{ARGIEF}

Bernd Oberdorfer skryf oor ons beskouing van “personhood” in “The Holy Spirit – A Person?” (in The Work of the Spirit. Pneumatology and Pentecostalism. Michael Welker ed., 2006) aan die hand van Pannenberg se filosofiese antropologie. Daarvolgens is ‘n persoon “not an isolated, immutable entity but rather comes into being, develops, and is formed by a social context. Persons exist only in relations, and their personality is not independent of these relations.” (p. 36 – ek sou met hom wou gesels oor sy “only” beskouing, maar dit eers daar gelaat!) Hy pas dit toe op die wyse waarop ons praat oor die Triniteit en wys hoe ook die Triniteit gedefinieer word in hulle verhouding met mekaar. Op ongelooflike boeiende manier wys hy hoe die Gees die differensiasie EN eenheid van die Vader en die Seun konstitueer.

En ek dink dit is iets wat ook in God se verhouding met mense gebeur. Hy kan verander in terme van sy verhouding met ons, al bly Hy dieselfde in terme van sy wese (liefde, lig, lewe). Vincent Brümmer (What are we doing when we pray?) wys pragtig uit hoe dit ons gebede sinvol maak, want God kan in ‘n verhouding met ons verander. God is dus nie “self-sufficient” nie. En ons ook nie! En die Gees is ook in die wêreld besig. En dit beteken dat ons Hom ook juis in die wêreld gaan aantref as ons die moeite doen om ons laertrek mentaliteit op te skort …