{ARGIEF}

Die hemel neem vreugde ernstig op.

CS Lewis het hierdie waarheid gemunt. Is dit nie waarheen geestelike leiers mense moet begelei nie? Om hulle te begelei na die vreugde van wat Eugene Peterson (The Message) se vertaling noem “…more and better life than they ever dreamed of.” (Joh 10:10).

Dis opvallend hoe vreugdevol Jesus uitgebeeld word deur Bruce Marciano onder regie van Regardt van den Bergh. Ons het destyds vir Bruce genooi na Gordonsbaai vir ‘n erediens na die Matteus-video se vrystelling.

Bietjie aan die humorkant: Toe Bruce-hulle parkeer, het ons koster ingehardloop en my in kennis gestel (hy was doodernstig en opgewonde): Jesus is hier! Jesus is hier!

Vir ‘n oomblik was ons almal betower deur hierdie man. Sy lang hare is korter, sy baard weg, en hy het alles behalwe die prentjie gelyk soos hy in die fliek was. Maar sy handgebare was sulke ooppalm aangee-gebare. Nooit het hy ‘n veroordelende vinger of ‘n gebalde vuis gebruik om ‘n punt te maak nie. Inteendeel, hy het die punte wat hy wou beklemtoon, aangegee en uitgedeel met hierdie besondere handgebare. In sy gelaatstrekke, liggaamshouding en aanbieding het steeds hierdie diepe innerlike vreugde uitgestraal.

In John Ortberg se Die lewe wat jy nog altyd wou hê, is die eerste geestelike dissipline wat hy behandel: Die gewoonte van feesviering. Hy noem dit: ‘N DIENG-DONG-DAG. Paulus het destyds al geskryf: Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!”

Die ernstigste sonde waaraan geestelike leiers hulle in hierdie tyd kan skuldig maak, is vreugdeloosheid.

Dit beteken nie dat jy nie die lewe en die krisisse ernstig moet opneem nie. Dit beteken wel dat jy ernstig na jou lewenshouding moet kyk of jy ook soos Paulus en ander ÍN die krisis steeds vreugde kan behou. Doen alles in jou vermoë om die vreugde in Jesus te bly vashou. Aan die genadekant: dis eintlik Hy wat jou in hierdie tyd sal vashou…

Prakties: Gee jouself vyf minute “time-out” waarin jy vreugde skep in God se teenwoordigheid. Word van Jesus bewus… en probeer kyk waarna Hy jou beduie waaroor jy vandag opgewonde vreugdevol kan wees.

Nagedagte: Bruce het hom telkens na ‘n diens uit die voete gemaak. Waar kry ons hom dan? Met ‘n koppie koffie langs die see stap. In ‘n koffiewinkel. In die kombuis besig om self koffie te maak. Miskien het hy lankal besef dat ‘n eenvoudige ritueel soos om ‘n koppie koffie te geniet, ‘n hemelse vreugde ontsluit…