En toe kry die duiwel op sy …

Written by Manus Olivier on . Posted in Uncategorized

My vriend,

Ek het mos ‘n hele winter by Kalkrand NG Kerk spandeer.  Hulle het niemand vir Pinkster 2012 gehad nie, en aangesien ek vir die eerste keer in jare gesond gevoel het, het ek aangebied om dit waar te neem.  Vir die van julle wat nie weet nie, dit is ‘n dorpie so 190 km suid van Windhoek. Daar is net ‘n kroeg, vulstasie, bottelstoor en darem ook ‘n kerkgebou, of is dit dalk twee? 

Ek het begin met Pinkster, en dit was toe dit die eerste vakansie van die Namibiese skole, Mei 2012, en dit het afgesluit noudat die vakansie einde Augustus 2012 weer aangebreek het. Dit is nou nie so erg soos wat jy wil voorgee dit is nie, dit was eintlik ‘n baie besonderse ervaring.  Dit was ook nie Pinkster wat so lank was nie, maar aangesien hulle nie hulle eie dominee gehad het nie, het ek aangebied om elke tweede week daar te diens te lewer tydens die erediens.

Op die oog af dan ry jy deur Kalkrand, dan sê jy vir jouself, hier wil ek nie bly nie, nie verniet nie.  Dan kom die skok dat, na jy tyd daar spandeer het, dan sê jy vir jouself.  “Self, hier sal jy nie omgee om te bly nie, maar ek wonder of ek ooit die kans sal kry.”

Die laaste twee keer was besonderse Gees geïnspireerde ervarings waar jy die lewensverandering voor jou oë sien gebeur.  Soos ek lank terug geskryf het, dit was een “fees van die Gees.”

Maar na die tyd is vir my die hoogtepunt, want gewoonlik bly die hele gemeente om te kuier, en daar gebeur sommer ‘n klomp dinge.  Een ding wat ek wel agtergekom het, is dat die manne sukkel om self koffie te maak.  Ek wonder of hulle dit kan doen.  Die vroue doen alles en die manne staan net en kuier, boer, maar eintlik kla hulle sommer een stryk deur oor die boerdery, oor werkers, snotsiek, en so word die koffie pottevol aangedra.  Dan kan ek maar net droom.  Droom dat die boodskap ook in Swakop sal kom dat vrouens veronderstel is om koffie agter hulle manne aan te dra.

Ek kan amper almal by die naam noem, maar elkeen in hierdie wonderlike gemeente doen iets spesiaals, sommer so na die tyd.  Daar is oom Sjokolade met sy lekkergoed lorrie, of is dit nou bakkie en/of kar.  Die kinders hardloop na die diens om handevol, of sakkevol te kry.  As daar oor is kry die vroue, en as ek gelukkig is, kon ek ook iets kry.  Maar dis nie sommer net vir vat by hom nie.

Dan is daar Grapjas, wat so stout geraak het toe hy met gemeente kinders daar in Gobabis se strate jare terug gespeel het.  Sy pa was ‘n bekende en beminde leraar van die gemeentes van Namibië.  Ek noem nou maar nie sy naam nie, maar stout.  Om so ‘n oupa te hê, kan oumas nagmerries en slapelose nagte gee, sodat hulle moet bly bid.

Maar die kleinkind van die Riaan het eendag ‘n groot waarheid beet, want uit die mond van die suigeling hoor jy mos sommer die waarheid.  Jy wil nou nie altyd al die waarhede hoor wat hulle kwytraak nie, maar soms moet jy maar net.  Ouma dreig hom met die duiwel oor sy taalgebruik wat op drie te veel met oupa s’n korrespondeer, en sy reaksie:

“Ouma ek is nie bang vir die duiwel nie.  Ek roep net vir Liewe Jesus en Hy gee die duiwel op sy ……..,”  En jy kan maar invul, dss net so.

Dit het my nogal laat dink aan ons, ek en jy.  Ek hoor mos die taalgebruik, en dan wonder ek, is ons so oortuig van die mag van die duiwel dat ons vir hom bang is?

Ons gee vir hom soms vir alles die skuld, of is dit dalk liewer die eer?

Ek onthou in my eie lewe hoe ek toe my kinders nog klein was, veral die oudste, alles raakgesien het as van die duiwel.  Moenie daardie program kyk nie, néé nie daai musiek nie.  Moenie met daardie maatjie speel nie. Néé, nie daai klere nie, en so kan ek aangaan.

Wanneer ek so na onse mense se woorde luister oor die duiwel, dan hoor ek een groot vrees.  Ek hoor heeltyd:  “…as ons nie versigtig gaan wees nie, dan gaan die duiwel ons beetkry, en dan, dan is ons nie meer in die hemel nie.”

Na die “duiwel met die duiwel,” het iemand kwytgeraak, en ek sê “Halleluja!” Loof die Here, dank Hom vir die oorwinning.  Ek wil saam met daai klein drie jarige mannetjie glo dat ek net vir “Liewe Jesus aanroep en dan gee Hy die duiwel ‘n groot drag slae.”

Sien, die drag slae het hy mos gekry, op Golgota.  Hy het stert tussen die bene weggehardloop.  Hy het mos nie meer mag oor ons nie, want Jesus is mos in beheer as die Oorwinnaar oor dood en hel, die duiwel en sy trawante.  Sy blaf is die blaf van ‘n verslane vyand.

Dit het veral in my worsteling na vore gekom oor my kanker, veral wanneer party mense dit direk en indirek sal noem dat die duiwel jou die siekte gegee het.  Maar as die duiwel my die siekte gegee het, en die dokters kan dit genees, hoekom het ek dan die Here nodig?

Ai my vriend, ek wens ons as mensies wil nie die duiwel soveel eer gee vir alles en nog wat nie.  In die proses fokus ons op hom, meer as wat ons fokus op die Een wat die kragtige oorwinnaar is.

Ek wonder maar net, hierdie manne en vroue wat so oor die duiwel praat skryf, waarsku en dink, waar kry hulle al die inligting oor hom, want sover ek weet het hy nie ‘n boek oor wie hy is, geskryf nie?  Ek dink ook nie die Here gaan dit vir hulle sê nie, want dit is sommer onnodige inligting.  Kry hulle nie dalk die inligting by hom, dis nou die duiwel nie?

Ek weet vandag, ja ek weet “My Verlosser leef…” het Job iewers bely, en daarom sê ek na die duiwel met die duiwel.  Vir ewig en altyd is my Verlosser, Jesus die Heer die Oorwinnaar, en ek, ek saam met Hom, nie oor ek bang is vir die duiwel nie, maar omdat ek aan Hom behoort, vrygekoop deur Sy bloed.

Dankie klein Riaan, Jesus het inderdaad die duiwel op sy duiwel gegee, jy is heeltemal reg.

Jou vriend

 

Trackback from your site.

Manus Olivier

My passie is om mense te help om te ontdek wie God hulle gemaak het om te wees.

Leave a comment