Die doop in die eerste eeue en vandag

Written by webmeester on . Posted in Leierskap

Uiteraard nie. In kontekste wat met die noemers gemeente-ontwikkeling of nuwe gemeente-ontwikkeling gekwalifiseer kan word, word hierdie vrae dikwels op ‘n spits gedryf. Vanuit verskillende oorde is al pogings tot antwoorde gebied met verskeie grade van bevrediging. Een van die meer bevredigende antwoorde wat vir ‘n wyer spektrum van kontekste leidrade gee is te vinde in die kerkgeskiedenis, meer presies die liturgiegeskiedenis.

Regoor die wêreld kyk kerke vandag na ‘n ou proses wat bekend staan as die kategumenaat, wat die naam is vir die doopritueel en doop-proses soos wat dit in die kerk van die eerste eeue daar uitgesien het. Daar is baie redes hiervoor dat daar juis nou weer so ‘n belangstelling in hierdie proses is, maar een rede hang saam met die opkoms in die belangstelling in ekklesiologiese begrippe soos missionêr en (nuwe) gemeente-ontwikkeling. Die besef dat die kerk en elke gemeente in haar wese gestuurd is en as sodanig moet kerk wees daar waar die gemeente haarself bevind, asook die toenemende mate waarin verskillende grense (denominasioneel, kultuur, taal) binne een gemeentelike opset vervloei, het teoloë weer na die kategumenaat laat kyk.

Vele gemeentes regoor die wêreld streef na gestuurdheid en ook diversiteit, en sodra dit gebeur, dan is die vraag na die plek en rol van die doop gou op die tafel.

So kom ons gaan maak ‘n vinnige draai in die liturgiegeskiedenis, spesifiek die eerste drie en ‘n half eeue en kyk hoe die doop as rituele proses daar uitgesien het. Ons lens sal spesifiek histories en antropologies wees, m.a.w. ‘n kykie na die historiese bedding waarin hierdie ou proses ontstaan en gefloreer het (tot ‘n mate vergelykbaar met ons eie), asook die besondere wyse waarop mense op ‘n integrale wyse daarby betrek is.

“Christene word gemaak, nie gebore nie”…

..is ‘n opmerking van die kant van die teoloog Tertullianus wat teen die einde van die tweede en begin van die derde eeu in Noord-Afrika gewerk het. Hierdie oortuiging van hom kom ook duidelik na vore in die wyse waarop hy gestalte gegee het aan die doopritueel (kategumenaat) in sy werk. Ons kan rofweg uit sy geskrifte, te same met die geskrifte van ander uit hierdie tyd (soos Justinus se eerste Apologie, die reisiger non uit Spanje genaamd Egeria se reisbeskrywings en die Apostoliese Tradisie van Hippolitus) herkonstrueer hoe die doop in daardie eerste eeue daar uitgesien het. In kort (en let wel dit was lank!): 

  • diegene wat hulle wil laat doop, groot en klein, meld hulle met ‘n getuie by ‘n doopkategeet aan;
  • hulle word dan ondervra na die redes waarom hulle gedoop wil word en die getuie getuig oor hul lewenswandel;
  • na keuring volg ‘n onderrigperiode van 3 jaar waartydens hulle op ‘n aparte plek in die gemeente sit tydens eredienste en nie aan die Nagmaal deelneem nie;
  • in hierdie tydperk moes hulle ook voortdurend barmhartigheidswerk doen en ontvang hulle deurgaans onderrig in die Christelike leer en lewenswandel;
  • tydens Lydenstyd in die derde jaar het ‘n intensiewe veertig dae van onderrig en geestelike verdieping gevolg. Kandidate het hier ook die disciplina arcani (geheime dissipline) ontvang wat beteken dat dit wat hulle geleer het slegs vir hulle en nie vir enigeen bedoel was nie. En vir die volle duur van Lydenstyd het hulle nie gebad nie en gevas;
  • die doop self was skouspelagtig en het oor die drie dae van Paasnaweek gestrek.


Vanaf Goeie Vrydag tot en met hanekraai op Sondagoggend het hulle intensiewe onderrig ontvang, deeglike selfondersoek gedoen en ook meer intensief nog gevas. In die oggendure het hulle, terwyl hulle na die Weste (die rigting van die dood waar die son ondergaan) kyk, hulle ou lewe afgesweer en dan, soos die dag breek na die Ooste gedraai en hulle geloof in Jesus Christus bely. Met hanekraai is hulle, die babas en kleintjies eerste en so verder na gelang van ouderdom, kaal gedoop (mans en vrouens apart) in ‘n groot doopvont (in die vorm van ‘n doodskis, want vandag sterf jy met Christus om vir ewig met Hom te lewe) vol kleurryke mosaïeke van die voorgangers in die geloof. Na die waterdoop (drie maal onder in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees) is hulle die hande opgelê, met geurige olie gesalf, ‘n wit doopkleed omgehang en is daar vir ‘n persoon ‘n lamp in die hand gegee. Hierna is die Paaslied “Christus het opgestaan en ons met Hom” ingesit en al singend het die pasgedooptes oorbeweeg na die kerk om deel te neem aan die Nagmaal (‘n regte ete vir mense wat vir veertig dae gevas het!). Aangekom by die kerk het elkeen eers nog, voordat hulle kon weglê aan die kos van die Nagmaal, aan ‘n lepel met melk en heuning geproe (as voorsmaak van dit wat werklik op elkeen van hulle wag) en daarna kon hierdie uitgehongerde mense weglê aan varsgebakte brood en ander kos, soveel as wat hulle wou! (En ek vermoed daarna het jy reguit in die bed gaan klim en soos ‘n klip geslaap);

