GEBED: HOE KAN DIE SEISOEN VAN LUISTER JOU HELP?

Written by webmeester on . Posted in Konferensies

Aanbieding by die Gebedskonferensie 17-18 Februarie 2009 by Communitas

My poging vandag is glad nie om ’n omvattende of sistematiese teologie van gebed aan julle voorhou nie. Om egter te verstaan wat ons tydens die Seisoen van Luister doen, is dit tog belangrik om die teologiese grond daarvan te verstaan. Hierdie teologiese vertrek het welliswaar omvattende betekenis vir hoe ons gebed verstaan.

Die vraag word dikwels gevra of ons ons al regtig in ’n post-moderne era bevind? As ons nog nie daar is nie, is ons ten minste aan die wegbeweeg van die denkwyse van die modernisme na iets nuuts, ook in die beoefening van ons vroomheid of soos Calvyn dit noem, ons praxis pietatis.

Die modernisme, en dan veral die tyd na die Verligting, word gekenmerk deur buitengewone rasionalisme, ook in die teologie, wat der mate fokus op kennis en die vermeerdering daarvan dat die persoonlike verhouding met God en die direkte invloed van die lewende en opgestane Jesus in ons lewe dikwels beperk word tot die verkryging van meer informasie. Die soeke na meer en meer kennis het beslis ’n groot invloed uitgeoefen op die manier hoe mense die Bybel lees en ook hoe hulle bid. ’n Sogenaamde objektiewe, neutrale en rasionalistiese lees van die Bybel volg die positivistiese wyse waarop die natuurwetenskappe bedryf word na. Die Bybel  word gesien as ’n bron van navorsing en studie. Hierdie benadering het beslisde winspunte gehad. Ons kennis van die Bybel, sy agtergrond en kontekste, sy ontstaansgeskiedenis en dus ook sy  betekenis is inderdaad hierdeur verruim. Die wins van die tekskritiek, taalkritiek, redaksie kritiek, historiese kritiek ens. vir beter insigte in die Skrifte mag nooit onderskat word nie.

Dit het mettertyd al duideliker geword dat die manier waarop ons Bybel lees en die manier waarop ons bid, met mekaar gekorreleer is. Hoe meer rasionalisties ons met die Bybel omgaan, hoe meer rasionalisties het ons totale vroomheid geword. In ons gebede vind dit neerslag in formules, geyktheid, die deurgee van informasie, lyste vol versoeke en uiteindelik ’n verbeeldinglose verhouding.

Met die aankondiging van die Seisoen van Luister het die kerk verstaan dat daar weer gedink sal moet word oor ons hermeneutiek. In die Seisoen herbesin die kerk inderdaad oor sy hermeneutiese voorveronderstellings. Die Seisoen is dus eintlik ’n seisoen van herbesinning oor ons verstaan van die spreke van die lewende God. Hoe ons oor die spreke van God dink het radikale implikasies vir die spreke tot God.

In sy boek, Neem Lees, gee prof Dirkie Smit ’n baie sinvolle oorsig oor die hermeneutiek van die vroeë kerk. Hy verduidelik dat daar in die vroeë kerk twee skole van denke was nl die Alexandrynse skool in Egipte en die Antiogeense skool in Sirië. Aleksandrië was ’n sentrum van opvoeding en geleerdheid, reeds in die 2de eeu n.C. Dit was die sentrum van die allegoriese interpretasie van die Bybel. Hulle oortuiging was dat elke gedeelte van die Bybel wel geestelike betekenis gehad het. Hierteenoor glo die Antiogeners dat die primêre vlak van betekenis van die Bybel geleë was in sy letterlike en historiese betekenis. Later probeer Augustinus die twee wyses van interpretasie verbind in ’n soort sintese. Hy sê ’n oorkoepelende tema is nodig om die Bybel te verstaan. Hy noem dit die liefde, die liefde van God en die liefde vir die naaste. Hy leer ook dat ons net die onderdele van die Bybel kan verstaan as ons die geheel van die Bybel kan verstaan.

In die middeleeue word die Bybel veral op drie plekke gelees, skryf Prof Smit: In die kloosters, die katedraalskole en dan die middeleeuse universiteite. In die kloosters ontstaan die sogenaamde lectio divina as ’n geestelike lees van die Bybel, dit is ‘n Goddelike lees van die Bybel. Dit behels drie stappe nl. grammatika, meditasie en gebed. Grammatika behels die lees van die teks. Meditasie is die toe-eiening daarvan en die besinning daaroor. Gebed behels die reaksie op die Woord. Daar moet nou teruggepraat word met God.  So was God vir hierdie mense ervaarbaar. In hierdie tye is daar ook geluister na mekaar en diegene wat die lesers voorafgegaan het met die oog op die verstaan van die teks.

