{ARGIEF}

Ek het die afgelope week met die verkiesing ook so gevoel.  Vooraf was daar groot bekommernis oor die moontlikheid van geweld en intimidasie tydens die verkiesing, juis omdat die verkiesingveltogte so fel was met die koms van oa die nuwe party COPE en die vrees van die oppesisie-partye dat die Regerende party meer as ‘n 2/3de meerderheid gaan kry.  Sal ons land se mense polities volwasse genoeg wees om hulle demokratiese reg te gebruik sonder om mekaar te intimideer, was die vraag op almal se lippe?

En toe word hierdie 4de verkiesing van ons jong demokrasie die vreedsaamste van almal. Soos ons dit al ken het mense in lang rye gestaan- geduldig gedienstig  gedwee- soos  Jan Celliers se osse. Vir een keer in vier jaar is ons almal se stem ewe veel werd, ongeag ouderdom, ras, geslag, taal, seksuaele orientasie, noem maar op wat die dinge is wat ons verdeel.

Wonderlike foto’s soos die een hieronder kan by www.sacbee.com/static/weblogs/photos/2009/04/021752.html#Comments_Container besigtig word.

Die wonderlikste is dat stemdag eintlik ‚n feesviering geword het. Sondag, na stemdag,  drink ons tee saam met ‘n 70jarige dame wat in kleur vertel hoe sy stemdag geniet het.  By die aankoms is die ry lankerig, sê sy.  Langs die ry staan ‚n jong polisievrou. Is jy nou hier om te keer dat ons nie baklei nie?, vra sy die polisievrou.  Ja tannie, antwoord sy. Dan kan jy maar huis toe gaan, ons is hier om te stem, ons gaan nie baklei nie, sê die tante vir die polisievrou. Ek kan vir tannie agterom neem as tannie wil, ons mag dit doen vir bejaardes, antwoord die polisievrou vriendelik.  Nee my kind, laat ons tante weet, ek mis hierdie lekker kuier vir niks in die wêreld nie, maar dankie in elk geval. Ons gesprek gaan naatloos aan na wie ons verkose president uit sy vroue gaan kies as ons land se eerste dame.

So het die vrede die afgelope week na ons gekom, is dit deur God aan ons land gegee, nie in die eerste plek aan die gemeente nie, maar aan die land se mense.  As ons nou begin om hierdie liturgie, die een wat deur God aan ons gegee word, wat na ons toe kom, ook te begin vier in ons eredienste.  God is in ons gemeenskap besig om sy Koninkryk te laat kom en wanneer die Koininkryk kom, is daar fees, is daar viering, nie net in die Hemel nie maar ook in ons huise, ons strate en hopelik ook in ons gemeentes.

Met die begrafnis van Lady Diana het ons almal vasgenael gesit voor die TV en luister die roerende huldeblyk van haar broer.  In die Westminister Abbey Saterdag 6 September 1997, was alles gepaslik formeel en somber, buite was daar honderde duisende mense wat oor luidsprekers na die diens geluister het. Nadat die Earl of Spencer gespraat het, het die skare buite die gebou  begin handeklap, jy kon dit in die Abbey hoor, eintlik kon hulle nie aangaan met die diens nie, omdat die geraas so hard was.  En toe begin mense een na die ander in die Abbey hande te klap.

Vir ‚n paar minute kom die litrugie van die straat die katedraal binne en transformeer dit in ‚n feesgeleetheid.

 

In hoeveel van ons gemeentes is daar die Sondag voor die verkiesing gebid vir vrede, in hoeveel is daar die Sondag na stemdag feesgevier oor die vrede wat na ons toe gekom het?  Toe ons Sondag uitstap het ons gemeente se orrelis ons land se bekendste gesang gespeel- Nkosi Sikelel’ iAfrika’. Sy het onthou…dat tante wat in apartheid groot geword het en jong studente wat saam daaronder gely het, Woensdag God sy dank, in vrede en vreugde saam hulle kruisies gemaak het.