyons: Unchristian: What a new generation really thinks about Christianity…. and why it matters. Baker Books: Grand Rapids, Michigan.

Wanneer ek ‘n boek lees wat statistiek bevat, herinner dit my altyd aan die bekende woorde van die Joodse geleerde Abraham Heschel. Reeds in die middel van die vorige eeu het hy geskryf dat daar twee woorde is wat ons uit ons teologiese woordeskat moet haal, dit is naamlik “surveys” en “survival”.

Met dit in gedagte, was dit tog goed om na hierdie navorsing onder die jonger geslag “outsiders” in die VSA te kyk. “Outsiders” verwys hier na jongmense wat nie meer deel van die kerk is nie, of wat ander geloofsoortuigings het, maar wat nie geheel en al onbekend met Christene is nie. Dié jonger geslag noem hulle die “mosaics” en die “busters” wie se ouderdomme wissel tussen 16 en 29 jaar.

 Die skrywers begin met die stelling: “Christianity has an image problem”, en haal dan een sogenaamde “outsider” aan wat Christene soos volg beskryf: “Most people I meet assume that Christian means very conservative, entrenched in their thinking, antigay, anti-choice, angry, violent, illogical, empire builders; they want to convert everyone, and they generally cannot live peacefully with anyone who doesn’t believe what they believe.”

Kinnaman en ‘n span navorsers ontwikkel dan ‘n wetenskaplike vraelys waarin van dié stellings getoets word. Die resultaat van hulle navorsing spel hulle aan die hand van ses stellings uit en gebruik die volgende begrippe om dit te beskryf:

  • Geveinsdheid (hypocritical): Christene sê een ding maar leef op ‘n ander manier. 
  • Word gered! (get saved!): Christene is nie opreg nie en net in die sogenaamde redding (lees siele) van mense geïnteresseerd. 
  • Anti-homoseksueel (antihomosexual): Christene het ‘n afwysende houding jeens homoseksuele mense. 
  • Beskermd (sheltered): Christene is vervelig, onintelligent, oud-modies en uit voeling met die werklikheid. 
  • Te polities (too political): Christene word primêr deur ‘n politieke agenda gemotiveer en promoveer regs-gesinde politiek. 
  • Veroordelend (judgmental): Christene het ‘n oormaat aan trots en is vinnig om fout te vind in ander.

Teenoor elk van die persepsies het Kinnaman en Lyon sekere voorstelle oor hoe Christene dié persepsies sou kon verander: hulle moet meer deursigtig wees oor hul tekortkominge en eers handel voor hul praat; hulle moet aandag skenk aan verhoudings en ‘n omgewing skep waarin mense deur God verander kan word; hulle moet liefde en meelewing aan alle mense betoon ongeag hul lewensstyl; hulle moet ingelig wees en gesofistikeerd reageer op die probleme waarmee mense worstel; hulle moet andere respekteer en soek na oplossings vir komplekse aspekte van die lewe; hulle moet met genade leef deur die goeie in ander mense te soek en hul potensiaal om navolgers van Christus te wees, raaksien. 

 In ‘n slothoofstuk maak die skrywers dan vier laaste aanbevelings oor hoedat ons van “Unchristian” na “Christian” kan beweeg. Volgens hulle begin dit by optrede vanuit die regte perspektief (Jesus se perspektief). Dit moet opgevolg word deur werklik met mense te verbind, deur kreatief te wees en deur bereid te wees om mense te dien.

Teologies kom ‘n mens gou agter dat die skrywers vanuit ‘n evangelikaliese agtergrond werk, maar daarom waardeer ‘n mens juis hul bereidwilligheid om in die spieël te kyk. Ons sou heelwat uit hul studie kon leer vir ons eie situasie, maar moet ook deeglik die kontekstuele verskille in gedagte hou. ‘n Soortgelyke ondersoek in SA sou dus ‘n interessante vergelyking kon oplewer.

Ek hoop hierdie gedagtes kan ons help met die aktualisering van 1 Joh 5, en ons verder kan help om meer in die bloed en water van Jesus se lewe en in die werking van die Gees te vertrou, as in ons eie  vermoë om “getroue getuies” te wees.

Ian Nell

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere Preekriglyne in leesrooster-argief beskikbaar oor 1 Joh 5:6-13

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment