Verder geluister: 1 Konings 17 ~ Die Grammatika van Genade

Written by webmeester on . Posted in Verder geluister

9 Junie 2013 ~ Derde Sondag in Koninkrykstyd ~ 1 Konings 17

Die Grammatika van Genade

Dit is die derde Sondag in Koninkrykstyd. Nou vir wat, sal julle vra, lees ons vandag van die weduwee van Sarfat? Wat kan sy ons leer van die Koninkryk van God, buiten dat Elia haar gedurig uit die moeilikheid moes help? En, sou julle nog kon byvoeg, sy was nie eers ‘n Israeliet nie! Sy was uit Sidon, dieselfde plek as die aaklige koningin Isebel wat vir Elia soveel probleme gegee het en hom soos ‘n hond gejag het, juis sodat God vir Elia na die weduwee van Sarfat gestuur het om ‘n blyplek te kan hê.

Ek dink ons kan baie leer van die weduwee van Sarfat oor God se Koninkryk. Ja, sy was maar net ‘n weduwee, ‘n verskopte en verstotene van die samelewing. Wanneer jou man sterf, het jy nog ‘n kans gehad (hoe grusaam ons die idee ook nog vandag vind) om met sy broer te trou om ‘n seun vir hom in die wêreld te bring. Maar as jy noual klaar ‘n seun het, soos die weduwee van Sarfat, dan gaan jou man se broer hom ook nie eers oor jou bekommer nie. En boonop is daar ‘n woord of twee in die passasie wat ons laat dink hierdie weduwee was nie eers ‘n “goeie” vrou nie. En dan nog ‘n Sidoniet ook. Sy is so ‘n niemand, sy kry nie eers ‘n naam in die verhaal nie, sal ons sê.

Aan die een kant kan ons die verhaal van die weduwee vertel as een van onderbroke ellende. Haar ellende word net elke nou en dan onderbreek as Elia haar ‘n rukkie uitkoms gee. God stuur Elia na die weduwee van Sarfat wanneer hy vlug vir Isebel. Hy vra haar vir water en kos, maar sy is op haar laaste broodjie vir haar en haar seun. Elia “vermeerder” die brood en olie sodat dit vir dae nie opraak nie. Toe sterf haar seun, en hy wek die seun weer uit die dode op. ‘n Mens wonder hoe lank dit nou gaan hou, want jy hoor nooit weer van haar nie.

Maar kom ons kyk ‘n bietjie anders na die weduwee se verhaal. Kom ons kyk na die weduwee as ‘n mens, ‘n mens van vlees en bloed met gevoelens en verlangens en vrese. Die vrou in ons verhaal toon baie emosie. Dis eintlik min in die Ou Testament dat ‘n vrou se emosies so beskryf word. Die vrou het pyn. Haar man is dood. Sy het vrees. Sy en haar seun staar ‘n hongerdood in die gesig. En sy het woede. Hoekom kom jy hierheen om my vir my sondes te straf en my seun te laat sterf? vra sy Elia en sy is kwaad.

En nou sien ons dat iets wonderliks gebeur. Elia bemagtig hierdie vrou, hierdie vrou wat geen status in die samelewing het nie, wat nie eers kos het om te eet nie, wat nie ‘n lewe het nie en ook nie ‘n toekoms nie. Of eintlik bemagtig God haar deur Elia. En dit is hierin wat ons sien hoe God in Sy koninkryk werk.

Die weduwee word op ten minste drie maniere bemagtig. Eerstens word daar vir haar spasie vir hoop gemaak. Honger en eensaamheid het nie die laaste sê in haar lewe nie. Dit maak Elia baie duidelik toe hy daarop aandring dat sy vir hom ‘n broodjie moet maak. Hoop het die volgende sê in haar lewe.

Tweedens word die weduwee ‘n deelnemer aan haar eie hoop gemaak. Sy gee haar laaste broodjie op. Sy gee haar seun se dooie liggaam op. Sy bring die hoop na Elia toe, dat sy daaraan deel kan word. Sy neem besluite om te hoop. En eintlik is hierdie so ‘n eienaardige situasie, so teen al die norme van die tyd in. ‘n Man wat met ‘n vrou praat in die openbaar, en dan sommer ook ‘n vrou wat nie aan Israel behoort nie, en dan ook nog ‘n weduwee is. Dit was daardie tyd so taboe. En dan gaan bly hy sommer by haar! Darem in die bo-kamer, maar wat sou die bure sê? En dit nog by ‘n vrou met ‘n reputasie. Maar Elia bemagtig hierdie vrou in haar ellendige situasie om hoop te doen. In God se koninkryk is daar altyd spasie vir hoop. En daar ook is hoop ‘n werkwoord. Ons neem daaraan deel.

En dan bemagtig Elia die vrou nog op ‘n derde manier ook. Haar woede word ernstig opgeneem. Bitter vra sy Elia of hy haar vir haar sondes kom straf het. Elia bespreek haar woorde met God. En God gee ‘n antwoord. Hy maak haar kind gesond. Ja, dit is ‘n antwoord. Die antwoord sê dat God nie iemand se kind laat sterf om haar ‘n punt te wys nie. Hy vat nie ‘n kind om iemand anders te straf nie.

En dit is God se grammatika van genade. Hy gee vir die weduwee ‘n kans om Elia te red. En dan word sy én haar seun gered. Nie omdat sy eerste gered het nie, maar om te wys dat sy en haar seun waardig is in God se oë. Hulle is werd om in Sy koninkryk hier op aarde te lewe. Hulle is werd om deel te hê aan Sy genade.

Die grammatika van genade. Miskien moet ons besluit om hierdie week God daarin na te praat. Dat ons mekaar sal bemagtig met die waarde wat ons in God se oë het, en die toegang wat ons tot Sy genade het.

Christina Landman

Seisoen van Luister PowerPoint

Preekriglyn in Argief

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment