{ARGIEF}

met die fokustekste van die Leesrooster as basis

Een-en-twintigste week in Koninkrykstyd
2 November
Matt.23:1-12
Die grootste onder julle – bereid om te dien
Ysbreker
Wie is die grootste-in-karakter-mens wat jy altyd sal onthou en hoekom is hy of sy vir jou die grootste?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by jou God. Fokus op Hom. Terwyl jy binne stil word, dink aan iets waarvoor jy vanaand die graagste vir Hom dankie wil sê. Noem dit dan in jou stilte by die naam. Geniet die stilte, die Here se teenwoordigheid. Loof en aanbid Hom dan met liedere. Iemand kan afsluit met die Ons Vader.
Woord
Matt.23:1-12

  1. Lees die gedeelte in stilte met jou hart deur. Sien jouself as een van Jesus se dissipels wat Hom kan sien en sy stem hoor. Beleef die beeld van die skrifgeleerdes en Fariseërs wat hy skets. Kyk of jy jouself in die beeld raaksien. Hoor dan sy woorde: “Die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien…” Hoe laat dit jou voel?
  2. Wat leer Jesus die mense oor die Fariseërs en skrifgeleerdes se gesag? (Verse 2-3a)
  3. Wat is die skrifgeleerdes en Fariseërs se probleem? (Verse 3b-7) [vgl. ook Matt.11:28-30; Lukas 18:9-14] Hoe sien ons dit in ons eie lewe?
  4. Wat is belangrik in die Koninkryk? (Verse 8-12). Wie stel vir ons die voorbeeld?
  5. Raak nou stil by die Here en lees weer die gedeelte deur. Sien hoe die Here deur sy Woord jou lewe verander. Dink na oor die woorde: “Ons is die nie-veroordelende teenwoordigheid van God in hierdie wêreld”.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Vertel mekaar van die mooi dinge wat julle in mekaar raaksien. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Stel ’n aksieplan op van hoe die groep saam in hierdie week met Jesus se nederigheid bereid gaan wees om ander te dien.
Twee-en-twintigste week in Koninkrykstyd
Matt.25:1-13
Waak dan…
Ysbreker
Kan jy dink aan belangrike gebeurtenisse in jou lewe wat jy gemis het omdat jy uitgestel het of laat gekom het?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here jou God. Geniet die rustigheid en stilte in sy teenwoordigheid. Vra Hom om jou in jou stilte deur jou week te lei en probeer om saam met Hom plekke en tye te sien waar Hy besonder naby aan jou was. Praat in stilte met Hom daaroor. Loof en aanbid Hom dan met liedere. Iemand kan saamvat met Psalm 78:1-7.
Woord
Matt.25:1-13

  1. Lees weer die gedeelte biddend in stilte deur. Hoor sy stem. Beleef die gelykenis, hoe almal gereedmaak vir die koms van die bruidegom. Hoe hulle moeg raak. Die opgewondenheid wanneer jy hoor die bruidegom is op pad.
  2. Tien meisies, vyf verstandig en vyf onverstandig. Hoe verskil die twee groepe van mekaar en wat is die ooreenkomste? (Verse 1-5)
  3. Wat gebeur wanneer die bruidegom kom? (Verse 6-10) Hoe moet ons dit verstaan?
  4. Wat gebeur met die onverstandiges? Wat is die groot boodskap van die gelykenis? (Verse 11-13) Gesels oor die stelling: So baie mense, selfs gelowiges, leef asof die Here nie hier is nie, wat nog te sê van sy wederkoms.
  5. Raak stil by die Here. Lees weer die gedeelte deur en sien hoe die Here deur sy Woord jou lewe verander. Praat in stilte met Hom daaroor.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar dit wat die Here op jou hart lê om mekaar mee te versterk, vertroos en bemoedig. Deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Hoe kan die groep hierdie gelykenis gaan leef in die omgewing?
Drie-en-twintigste week in Koninkrykstyd
16 November
Matt.25:14-30
Mooi so!
Ysbreker
Het jy altyd in jou eksamen gedoen net dit wat nodig was of meer? Wanneer het jy die beste resultate gekry?
Lof en aanbidding
Kom tot rus by die Here. Maak jou oë toe en dink aan Hom wat in liefde na jou kyk. Ons beweeg deur hierdie dag. Vandat jy wakker geword het tot nou, waar was jy die meeste bewus van God? Dink oor die oomblik en laat dit tot diep in jou hart insink. Dink oor hoe jy Hom op hierdie oomblik ervaar. Sing dan vir Hom lof- en aanbiddingsliedere met die blydskap van iemand wat weet die Here is net hier teenwoordig.
Woord
Matt.25:14-30