  • en vreemd genoem, eers in die agt dae na die doop, is die betekenis van die doop en Nagmaal sélf aan hierdie nuwe lidmate verduidelik (die sogenaamde mistagogiese kategese). Hulle het lering in die volle leer van die kerk ontvang in die voorafgaande drie aar, behalwe in die betekenis van die sakramente. Dié moes jyself eers beleef het, alvorens jy kon hoor wat dit beteken!


Hierdie beskrywing van die kategumenaat in die eerste eeue was baie opsommend sodat ‘n mens net ‘n idee kan vorm van hoe ‘n luisterryke en uitgebreide proses die doop in die eerste eeue was. Dit was eers vanaf Augustinus se tyd ‘n eeu of so later dat hierdie proses stadigaan verdwyn het, hoofsaaklik a.g.v. die feit dat die Christelike godsdiens die staatsgodsdiens geword het en die konteks so drasties verander het en groot hoeveelhede mense derhalwe by die kerk aangesluit het (alhoewel daar nog ander redes ook is).

Enkele vraende roetemerkers

Wanneer ‘n mens nou dink aan hierdie eerste eeue van die geskiedenis van die kerk en die wyse waarop die doop gevier is, en dit vergelyk met ‘n (N)GO konteks vandag, dan is die vraag wat ek wil vra, watter historiese en antropologiese roetemerkers kan ons vir ons eie dag daaruit aflei? Dit is natuurlik gevaarlik om te dink dat wat 1800 jaar gelede rondom die Middellanse See gebeur het, net so toepasbaar kan wees in ons situasie. Daar sit nietemin ‘n skat van wyshede opgesluit in hierdie ou proses waarvan enkeles vermoed ek, ons eie nadenke rondom hierdie sake kan verryk. Ek noem so paar voor die handliggendes:

  • Hoe geïntegreerd is liturgie (doop) en lering in ons gemeentes? Of is dit heeltemal aparte sake? In die eerste eeue is lering, liturgie én sosiale betrokkenheid in een proses betrek.
  • Is ons doop-praktyke belewenisse wat die mens as ‘n liggaamlik-sintuiglike wese aanspreek? Hoe ‘awe-inspiring’ (soos een liturgis die kategumenaat beskryf) is ons doopbediening of doopherinnering?
  • Toegang tot die kerk (d.m.v. die eenmalige doop) was moeilik en juis dit het vreemd genoeg ook aan die geloof ‘n besondere aanloklikheid verleen. Hoe lyk sake in ons dag? Ook die rol van die disciplina arcani en die feit dat jy eers die doop beleef het, alvorens jy die betekenis daarvan ontvang het … skuil daar hierin miskien iets gereformeerdes…van God se genade wat ons eie verstaan en respons op daardie genade voorafgaan?
  • Hoe betrokke is die groter geloofsgemeenskap (byvoorbeeld getuies, kerkraad en ouers) by die groter doop-proses?
  • Bekering was in die eerste eeue ‘n lang proses van geestelike groei en volwassewording …eers die lering en water, dan handeoplegging en melk en heuning en dan voortdurend die brood en wyn. Hoeveel maak ons in ons dag van die sakrament van die Nagmaal as toe-eieningsgeleentheid vir die doop? En van belydenisaflegging?
  • Volgens Alan Kreider het die kategumenaat ‘belief, ‘behaviour’ en ‘belonging’ gestimuleer. Tot hoe ‘n mate kry ons praktyke dit vandag reg?
  • Sou ‘n mens die groter proses van die kategumenaat, natuurlik in ‘n sterk aangepaste vorm, nie kon gebruik om ‘n pad met voornemende doopouers te stap nie, of dalk met ‘n belydenisklas? In sekere GO-areas sou so ‘n proses verseker ook van waarde kon wees vir volwassenes wat vir die eerste keer by ‘n gemeente aansluit.


Ons is ook vandag al hoe meer in situasie waar lidmaatskap van ‘n kerk nie ‘n gegewe is nie en waar mense glad nie meer bestaande praktyke klakkeloos aanvaar nie. 

Miskienkan hierdie stukkie geskiedenis ons tog help met kreatiwiteit in hierdie verband. En ja, alles in ag genome kan ‘n gemeente baie mooi verrykende dinge in plek sit en werklik diepgaande erns maak met die doop oor ‘n lang periode, en steeds gaan jy hoor: “Dominee, is die groot- of kleindoop nou die regte een? En wat van herdoop?”

  • Sien ook die reeks “Die lang pad van bekering” in NGTT 48 (2007).

Trackback from your site.

Leave a comment