In die negende eeu met die ontstaan van talle katedrale ontstaan ook die sogenaamde katedraalskole. Hier word nou ’n teolgiese korpus opgebou van interpretasies en teorieë vir die verstaan van die Bybel. Dit het begin met klein eksegetiese notas wat gemaak is by die tekste. Baie gou ontstaan daar gesaghebbende versamelings van kommentare met gepaardgaande uitgebreide beredenerings van die betekenisse van tekste. Openbare prosesse van logika vervang nou persoonlike nadenke oor die betekenis van tekste. ’n Skuif begin nou plaasvind van die lees van die Bybel self na die lees van die gesistematiseerde teologie. Die invloed van die skolastiek is hier onmiskenbaar. Die lectio divina of te wel die sacra pagina (die heilige bladsye) het nou plek gemaak vir die sacra doctrina (die heilige leerstukke). In plaas daarvan dat die teks self gelees word om te onderskei wat die Here self sê deur sy Woord, word die Bybel gebruik vir die bestudering van logies opgeboude teologiese denksisteme.

By die universiteite wat later tot stand kom word die sistematisering van die teologie veel verder gevoer en word die besinning oor die betekenis van die Skrif al meer onpersoonlik gedoen.

Een van die slagspreuke van die hervorming was “Ad Fontes!, terug na die bronne!

Die bestudering van die Griekse en Hebreeuse manuskripte van die Bybel geniet nou weer voorrang.  Calvyn  stel ’n nuwe en vars siening van die lees van die Bybel aan die orde. Hy is ten diepste daarvan oortuig dat die lewende God vandag nog met mense praat deur die Skrif. Vir hom is hermeneutiek die strewe om die stem van die lewende God self te hoor. Alles begin en eindig by die Woord. Daar is geen sentrale dogmas in sy teologie waaraan alles gekoppel kan word en teruggevoer kan word wanneer die Skrif gelees word nie. Daar is slegs die voortdurende luister na die Woord.

Calvyn se fokus is op die voor-die-hand-liggende en letterlike en grammatiese betekenis van die Skrif en nie in dieperliggende geestelike betekenisse agter die ooglopende strekking van die Skrif nie. Hy is geintereseerd in die betekenis en betekenisvolheid van die Woord. Die historiese konteks van die Skrif is vir Hom van uiterste belang, so ook die oorspronklike betekenis van die woorde van die teks. Die uitsonderlike van sy benadering is egter dat hy deurlopend die term meo judicio = na my oordeel, gebruik. Dit beteken dat hy nie noodwendig seker is van die finale betekenis van die teks nie, maar ander inderdaad verwelkom as mede-luisteraars na die teks.

Calvyn verstaan dus die betekenisvolheid (usus) van die teks dat dit veelvormig kan wees. Die teks kan vir verskillende mense op verskillende plekke verskillende toepassings hê. Hier verskil Calvyn dus radikaal van talle van sy voorgangers. Die waarde van die teks lê nie daarin dat dit altyd en in alle omstandighede dieselfde ding sê nie, maar dat dit veel ryker en ruimer kan wees as die kennis waaroor die lesers reeds beskik. Daarom kan die teks die lesers verras, uitdaag, ontstel, konfronteer, verbaas… Die veronderstelling is dat daar geglo word in die trou van die Here wat vandag nog met gelowiges praat deur Sy woord. Die verbond is nie ’n tema van die Bybel nie. Die verbond gaan oor die troue sprekende God wat met mense in gesprek is.  Die Heilige Gees maak die Woord lewend en kragtig.

(Lees Neem Lees, Hoe ons die Bybel hoor en verstaan, Dirkie Smit, Lux Verbi, 2006)
Seisoen van Luister

In die Seisoen fokus ons opnuut op die luister na die sprekende God. Ons slagspreuk is: God praat, leef luisteryk! Ons het verreken dat daar met die draai van die millenium ’n geweldige agterdog bestaan teen dogma en mense wat meen dat hulle namens ander die Bybel kan lees. Ons is ook oortuig dat elke gelowige se vroomheid gevorm moet word deur ’n diepe persoonlike omgang met die Woord en diepe nadenke en reaksie op die spreke van God.

