Belhar en die Holocaust Museum

Written by Jannie Swart on . Posted in Tussenin

Die fokus van hoofstroom nuus hierdie week in Amerika was, en is steeds, die geweldsdaad in die Holocaust Museum (waarin ‘n sekuriteitsbeampte gesterf het), en wat volgens alle tekens gemotiveer was deur ‘n verregse ekstremis se haat teenoor Jode en swartmense.  Dit is uiters relevant dat dit juis in ‘n week gebeur waar kerklike nuus toegespits was op die Reformed Church in America (RCA) se aanvaarding van die Belhar Belydenis as hul vierde belydenis naas die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreels, en die Nederlandse Geloofsbelydenis (sien http://www.rca.org/Page.aspx?pid=5728).  Die relevansie het alles te make met Belhar se belydenis oor diversiteit as konstituerend vir eenheid, in verhouding tot haatgroepe se belydenis oor diversiteit as ‘n bedreiging vir eenheid.

Dit is ‘n relevansie wat my veral opgeval het toe ek vandag Brian Levin, direkteur van die Center for the Study of Hate and Extremism (wat vanjaar ‘n boek uitgebring het oor “Hate Crimes: Understanding and Defining Hate Crimes”), se CNN kommentaar lees waarin hy o.a. op die bedreiging van diversiteit wys as onderliggende oorsaak van hierdie soort geweld (sien http://www.cnn.com/2009/CRIME/06/11/levin.hate/index.html).  En dit het my onmiddellik laat dink aan ‘n referaat wat Piet Naude al in Januarie 2003 by die Vyfde Ekumeniese Forum in Heidelberg, Duitsland gelewer het oor Confessing the One Faith: Theological Resonance between the Creed of Nicea (325 AD) and the Confession of Belhar (1982 AD).  Hierin skryf Piet o.a. die volgende oor Belhar se belydenis aangaande die identiteit van die Kerk:  “The reference to the church as a communion of saints enables Belhar to implicitly assert a contradiction to a view of community where differentiation is seen as ground for separation in stead of opportunities for mutual service and enrichment in the one visible people of God.” In terme van die Belhar belydenis beteken dit, skryf Piet op ‘n ander plek (in sy Mei 2007 lesing by die Universiteit van Chicago oor “It is Your Duty to be Human: Anthropology and Ethics in a Post-Liberation South Africa”), dat andersheid en diversiteit “should not be embedded in a tyrannical separateness, but in a celebration of difference within a constitutionally guaranteed commitment to unity and equality.” Die RCA het duidelik gedink dat Belhar uiters relevant is vir hierdie belydenis van die Kerk in ‘n Amerikaanse konteks van toenemende diversiteit waar eendersheid dikwels verabsoluteer word as ‘n vereiste vir die oorlewing van gemeenskappe of groepe wat hulself as bedreigd beskou deur “die ander”.

Vir Belhar is hierdie belydenis oor diversiteit as konstituerend vir eenheid nie gebore uit politieke opportunisme wat diversiteit romantiseer nie, maar diep gewortel in die Kerk deur die eeue se belydenis oor wie God is.  Die Drie-enige God is immers in wese een identiteit wat ons vanuit die Bybel alleen maar ken as ‘n ryke diversiteit van drie Persone in trinitariese verhouding binne daardie eenheid.  Piet skryf, “(in Belhar) the trinitarian base of faith is translated into more elaborate ecclesiological terms so that the unity of the triune God becomes motivation for an is reflected in the unity of the community of saints.” Daarom begin Belhar met ‘n trinitariese belydenis (eerste twee artikels) en sluit dit af met ‘n trinitariese doksologie (artikel 5).  Is hierdie belydenis oor die Drie-enige God blote dogma vir meeste gemeentes, of kan dit dalk ‘n bron van inspirasie wees vir hoe ons gestalte gee aan gemeentelike identiteit te midde van diverse gemeenskappe?  Is gemeentes meer gesteld daarop om laaste bastionne van eendersheid te wees te midde van die bedreiging van andersheid, of kan dit dalk ‘n omhelsing wees van diversiteit as ‘n verryking en voorwaarde vir ware eenheid?  Gemeentes wat iets van hierdie moeilike uitdaging regkry moet asseblief aanhou vertel van die mislukkings en die suksesse, sodat ons kan leer…

Tags: , , , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment