After shave, nee, after piepie

Written by Manus Olivier on . Posted in Uncategorized

My vriend,

Wanneer ek terugdink aan hierdie dag, hierdie Sondag aan die einde daarvan, dan wonder ek of ek die regte ding gedoen het.  Eintlik voel ek nogal sleg oor wat ek vandag aangevang het.  Ek voel nou nie sleg oor die erediens wat ek waargeneem het nie, maar wat voor die erediens gebeur het, of liewer, waarvan ek die oorsaak was.

Die erediens was nogal vir my belangrik, want vanuit Handelinge wil ek die vraag beantwoord, of eerder moet elkeen van ons wat die diens, of enige ander erediens bygewoon het, dit self beantwoord, en dit is doodgewoon die vraag:

Gee ons regtig om, soveel so dat die dorp dit raaksien?

Met hierdie vraag en boodskap in my hart en gedagte is ek erediens toe.  Nogal vroeg soos dit my gewoonte is, want dit is vir my persoonlik lekker om eerste daar te kom net om die stilte te geniet voor die gemeente daar aangestorm kom.

Maar toe ek sien wat, of liewer wie daar aankom, toe sak my moed sommer in my skoene. My hele nommer 14’s vol.  My vriende wat ek nou nie graag met enige een wil deel nie, kom om die draai gestap, nogal vroeg voor almal om die beste sitplek te kry.  Dis waar die probleem inkom, want ek is nie noodwendig so trots om in die openbaar te erken dat hulle vriende van my is nie.  Hulle ruik so bietjie, nou nie na after shave nie, maar na after piepie sonder om baie te bad, en after drank.

Ek praat met hulle twee, Fanus en Morné, want die vorige dag was altwee op ‘n ander stasie, eintlik tussen stasies, sonder dat hulle op die spoor is, meer af as op.  Ek sê eerlik:  “…as julle twee vanoggend die diens bywoon, dan stink julle ander die hel in, of tot binne in die hel, en is julle nie stigtend nie, maar ontstig julle.”

In die diens, en na die diens wonder ek of ek die regte ding gedoen het.  Ek het wel belowe dat hulle elke Sondag kan bad, en dan hulle klere was, en die skones van die vorige Sondag wat toe gewas is, aantrek.  Maar nog steeds bring dit nie rustigheid in my nie, want ek dink of Jesus ook sou doen wat ek gedoen het.

Ek weet Jesus en die straatmanne, of boemies, ken my hart, en weet dat ek omgee, maar soms regtig die moer in raak vir hulle tirades en drankmisbruik, maar tog is daar die onsekerheid.  Die onsekerheid wat aan my binneste knaag terwyl ek preek en dit is:

Is dit nie juis die uitdaging (een van baie) wat die Vader op my en ons pad bring om ons grense te skuif nie?

My vriend, die wonder vir my, terwyl ek worstel met antwoorde vir myself oor die situasie, is dat die Gees my grense van omgee en uitreik voortdurend skuif.  Die boodskap weet ek verander nooit nie.  Die manier waarop ons die boodskap oordra, verander, skuif, groei, verbeter, of versleg dalk.  Ek is oop vir oortuiging.

Ek weet een ding wat nie twee is nie, en dit is maak nie saak wie op jou pad kom nie, of hy na after piepie en nie na after shave ruik nie.  Behandel die persoon net meer menslik.  Dit is vir my die groot worsteling in my lewe:

“Kom ons wees net meer menslik met mense wat ons pad kruis.”

Maar as ek hom dan menslik behandel, is dit reg dat ek vra dat hy nie die diens bywoon nie, want ons gaan dink dit is onmenslik van hom om dit te doen?  Of ons gaan dalk op hom neersien, nie groet nie, ver van hom sit en/of dalk selfs skel.  Skel nie noodwendig met woorde nie, maar met daai kyk van ons.

Ken jy daai kyk?  Ek het hom al gegee, maar ook ontvang.  Dit is daardie kyk wat jy wanneer jy hom kry, weet jy is nie welkom nie, selfs dalk verwerplik.

Dit laat my dink aan die ma en dogter wat Kersinkopies gedoen het.  Aan die einde van ‘n baie uitputtende tog deur die stad kom hulle uiteindelik in die laaste winkel.  Na hulle uitstap maak die ma die opmerking aan haar dogter:  “Het jy gesien watter vuil kyk die verkoopsman my daar in die winkel gegee het.”  Die dogter reageer:  “Ma, hy het jou nie daardie kyk gegee nie, jy het daardie gatvol kyk op jou gesig gehad toe jy die winkel ingestap het.”

Ek wonder oor my kyk, menslikheid, mede-menslikheid, en om nie eers te praat van my sogenaamde Christelikheid, terwyl ander dalk honger na die evangelie, die Gees hulle stuur, en wat doen ek, ek stuur hulle weg?

Ek wonder maar net.

Jou vriend

Trackback from your site.

Manus Olivier

My passie is om mense te help om te ontdek wie God hulle gemaak het om te wees.

Leave a comment