Eers wanneer ons weer die Bybel lees met die veronderstelling dat die lees daarvan inderdaad ’n geleentheid is waar God met my gaan praat, sodat ek daarop kan reageer met gebed en lewe, sal die lees van die Woord en gebed weer vir ons ’n ervaring met God wees. Die uitkoms van so ’n lees van die Bybel en nadenke en gebed is onderskeiding van die wil van God en die toe-eiening daarvan. Gebed gaan dus hier meer oor toe-eiening van God se Woord. God kan roep, stuur, uitdaag, troos, bekragtig … Gebed is dan die fokus op God as spreker, die tot rus kom by God, die sentrering op God se bedoeling, die nadenke, die stil word met God se gesproke Woord, die aanneem daarvan, die integrasie daarvan in my denke of lewe.

Die Seisoen van Luister  gebruik agt stasies aan die hand waarvan ons verstaan dat die luister na God ten beste kan geskied. Hierdie is nie ’n metodiek van lees en bid nie. Hierdie is momente in die luister na God en die reageer op die spreke van God.


1. Kom tot rus by God (Ingenooi deur God): Om te fokus op die sprekende God, is binne die geraas van ons wêreld nie so maklik nie. Dikwels is die geraas binne ons koppe nog meer problematies. (In die derde boek van sy Institusie skryf Calvyn omvattend oor gebed. Hy sê voor jy begin bid moet jy “jou gees van aardse kwellings bevry sodat jou gemoed sover moontlik bo homself kan verhef word tot ’n reinheid wat God waardig is, tot die suiwere aanskoue van God.” Hy sê dis ook goed om te vas ter voorbereiding van gebed en meditasie kan ook help.)

2. Ingaan in God se tyd: Om bewus te raak van die ruimte wat God nou vir ons skep om in te luister, bv in die kerkjaar of in die geskiedenis.
3. Luister na God se Woord deur dit deeglik te lees.  Raak bewus van die gedagtes, beelde of vrae wat by jou opkom.
4. Luister na mekaar en ontvang God se Woord so
5. Luister na ander en die tye. Luister dus na hulle wat nie teenwoordig is nie. Dit  sluit ons voorgangers en tradisie in, ook die kommentatore, ander tekste ens.
6. Luister weer na God se Woord. Hoe ruk of troos dit jou?
7. Watter moontlikhede het God vir jou oopgemaak deur die Skrif? Fokus weer op God en wat Hy nou doen. Reageer in stilte op dit wat jy verstaan God mee besig is.
8. Antwoord met jou/ons lewe.

Stasie 7 en 8 is die begin van jou reaksie op die Woord. God het gepraat. God het Homself in jou wêreld en tyd openbaar. Tyd vir toe-eiening is hier belangrik.  Dit raak jou totale gebedsaanpak.

Hierdie stasies kan saamgevat word in drie bewegings nl. rus, hoor en leef.  Johan Ackerman maak ’n drie-deling “stop, look, listen” in sy hermeneutiese voorstelle vir ons tyd (“Staying in Touch” en “Bly in Voeling” van Johan Ackerman verskyn in 2009 by Bybel-Media). Hy maak ook  ’n belangrike punt oor ons ingesteldheid om die Woord in ontvangs te neem. Hierdie ontvangs van die Woord behels ’n stil word met God, kontemplasie, toe-ëiening. Wanneer dit die inhoud van jou gebede word, is dit per definisie ’n diep en ryk ervaring met God.

In jou nadenke oor God aan die hand van die siklus kom jy tot ’n verdiepte bewussyn  van ’n spesifieke saak waarop jy gefokus is. Net om te weet is egter nie altyd voldoende nie. In stasie 7 en 8 kry kan elke gelowige met sy/haar insig weer dink oor die God van die insig. Dit geskied in diepe gesprek en stil wees met God. Om met die insig van God voor Hom tot rus te kom, het ’n mens dikwels bidtyd nodig, stil-wees-tyd by God. As jy geleer het om opnuut te luister na God, kan jou gebedslewe nooit weer dieselfde wees nie.

Aanbevole Boeke:
  1. Neem Lees, Dirkie Smit
  2. God Praat – leef luisterryk – vir Stiltetyd, Willem Nicol
  3. Gebed van die hart, Dr Willem Nicol
  4. Staying in Touch, John Ackerman (Chris van Wyk)
  5. Ontmoetings met die lewende God, Coenie Burger

Kyk ook op dié Seisoen van Luister se webtuiste na die Luisterplan vir gemeentes.

Trackback from your site.

Leave a comment