{ARGIEF}

Milanie Vosloo, ‘n sakevrou, skrywer en ma, is getroud met Johan Vosloo en het twee kinders, Marizelle (22) en Johan (19).  Milanie het groot geword in Windhoek, Namibië waar sy verskeie kere provinsiale kleure vir langafstande behaal het. Gedurende haar studentejare by die Potchefstroomse Universiteit PU vir CHO, waar sy die graad BA Kommunikasie (Honns) (cum laude) behaal het, was sy onder ander primaria van haar koshuis, studenteraadslid en ontvang sy ook die raadsmedalje vir uitsonderlike leierskap.

 

Wéés by Hom

Daar is min dinge so aanskoulik soos ‘n erg verliefde paartjie. Dis mos asof hulle eenvoudig net oё vir mekaar het. Niks en niemand om hulle maak saak nie. Hulle is behoorlik vasgevang in mekaar se teenwoordigheid. En wanneer hulle nie bymekaar is nie, dink hulle onophoudelik en met groot verlange aan hul maat. So amper asof hul harte pyn van skeidingsverlange.

Dis presies hoe God wil hê dat ons oor Hom sal voel. Hy wil hê dat ons in ‘n liefdesverhouding met Hom sal staan. Dat ons Hom intiem sal ken, moeite sal doen om sy teenwoordigheid op te soek, tyd sal maak om met Hom te praat en angstig op sy stem sal wag.  Hy roep ons as’t ware elke dag om by Hom te kom sit sodat Hy ons met sy omvattende liefde vir ons kan seёn en ons met die rykdom van sy genade-seёn kan toevou. Hy roep ons tot ‘n béter lewe. ‘n Lewe waarin ons – ongeag ons omstandighede – diep bewus is van sy hand op ons, sy beskerming onder ons en sy volmaakte pad voor ons.

Gebed kan spontane woorde van liefde, dank en lof aan God wees; dit kan ‘n eerlike  hartoopmaak wees waarin ons ons diepste geheime, verlanges en verwagtinge met Hom deel en natuurlik kan ons ook deur gebed ons eie en ander se lewens aan Hom opdra.

Die heerlikste vorm van gebed is egter om onsself te verloor in die teenwoordigheid van God. Dis om só intens bewus te word van die heiligheid en omvattende liefde van ons Vader dat ons van onsself vergeet. En wanneer ons dan totaal en al opgeneem word in sy magiese teenwoordigheid, sal ons ervaar hoe ons leeg word van ons eie belange en eenvoudig met sy liefde en vrede gevul word. 

Maak elke dag tyd vir gebed: vir jou praat en deel met God, vir jou dank aan Hom, maar veral vir jou luister na Hom. Vir hoor wat Hy vir jou sê. Van een word met Hom. En weet: Hy het jou onvoorwaardelik en oneindig lief. 

Biddende mense is gelukkige mense. Want ware geluk is om in ‘n intieme liefdesverhouding met God te staan. En wanneer ons deurentyd in sy wonderlike teenwoordigheid leef, verander ons lewens radikaal. Dán word die grootheid van sy liefde déél van ons.  

Here, wanneer U by my op die stoepstoele kom sit en ons saam kan luister hoe die voëls hul maats roep om huis toe te gaan vir die nag, dis dan wanneer ons die baie wat ons vir mekaar te sê het, nie hoef te sê nie … omdat ons reeds weet. 

God se “nee” soms ‘n “ja”! 

Dit was ‘n hartroerende toneel toe die skraal figuur tussen die olyfbome deurstap en gaan kniel. Biddend, smekend roep die benoude Man: “My Vader! As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat u wil dan uitgevoer word.” (Mat 26:42b) Twee maal gaan Hy terug om wéér sy Vader te smeek om asseblief “ja” te sê … as dit sý wil is. En elke keer sê God die Vader vir sy Seun: “Nee.” 

Wat sou gebeur het as God daardie nag sy Seun só jammer gekry het dat Hy van plan verander het? Wat sou van my en jou geword het as ons Redder nié die pad na die kruisdood geloop het nie? Waar sou ons die ewigheid deurbring as ons Vader daardie aand “Ja” gesê het? 

Ons almal het al oor iets gebid, God gesmeek vir ‘n uitkoms of vir iets spesifieks gevra … en moes dan hoor: “Nee, my kind. Ek gaan dit nie vir jou gee nie.” Die drieletterwoord “Nee” is ‘n taamlik emosionele woord. Daarom reageer ons ook dikwels baie sterk wanneer God nie ons versoeke positief beantwoord nie. Dis dan wanneer ons vra: “Verstaan Hy my dan nie?” of “Hoor Hy my net glad nie?” of die meer desperate uitroep: “Het Hy my nie meer lief nie?”

Wanneer jy so voel, vra jouself: “Het my ouers altyd vir al my versoeke, giere en buie “ja” gesê? Sê ek altyd “ja” vir my kinders? ‘n Goeie ouer weet wanneer om wat vir sy kind te antwoord en te gee, want ouers sien soveel verder, dink soveel groter en verstaan soveel meer van die lewe. Aardse ouers se harte breek ook soms as hulle iets vir hul kinders moet weier. Tóg weet hulle dat die langtermyn gevolge van hul besluite uiteindelik die beste vir hul kinders is. 

“Nee” is nie altyd ‘n lekker antwoord nie, maar wanneer dit van iemand kom wat ons liefhet, is dit gewoonlik die beter-vir-ons-antwoord. Wanneer dit van God af kom, is dit altyd die régte antwoord. Want dis ‘n liefdesantwoord. Daarom kan jy met groot vrede God se “Nee’s” aanvaar … dis dikwels eintlik ‘n groot “Ja” vir iets beters.