Mission in Western Culture Project Lusaka 2008

Written by Frederick on . Posted in SAVGG Blog

 

Roxburgh en Keifert het Suid-Afrika besoek en samewerking met die Suid-Afrikaanse Genootskap van Gestuurde Gemeentes (Communitas) asook met die Fakulteit is gevestig. Beide het ons nagraadse studente wat die M Th in Bedieningspraktyk in Missionale Transformasie doen asook DTh studente in dié rigting se doktorale werkswinkels bygewoon. Dit het die projek gemotiveer om in Lusaka, byeen te kom en om die Afrika deelnemers se koste te finansier. Die program is met ʼn Afrika aanslag ontwikkel. Geen lesings, in die formele sin van die woord, is gelewer nie. Die benadering was eerder narratief met blootstelling aan plaaslike werklikhede. Die mense in Lusaka, hulle getuienisse, die gemeentes se missionale bedieningspraktyke en omstandighede het ʼn onuitwisbare stempel op die verrigtinge en elkeen teenwoordig geplaas.

Die formele program, die naamlys van deelnemers en die “notule” van die week se verrigtinge is by ondergetekende elektronies te kry. Hier volstaan ons met enkele indrukke.

  • Die kerk is in ʼn liminale fase. Dit beweeg uit die Christendom era en worstel met die invloed van modernisme en laat-modernisme. In terme van lidmaat getalle tref dit die Westerse kerk dramaties terwyl die globale kontekstuele bewegings ʼn hele reeks ander gevolge in Afrika openbaar. “Hoe hanteer die kerk die vraag metodologies?” wou die Westerse groep weet. Die Afrika groep was van oordeel dat dit nie die mees fundamentele vraag was om te vra nie.
  • Die Allelon en MIWCP groepe het ʼn baie sterk verbintenis met Lesslie Newbigin en hulle beskou David Bosch se werk as rigtinggewend. Hulle is egter ongerus oor twee sake: Eerstens het die tipiese “Gospel in Our Culture” groepe Newbigin se erfenis ekklesiologies omgebuig in terme van institusionele selfbehoud. Tweedens word die uitdaging wat Newbigin aan die Weste gestel het, al hoe meer negeer. Dit kan tog nie, word geredeneer.
  • Oorvereenvoudig, maar nie sonder waarde nie, is dit duidelik dat ʼn deel van die kerk in die greep van armoede worstel met probleme soos die MIV pandemie en kroniese armoede se newegevolge terwyl ʼn ander deel van die kerk in die greep van welvaart worstel met individualisme, ʼn verbruikersmentaliteit en ʼn selfsugtige ingekeerdheid wat lei tot eensaamheid, vrees en ʼn diep hunkering na opregte verhoudings. Die kontrasterende werklikhede was veral duidelik uit die besprekings in die indaba groepe. Die groepe is saamgestel om so divers moontlik te wees en mens kon gevolglik die tema van die besprekings uit totaal verskillende gemeentelike en gemeenskapskontekste belig sien wat ongelooflik baie help om jou perspektief te gee op jou eie situasie en nadenke.
  • Die oggend in die Reformed Church of Zambia se Garden gemeente was in baie opsigte ʼn keerpunt. Die gemeente is in ʼn “shantytown” area. Die 540 lidmaat gemeente se kerk was feitlik dakloos, die ou dak se houtwerk en asbesplate het ingegee. Slegs omtrent ʼn derde van die dak het nuwe staalbalke en sinkplate gehad, al wat die gemeente tot daardie oomblik kon bekostig om te herstel. Die gemeente sorg vir meer as 100 MIV geïnfekteerde gesinne in die gemeenskap en het ʼn “Circles of Hope” bediening waar MIV positiewe mense gereeld saamkom en in ʼn bediening teenoor mekaar en hulle gemeenskap staan. Gelyke getalle van ons groep het met hierdie mense op ʼn koue oggend in die “oop-hemel” kerk na hul verhale sit en luister en daarna hulle aan huis gaan besoek. Hier was ʼn missionale gemeente wat van boeke oor die onderwerp nie veel geweet het nie, maar wat die Skrif in die verband van hulle konteks reg verstaan het.
  • Die inset van die Afrika groep en ons huidige en oud-studente was ʼn belewenis. Van Dr Japhet Ndhlovu se buitengewone leierskapvermoëns as voorsitter, tot die wyse waarop die groep die Westerse “assertiveness” of aggressie hanteer het, was ʼn leerervaring. Die Afrika groep het op kritieke oomblikke ʼn “time-out” gevra, as groep byeengekom, hulle eie standpunt formuleer en dit dan duidelik en onomwonde gestel. Die sessies was uiters vrugbaar en verhelderend en het beide respek en waardering van ons Westerse geloofsgenote ontlok.
  • Sonder om enigsins volledig te kan wees, kan die resultaat van die werkswinkel saamgevat word met verwysing na die feit dat Dr Ndhlovu hierna Afrika verteenwoordig in die sentrale organisasie, dat NetACT en die SAVGG die Afrika netwerk sal verteenwoordig en dat Communitas gekontrakteer is om deur die NetACT netwerk die ander Suider-Afrikaanse sinodes / gemeentes te help om hul eie missionale gemeente bewegings van stapel te stuur. Die Afrika verteenwoordigers was dit onder mekaar eens dat NetACT reeds in 2000, onder andere deur die keuse van sy naam en missie, die temas wat hier op die tafel was, as wesenlik geïdentifiseer het en daaraan begin werk het.

Twee slotopmerkings: sodanige besoeke lei elke keer tot ʼn toevloei van predikante en ander leiers wat verder kom studeer. Heelwat nuwe studente uit Afrika sal na hierdie besoeke registreer vir nagraadse studies. Die drie van ons kon op die lang kilometers deur Zambië, Botswana en Namibië diep en indringend gesels oor ons eie roeping, die roeping van ons kerk en fakulteit en die projekte en navorsing waarmee ons besig is. Dit was ʼn “bonding” ervaring soos min! Die olifante van die Chobe, die skoon waters van die Okovango delta en die oop vlaktes van Afrika voed mens se siel en bring jou soveel nader aan mekaar en jou Skepper!

Jurgens Hendriks, Frederick Marais, Xolile Simon.
15 Aug 2008.

Trackback from your site.

Leave a comment