{ARGIEF}

Advent breek weer ons gejaagde lewens in.  Skielik, onverwags, elke jaar hierdie tyd, uit die toekoms.  Soos die bruidegom in die nag.

Dan is dit tyd om die simfonieorkes tot bedaring te bring.  Die gewone uitvoerings van die jaar te stop.  Die musiek te verdoof.

‘n Tyd vir die uitvoering van John Cage se 4’33.  Wanneer ons gretigheid om ‘n simfonie uitvoerings van God se musiek te maak net stilte word.

Maar stilte met ‘n verskil.  Want wanneer die simfonieorkes tot bedaring kom word ons verras deur die klanke van stilte.

Vir christelike geloofsgemeenskappe is dit nie ‘n Zen Buddistiese stilte nie, maar ‘n stilte van nuwe, vars luister na ander.  In plaas van ‘n fokus op die musiekstukke wat ons moet kan bemeester, word ons opnuut bewus van die gehoor se wereld.  ‘n Wereld waar God leef.  ‘n Doodgewone, alledaagse wereld… die stadsverkeer… die hoes van ‘n kind… stille klanke van wanhoop in geweld, armoede, vigs, werkloosheid….

As gestuurde gemeentes word ons nie net gestuur om altyd iets te doen nie, maar om soms met aandag te luister na die wereld waar God leef.  Sodat ons weer kan fokus op die Een van wie ons weet Hy het ‘n eerste keer op verrassende manier tussen ons opgedaag… en Hy kom weer uit die toekoms as die lewende hoop tussen ons.