  1. Lees weer die gedeelte in stilte deur. Lees dit biddend en laat die Gees jou deur die gelykenis begelei. Sien jouself in die gelykenis en beleef die verhaal.
  2. Die gelykenis gaan oor die Koninkryk. En dit word vergelyk met ’n man wat op reis wou gaan. Hy gee aan sy slawe goue muntstukke (Een = gelykstaande aan 15 jaar se inkomste – NT Wright). Hoe deel Hy dit uit en wat maak die slawe daarmee? (Verse 14-18)
  3. Wat gebeur wanneer die eienaar terugkom? (Verse 19-28) Hoe moet ons dit verstaan?
  4. Wat wil Jesus deur hierdie gelykenis vir ons leer? (Verse 29-30) [Kyk asseblief ook na p.230 in die Leesrooster Woord en Lewe]
  5. Raak nou weer stil by die Here. Sien Hom as die Een wat jou die muntstukke gee en jou daarmee vertrou. Sien hoe Hy deur hierdie gelykenis jou lewe verander. Praat in stilte met Hom daaroor. Rus by Hom.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Deel met mekaar die dinge wat julle in mekaar sien wat julle verryk. Bid dan vir mekaar se behoeftes.
Uitsending
Hoe kan ons as groep die komende week hierdie gelykenis gaan leef?
Vier-en-twintigste week in Koninkrykstyd
23 November
Matt.25:31-46
Ek was dors…
Ysbreker
Hoe wil jy graag hê dat mense jou moet onthou?
Lof en aanbidding
Kom tot rus in die teenwoordigheid van die Here jou God. Vra Hom om jou in die stilte te lei sodat jy Hom kan sien in die mense wat die afgelope week oor jou pad gekom het. Dink aan die mense wat jy ontmoet het. Gee julleself dan met lof- en aanbiddingsliedere aan Hom. Iemand kan die lof afsluit met die lees van Psalm 100 terwyl die res dit in hulle harte saambid.
Woord
Matt.25:31-46

  1. Lees die gedeelte weer in stilte. Beleef Jesus se woorde en sien jouself as die een wat dors of honger ens. was en sien ook die dors en honger mense wat oor jou pad kom terwyl jy die gedeelte lees.
  2. Watter toneel sien ons hier afspeel? (Verse 31-33) Moet ons iets leer uit die beeld van “skape en bokke”?
  3. Die skape aan die regterkant is eerste aan die beurt. Wat sê die Koning vir hulle? En wat is eienaardig aan hulle vrae “wanneer”? (Verse 34-40)
  4. Hoe verskil die bokke (aan die linkerkant) van die skape? (Verse 41-46)
  5. Waarmee wil Jesus hê moet ons in die tyd voor sy wederkoms besig wees? Waarmee is ons meestal besig? Raak stil en sien hoe die Here jou deur sy Woord verander.

Bedien mekaar
Draai 3-3 na mekaar toe. Waardeer mekaar eers en deel dan julle behoeftes met mekaar en bid vir mekaar.
Uitsending
Waarmee wil Jesus hê, moet ons as groep ons in die komende week gaan besig hou?
Adriaan Haasbroek, Lambertsbaai, a3aanh@telkomsa.net