Verder Geluister: Markus 7:24-37

Written by Admin on . Posted in Verder geluister

Sondag: 6 September 2009

Augustus, wat so pas verby is, word in Suid-Afrika as die maand vir vroue gevier. Die historiese gebeurtenis van 20 000 vroue uit alle sfere van die samelewing wat op 9 Augustus 1956 na die Unie-gebou gemarsjeer het uit protes teen die paswette van daardie tyd, word in herinnering geroep. Ons mag vroue se stryd vir ‘n vrye, nie-rassige en nie-seksistiese Suid-Afrika, nooit onderskat nie.

Dis soms nodig om te protesteer. As jy seerkry, moet ‘n mens soms “skreeu” – of dan hard praat, want dít laat mense van opinie verander! Dit bring nuwe insigte. Dit help ons om op die pad van volledige(r) menswees te vorder.

W. Somerset Maugham, bekende Engelse kortverhaal skrywer, vertel ‘n storie van ‘n vrou wat só geskreeu het (“The force of circumstance”). Sy is ‘n Maleise vrou wat op die ouderdom van 15 jaar ‘n verhouding met die wit Engelse bestuurder van ‘n landgoed in Maleisië aanknoop. Die verhouding duur nege jaar lank en drie kinders word uit hierdie verhouding gebore. 

Toe gaan die man, Guy, Engeland toe en keer terug met ‘n wit vrou. Sy Maleise hou-vrou moes terug na die “kampong”. Elke aand het die Maleise vrou hom ingewag as hy van die werk af kom en dan ‘n “groot kabaal opgeskop”.

Sy vrou het nie die taal verstaan nie en hom gevra hoekom die vrou so erg skreeu. Uiteindelik het hy haar alles vertel. Geskok het sy hom verlaat en teruggekeer Engeland toe. Die verhaal sluit af met die woorde: “Daardie nag het hy die Maleise vrou teruggeneem!”

Maugham se verhaal wil eintlik vir ons wys op hoe vroue op universele wyse dringende gesprek, “skreeu”, protes as wapen gebruik – om gehoor te word. Die Maleise vrou het geregtigheid vir haar laat geskied deur te “skreeu”. 

In Markus 7:24 ev (lees Mat 15:21-28) lees ons ook van ‘n vrou wat geskreeu het. Toe sy aanhou skreeu, stop Jesus om met haar te praat. Hy noem haar niks. Nie “me” of enigiets nie. En sê dan volgens Mat 15:24 bloot: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.” Jesus impliseer/sê eintlik dat daar nie plek vir haar in God se genade is nie. Sy is ‘n heiden, ‘n Kanaäniet.

Sy val toe voor sy voete neer. Sy laat haar nie afskrik nie. Sy wéét Hy kan haar help. Jesus vervolg dan deur te sê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

Die woord hond was die Jode se vloekwoord vir die heidene. Honde is as onrein beskou – hulle het onrein geëet en in die openbaar gedoen wat mense privaat doen. Die heidene is gesien as rondloper-honde wat probeer om kinders se kos te steel.

En nou stap Jesus weg … Hy het gereken die gesprek is afgehandel. Hy probeer afstand tussen Hom en hierdie vrou kry. En dan antwoord sy Hom: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.” Die vrou herinner Jesus eintlik daaraan dat daar in die gewone huishouding ook honde is, en honde moet ook eet. Al is dit net die afvalkos van die huismense se etenstafel.

Sy doen hier ‘n ontsettend belangrike ding. Sy integreer hiermee die honde, die heidene, die Kanaäniete in die huishouding van God!

En nou val alle grense weg. Dinge word in ‘n nuwe lig gesien. En, ek dink maar so, vir die eerste keer kyk Jesus haar diep in die oë en noem haar volgens Mat 15:28 “Mevrou”. Die titel van respek.

Hiermee gaan ‘n nuwe wêreld oop. Opinies verander. Daar word nuut oor tradisies gedink. Die dogter van die duiwel word ‘n kind van God. ‘n Nuwe gemeenskap word gebore, een wat niks met Jood of heiden, man of vrou, ons en hulle te doen het nie. Hierdie nuwe gemeenskap het wel alles met geloof te doen – geloof in Jesus Christus!

En in hierdie gemeenskap is daar nie skape en honde nie, nie oorskietkos nie, maar almal sit saam aan een tafel – God se tafel. En hierdie verandering, hierdie bekering, hierdie nuwe wêreld is teweeggebring deur ‘n vrou wat geskreeu het. ‘n Vrou “van die ander kant”.

Dis moeilik om te sê, maar daar is teoloë wat beweer dat Jesus sélf hier as mens, ‘n bepaalde ontwikkeling/groei ondergaan het. Hoe jy ook al hieroor wil dink, as ‘n swak, weerlose vrou haar dogter by God kon uitbring, kan ek en jy ook.

Daar is dinge wat moet verander. In my en jou lewe. Ons weet wat dit is. Maar daar is ook in ons mooi land dinge wat nie mag bly soos dit is nie. Laat ons soos hierdie vrou, en soveel ander, die kuns van “ordentlike protes” aanleer en beoefen.

En as dit moet, as jy seerkry/seergemaak word, “skreeu” dit uit. Brei God se grense uit tot daar waar die bose skynbaar heers. Maar doen dit in liefde! sodat die “kinders van die duiwel” ook kinders van God kan word.

‘n Kerkleier vertel verlede week dat daar in Kraaifontein ‘n Adult World sou open. Die gemeenskap, onder andere ook die kerkgemeenskap, het skriftelike protes aangeteken. Die Munisipale bestuur het die protes gehandhaaf deur die Adult World-aansoek van die hand te wys…

[Bron: Lewende Woorde]

Chris Jones

Seisoen van Luister Powerpoint

Geen verdere preeksketse oor Markus 7 in argief beskikbaar

Tags:

Trackback from your site.

Leave a comment