{ARGIEF}

Elke week skryf iemand “tweede-gedagte” oor die fokusteks van die week. Dit word geplaas op die Preekstudies blog.  Hierdie week sit ons dit op die voorblad om meer besoekers bewus te maak van wat verwag kan word by die blog.

My tweede gedagtes is ‘n groepie los gedagtes met verwysings na onlangse artikels in die media. (Seisoen van Luister PowerPoint)

Tragedie eindig in triomfIan Nell skryf in sy preekstudie: “Die verassende perspektief is natuurlik die paradoks dat groei in geloof plaasvind waar geloof onderdruk word, waar gelowiges swaarkry en vervolg word.” Dit is sekerlik een van die mooiste kenmerke van die Goeie Nuus, om die woorde van Paulus in Fil 1:19 te gebruik, “want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan.”

Die afgelope maand het die Olimpiese Spele ons almal aan die praat gehad. Die vinnigste man op aarde; die vrou wat ‘n spies die verste kan gooi. En die pragtige deugde wat die atlete openbaar: deursettingsvermoë, passie, toewyding en goeie sportmanskap.

Maar dit was die Paralimpiese Spele wat die verbeelding aangegryp het. Mense wat met gebroke liggame uitstyg bo die verliese wat hulle gely het. Deelnemers wat lyk asof hulle nóg meer as hulle Olimpiese eweknieë deelname op die hoogste vlak geniet. Behalwe vir die bekende verhaal van Natalie du Toit, is een van die aangrypende verhale dié van Shireen Shapiro.(sien foto hiernaas) Haar storie word in Rapport van 14 September vertel onder ‘n opskrif wat soos Evangelie klink: “Tragedie eindig in triomf.” Dié sewentienjarige meisie het vier jaar gelede amper gesterf nadat ‘n motorboot se skroewe haar liggaam uitmekaar geskeer het. As ‘n goeie swemmer was sy op die punt om haar droom na die Olimpiese Spele te laat vaar. Na ‘n besoek van Natalie du Toit het sy van besluit verander en begin oefen. Haar tragedie is in ‘n triomf verander toe sy en die Nieu-Seelander Sophie Pascoe saam eerste geëindig het in ’n wêreldrekordtyd van 1:10.57 van die 100 m-rugslag vir vroue (S10-klas.) Predikers kan hierdie verhaal met vrug gebruik om te illustreer hoe God selfs die slegste gebeurtenisse kan gebruik sodat dit “op my redding sal uitloop.”

Kliek op die volgende skakel om die hele storie te lees

3…2…1…Boem! En toe’s die aarde daar (of nie)

In ‘n ander artikel in dieselfde Sondag se Rapport lees ons van die eksperiment met die Groot Hadron-versneller (GHV). Wetenskaplikes se soeke na ’n verklaring vir die ontstaan van die heelal het die afgelope week ’n massiewe tree vir die mensdom gegee toe die grootste wetenskaplike eksperiment tot nog toe aangeskakel is.Met komplekse (en duur!) tegnologie word daar gepoog om die omstandighede kort na die oerknal te rekonstrueer. Dit is egter interessant om daarop te let dat selfs onder die wetenskaplikes die God-vraag integraal deel is van hierdie ondersoek. Die soeke na “God”: Een van dié botsingsplekke word Atlas genoem. Hier sal wetenskaplikes soek na “God se deeltjie” – soos die Higgs-boson-deeltjie genoem word.

Volgens prof. Peter Higgs se voorstelling 44 jaar gelede is dít ’n teoretiese deeltjie wat behoort te bestaan. Hy het dit bestempel as die ontbrekende skakel in die heelal wat vermoedelik massa aan materie gee. Die Britse teoretiese fisikus prof. Stephen Hawking, wat glo die Higgs-boson bestaan nie, het ’n weddenskap van $100 aangegaan dat “God se deeltjie” nie gevind sal word nie. As “God” gekry word, sal Higgs die Nobelprys wen. As “God” nié gekry word nie, kan Hawking bekroon word.

Dit is belangrik om gelowiges te begelei om die natuurwetenskappe nie te sien as noodwendig strydig met God se Woord nie. Die belydenis van God as Skepper word nie deur die wetenskaplike teoretiese konstruksie, bekend as die oerknal, nietig verklaar nie. Die klem wat Ian Nell in die preekstudie lê op die belang van die verhouding tussen God en skepping is werklik belangrik. God en skepping staan nie absoluut los van mekaar nie, maar “The center is the recognition of the presence of God in the world and the presence of the world in God” (aanhaling van Moltmann). Gelowiges behoort dus die eksperiment met die Groot Hadron-versneller nie as ‘n bedreiging vir die belydenis van God as Skepper te sien nie, maar eerder die verdere toeligting op die belydenis van God as Skepper. Indien God bely word (aldus Prof Wentzel van Huyssteen) as “Ultimate Reality” behoort geen wetenskaplike eksperimente wat met die werklikheid werk, gelowiges se geloofsfondasies te laat verkrummel nie. Inteendeel!

Kliek op die volgende skakel om die hele storie te lees:

Om na die beeld van God geskape te wees is om medewerkers met die Skepper te wees. Die werk van E Conradie waarna Ian Nell verwys is werklik uitstekend. Die metafore wat gebruik word vir God die Skepper help ons ook om onsself beter te verstaan. Ons is inderdaad saam met God aan die werk! Die artikel in Beeld wys hoedat daar oor vyf jaar in Suid-Afrika werklik ernstige watertekorte kan wees indien ons nie nou reeds begin om water te bespaar en die probleem op ‘n konkrete, pro-aktiewe manier aan te spreek nie. Gelowiges moet nie net glo, doop en aanbid nie. Ons moet water bespaar. Dit is net so ‘n deel van die geestelike lewe.

Kliek op die volgende skakel om die hele storie te lees

Koedoes, kameelperde gaan só begin swaarkry

Die Suid-Afrikaanse Biodiversiteitsinstituut (SANBI) het bevind dat klimaatsveranderinge besig is om die fisiologiese samestelling te verander van die bome wat die belangrikste voedingsbronne van koedoes en kameelperde is. Predikante kan eweneens hierdie voorbeelde gebruik om aan te dui hoe kompleks en geïntegreerd God se skepping is. Die keuses wat ons uitoefen om in ‘n geïndustrialiseerde wêreld te jaag na geld en sukses het bepaalde en konkrete gevolge.

Kliek op die volgende skakel om die hele storie te lees:

Bydrae deur André Agenbag

Preekstudies