{ARGIEF}

‘n Nuwe jaar… nuwe dinge… nuwe idees… nuwe moontlikhede… nuwe inspirasie en nuwe motivering. Ook vir ons betrokkenheid by Kix en Sonstraaltjies. Mag die inspirasie van die Heilige Gees jou vanjaar help om toegewyd te wees in jou bediening aan die jeug. Hulle is immers ons toekoms.
Die Kix-pirasie (‘n Kix-nuutskepping van Kix en inspirasie) onderaan hierdie bladsy kan gebruik word aan die begin van elke kwartaal om leiers/leidsters toe te rus.
Nadat ons die afgelope drie jaar die Bybel chronologies deurgewerk het met “God se groot storie met die mens”, het ons vanjaar egter ‘n nuwe invalshoek. In die eerste kwartaal (hierdie uitgawe van Kix.Kom) kyk ons na Vreemde Vroue stories; in die tweede kwartaal gaan ons hoor van ‘n Paar Prettige Profete stories; in die derde kwartaal hoor ons ‘n klompie Snaakse Dierestories en  in die laaste kwartaal kyk ons na ‘n paar Crazy Kinderstories. Klink interessant, nè?
Vanjaar gaan ons ver, ja regtig baie ver, betrokke wees met ons projek. Missie Japan is ‘n organisasie van ons kerk wat al langer as 45 jaar betrokke is in Japan (www.missiejapan.co.za). Deur ons projek “Jesus vir Japan” wil ons saam met hulle veral uitreik na die jeug van Japan. In ons projekles is baie inligting, asook die fondsinsamelingsmetode. Verder is daar by elke ontmoeting eers ‘n stukkie “spioentyd” waar ons meer oor Japan uitvind op ‘n baie interessante manier.
Indien jy nuut is by Kix of Sonstraaltjies en enigiets wil weet, skakel gerus die Jeugkantoor (021 808 9050).
Ons nooi jou nou al uit na ons groot Kinderbedieningskonferensie “Toegerus vir die Toekoms” op 11 en 12 September 2018. Hierdie is die een geleentheid vanjaar wat jy nie mag misloop nie! Teken solank die datums in jou dagboek aan; ons sal in volgende kwartaal se Kix.Kom al die inligting hê.
Mag die Here jou in 2018 op ‘n besondere manier gebruik in die kinderbediening!

Jeugkantoor info:
e-pos: jeug@sun.ac.za
telefoon: 021 808 9050

  • [listyofiles folder=”Dokumente/KIX_pdfs/2018-1ste-kwartaal”]